Jy mag maar drool as jou nuwe kollega met die stywe boudjies by jou lessenaar verbystap, solank jy net na die spyskaart kyk en by die huis eet. Dis okay om ’n wit leuentjie te vertel oor hoeveel jou nuwe paar stewels gekos het, solank jy net oor “groot” goed die waarheid praat. Maar is dit regtig okay?
Bryan en Karla is vyf jaar getroud. Bryan dink niks daarvan om vir Karla te jok oor die hoë Internetrekening nie, maar meen dat dit baie verkeerd sou wees om by ’n prostituut te slaap. Karla jok op haar beurt oor wie haar elke aand SMS. Sy het ook nagelaat om hom te vertel van die sexy kollega saam met wie sy onlangs op die werk se spanbou sit en drankies drink het. “Dis doodonskuldig, ons is net vriende,” het sy onlangs teenoor ’n vriendin opgemerk. “Dit sal Bryan net onnodig seermaak en hom jaloers laat voel.”
Verkeerd is verkeerd, sê die teoloë
“Ons wil graag aanvaarbaar wees en goed lyk in ander mense se oë,” sê ds Dirkie van der Spuy, leraar by die NG-gemeente Moreletapark. “Daarom sal ons maklik probeer om die verkeerde dinge wat ons doen toe te smeer of vir mense weg te steek en dan te dink dat dit aanvaarbaar is. Pleks daarvan om te erken dat ons verkeerd doen, steek ons dit weg deur te jok oor wie gebel het, wat die rok gekos het, waar ons was, hoe lank ons daar was en na watter program of webtuiste ons gekyk het.”
Volgens ds Dirkie maak ’n mens maklik die onderskeid tussen “groot” en “klein” sonde. “Die Bybel maak egter nie hierdie onderskeid nie – sonde is sonde, ongeag hoe groot of hoe klein.” Hy gebruik die beeld van ’n gebreekte venster om hierdie begrip te verduidelik: ’n Mens kan ’n venster breek deur ’n baksteen daardeur te gooi of ’n klein klippie met ’n kettie daardeur te skiet.
“In die slaapkamer kan die argument wees dat om saam met iemand anders te slaap, meer verkeerd sou wees as om na ’n mooi vrou te kyk en haar te begeer,” sê ds Jannie Vosloo van die Afrikaanse Baptiste-gemeente op Parys. “Die verskoning kan wees: ‘Maar ek het niks gedoen nie’ of ‘Minstens het ek nie my vrou verneuk nie’.” Jesus het Sy verstaan hiervan gewys toe hy gesê het: “Maar ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” (Mattheus 5:28)
Groot sonde is gelyk aan groot gevolge?
“Sekere sondes het beslis groter gevolge as ander,” sê ds Dirkie. “As ons byvoorbeeld in ons gedagtes sou plek maak vir woede en haat, weet ander mense dikwels nie daarvan nie en kan ’n mens die skade slegs in jou eie lewe en gesondheid sien. As hierdie woede egter broei, kan ’n verkeerde woord, vuishou of rewolwerskoot daarop volg. Ons beskou dit dan as groter sonde omdat dit groter gevolge het.”
Prof Hennie Stander, ’n bekende skrywer en radiopersoonlikheid, verduidelik die gevolge van sonde met die beeld van ’n ketting: “’n Mens hang aan ’n ketting oor ’n afgrond. Dit is ’n baie ongewone ketting met groot en klein skakels. As een van hierdie skakels sou breek, stort die mens by die afgrond af. Dit maak nie saak of dit ’n groot of ’n klein skakel was nie, die gevolge is dieselfde. Dit is ook waar van die mens se toestand: Ons is verlore! Maar omdat Jesus ons straf gedra het, word ons gered as ons Hom as Verlosser aanneem. Dan word ons verhouding met God herstel en hoef ons nie meer krampagtig en benoud te wonder waar ons oortree het nie. Jesus se offer is genoeg om al ons sonde van die verlede én die toekoms uit te wis.
“Ons hoef nie meer in vrees te leef dat ons verkeerd gaan doen en dat God ons gaan straf nie. Jesus se offer maak dat God ons as rein en skoon sien. Omdat ons hiervoor dankbaar is, begeer ons om skoon te leef. Nou vermy ons nie die verkeerde dinge omdat ons bang is dat ons gestraf sal word nie, maar omdat ons God met ons lewens wil vereer. En dít maak ’n baie groot verskil.”
