Wanneer ’n huwelik voltrek word, kom twee unieke individue by mekaar. Dit is ’n dinamika wat terapeute vir ure besig hou! 

Promosie

 Hoe respekteer jy jou maat se identiteit en uniekheid, sonder om joune te verloor, vra Phoebe Fox op die webtuiste positive-way.com. Jy sien die kleurvolle verskille raak en onthou dat mense verskillende verhoudingstyle het. Doen die volgende toets en stel vas watter kleur is jou maat. Omkring die letter wat by elke groep die sterkste tot jou maat spreek.

  1. ’n Familiereünie word gereël. Jou maat is die een wat:

a) Die WhatsApp-groepie stig en seker maak almal is tevrede met hoe dinge gaan verloop.
b) Bly by sy/haar talente. (“Ek gaan nie poeding maak nie, want dis nie wie ek is nie!”)
c) Dadelik reageer op die boodskappe en vies raak as ander dit nie ook doen nie.
d) Met ’n reeks emoticons reageer en wag dat almal begryp wat hy/sy wil sê. 

  1. Op die dag van die reünie is jou maat die een wat:

a) Al die nuwe “skonies” aan mekaar voorstel sodat almal gemaklik voel.
b) ’n Bietjie ontsnap vir alleentyd. Hy/sy loop nie met die hart op die mou nie!
c) Seker maak die vuur word betyds aangesteek!
d) Dwarsdeur jou niggie se nuwe man sien. Hy is beslis ’n seksverslaafde!

Promosie
  1. As jou kollegas iemand moet beskryf, sal hulle sê jou maat is:

a) Iemand wat graag in groepe werk.
b) Die een wat altyd die nuwe kopieermasjien sal uitpluis vóór die res.
c) Die een wat aandring op ’n verhoging wanneer die res te bang is.
d) Altyd die praatwerk moet doen tydens ’n kantoorgeleentheid.

  1. As jul kinders stout was by die skool, wil jou maat hê hulle moet weet:

a) Dat hy/sy teleurgesteld is, maar vir hulle lief bly, ongeag wat gebeur.
b) Dat hy/sy beheer neem van die situasie en doen wat hy/sy kan om dit te beredder.
c) Presies hoe hy/sy voel oor hul optrede en die straf wat hulle gevolglik kry.
d) Dat hulle hom/haar nie kan flous, manipuleer of om die pinkie kan draai nie.

  1. In ’n boekwinkel sal jy jou maat kry:

a) By die soort boeke wat ’n komiese aanslag het.
b) By die tuinmaak-afdeling.
c) By leersame boeke wat jou maat se vaardighede verbeter.
d) By die woordeboeke.

  1. Die een woord wat jou maat die beste beskryf, is:

a) Harmonie.
b) Individualiteit.
c) Plig.
d) Vryheid.

 

Meestal A’s: PERS

Jou maat hou daarvan om in groepe te werk en is goed daarmee om konsensus te hê en koalisies te skep. Pers mense is goeie onderhandelaars. As jy vir jou maat sê wat vir jou belangrik is, is die kanse goed dat hy/sy dit sal onthou. Verwoord dus dít wat jy dink, voel en maak seker jou maat begryp jou liefdestaal.

Pers mense hou nie van konfrontasie nie en sal eerder onttrek, stilstuipe kry of ’n probleem bloot ignoreer. Só sal dinge broei voor dit kookpunt bereik en die bom bars! Probeer dus voortdurend gesprekke met jou pers maat inisieer.

Omdat pers mense so vrygewig is, kan hul goedheid maklik misbruik word – wees bedag hierop. Met al jou maat se fokus op ander mense, voel hy/sy dalk soms skuldig om hulself te bederf. Doen jý dit. Verras jou maat soms met ’n uitspattige geskenk!

Pers mense hou van humor, so as jy ’n moeilike boodskap het om aan jou pers maat oor te dra, dink aan ’n skerp manier om dit te sê, want ’n lagbui kan die ergste spanning verlig. Jy is gelukkig om met só ’n warm, omgeemaat getroud te wees.