Integriteit is die antwoord, sê die seksuoloë
“’n Mens moet jouself afvra wat klein en groot sondes vir jou as individu beteken,” sê dr Wilmé Steenekamp, INTIEM-medewerker en seksuoloog. “Die antwoord hierop bevraagteken jou eie waardestelsel, jou konsep van vertroue en jou integriteit. Beskou jy dit as groot sonde om vir jou man te vertel van die kollega met wie jy baie persoonlike inligting deel? Dit handel hier oor die konsep van integriteit en dinge wat jy weet jou maat sal seermaak. Trek jou streep daarvolgens.”
Dr Wilmé verduidelik dat sommige mense meer gemaklik is met oper grense in hul verhoudings, maar dat die meeste mense se grense redelik eng is en “klein” oortredings hulle sal seermaak. “Alle gedrag wat grense oorsteek, hou die risiko in om die verhouding, asook ’n mens se eie selfrespek, skade aan te doen. ’n Mens moet dus weet wat in jou verhouding werk en bewus wees van die risiko’s voordat jy ’n stap neem.”
Vra jouself af: Wil jy die kans vat om jou maat se vertroue en respek en ook jou eie selfrespek te verloor? “Wanneer ’n mens net oor iets fantaseer, is jy besig om jou eie gedagtes te stimuleer, maar wanneer jy oorgaan tot ’n fisieke daad wat die verhouding skade aandoen, het jy ’n ander streep oorgesteek. Wanneer jy na pornografie kyk, wat gebeur met jou waardestelsel, integriteit en jou sin vir vertroue in jou verhouding met jou maat? ’n Mens moet self jou binnekant toets vir jou waardestelsel hieroor.”
Dr Etienne Kok, INTIEM-medewerker en seksuoloog, stel dit baie duidelik: “’n Leuen is ’n leuen en daar is nie grotes en kleintjies nie! Dit gaan oor respek en vertroue in ’n verhouding. Leuens lei tot wantroue en onsekerheid. Dit is ’n Bybelse, maar ook universele beginsel dat die waarheid jou vrymaak.”
Dr Etienne meen dit is beter om vir jou man te vertel van die sexy kollega wat by die werk met jou flirt. Jy kan sê: “Dit doen iets aan my en laat my goed voel, maar ek is lief vir jou en getrou aan jou, daarom reageer ek nie daarop nie.”
As jy niks sê nie, loop jy die gevaar om ’n kat-en-muis-speletjie te begin. “Dit is juis die ‘verkeerd’ en die ‘geheim’ van só iets wat dit opwindend maak en dit verder laat gaan.”
Wees positief, sê die verhoudingskenner
“Ons moet wegbeweeg van die idee van ‘sonde’ en meer positief wees met ’n benadering van openheid, eerlikheid en integriteit,” sê Elmari Craig, INTIEM-medewerker, huweliksberader en seksuoloog.
Elmari se wenke om hierdie beginsels prakties uit te leef:
1 Kom ooreen om ’n toegewyde, monogame verhouding te hê.
2 Vertel die waarheid oor alles wat met jou gebeur. Geen geheime nie!
3 Sê wat jy bedoel en bedoel wat jy sê.
4 Glo die beste eerder as die slegste van jou maat. Mense is geneig om jou mening van hulle uit te leef.
5 Onthou dat die persoon waarmee jy trou verdien om met net soveel hoflikheid as jou vriende behandel te word.
Heiligmaking
“Om skoon voor God te leef, word soms ‘heiligmaking’ genoem,” sê prof Hennie. “Dit beteken nie dat ek myself heilig maak nie. Heiligmaking is die werking van die Heilige Gees – God se Gees stel my in staat om toegewyd aan God te leef. Heiligmaking gebeur wanneer ’n mens die Heilige Gees toelaat om beheer te neem oor jou lewe.”
“As ’n mens jouself elke dag daaraan herinner dat Jesus klaar vir jou sonde betaal het, sal die begeerte toeneem om die Heilige Gees in beheer van jou lewe te plaas,” sê hy. “As ’n mens ’n hond leer dat hy eers mag begin eet wanneer jy sê hy mag, sal hy nooit na die kos kyk nie, maar jou stip dophou om te sien wanneer jy sê hy kan maar eet. Dieselfde geld vir ’n mens: As jy jou oë op die versoeking hou, sal dit só lekker lyk! Draai jou oë weg en kyk na God.”
Artikel deur Carien Grobler