Meestal B’s: GROEN

Groen mense hou daarvan om hul ding te doen en hul neuse uit ander se sake te hou. Stamp jy en jou maat koppe oor pligte in en om die huis? Dit neem hom ’n ewigheid om die gras te sny, maar as die grassnyer gebreek is, sal hy spring om dit reg te maak. Dit is waarskynlik omdat hy dit geniet om sy vaardighede te gebruik.

Sy weer hou niks daarvan om aandag te gee aan haar finansies nie, maar gee haar ’n tuinvurk en vra haar om ’n bedding te plant, en sy is in haar element – want sy kán dit doen en voel dat sy groen vingers het. Natuurlik ook omdat sy ’n groene is. Groen mense is lief vir die natuur en die omgewing. Jy kan nie verstaan waarom die hele tuin vol halwe Coke-houers (vir drupbesproeiing) staan terwyl julle ’n ordentlike besproeiingstelsel kan bekostig nie, maar jou maat het ’n hart vir herwinning.

As die hele familie kom kuier, sal jou maat alles in sy/haar vermoë doen om seker te maak almal kom goed oor die weg. Groenes sal enigiets doen om ’n rusie te vermy, maar vra hom/haar om jou te help om ’n probleem op te los en hulle is dáár!

Meestal C’s: ORANJE

Oranje mense hou van aksie! Hulle beplan eerder as om te wag dat dinge gebeur. Jou maat is waarskynlik ook hoogs kompeterend en kan aan jou bly karring tot jy ontplof! (Hy/sy kom bloot nie agter hulle druk jou verkeerde knoppie nie!) Jou maat hou nie daarvan dat jy beeldspraak gebruik nie en draai nie doekies om nie. Met hom/haar weet jy altyd presies waar jy staan.

Omdat jou maat só verantwoordelik is en sy/haar werk so ernstig opneem, kan dit soms voel asof dít wat hulle van jou verwag bomenslik is. Jou maat is baie krities op ander mense, maar kom nie agter dat hy/sy self ook foute het nie. Soms is dit jou taak om dinge vir hom/haar ’n bietjie in perspektief te plaas. Jy is jou maat se nugterheid, maar omdat hy/sy so sensitief is, maak seker jy leer jou maat dat ander mense ook menslik is en deel die kritiek wat jy moet deel op ’n sagte manier.

Jou maat kan baie intimiderend voorkom, maar jy kan veilig voel by hom/haar omdat hul lojaliteit geen perke ken nie. As iemand ’n skewe woord oor jou sê, kan jy maar weet dat jou maat jou met elke greintjie lojaliteit in hom/haar sal beskerm! Jou oranje mens is ’n staatmaker.

Meestal D’s: PIENK

Ag, jou maat is een van daardie mense wat met almal oor die weg kom – veral omdat dit vir hom/haar belangrik is om ander goed te leer ken. Jy voel soms skoon hulpeloos met jou pienk maat se goeie konflikhanteringsvaardighede. Hy/sy doen waarlik moeite om agter die kap van die byl te kom as ’n konfliksituasie hom voordoen en luister waarlik na jou hart voor hy/sy opsies bied vir hoe om die situasie te beredder.

Een van die waardevolste eienskappe van jou pienk maat is dat hulle sal veg – vir die huwelik! Selfs al benadeel dit hom/haar. Eintlik is pienk mense waarheidsoekers. Hulle ego’s is nie broos nie en hulle ervaar nie dinge persoonlik wat nie op hulle van toepassing is nie. Jou pienk maat vergewe ook maklik en sal nie sommer ou koeie uit die sloot grawe nie. Dit voel waarskynlik soms vir jou asof jou pienk maat reg deur jou kan sien (foute en al!).

Boonop is jou pienk maat ’n spreker wat vlot kan praat en goed kan skryf. Hulle blaas lewe in enige gesprek! Self kan jou maat maklik verveeld raak met roetine, so maak seker jy hou jul huwelik en sekslewe opwindend met verrassings en nuwe idees. Jy is ook dalk die nugter anker in jul verhouding en moet help om jou maat aarde toe te bring en sy/haar kreatiewe energie te balanseer.

Hoewel dié dinge jou kan help om jou maat beter te verstaan, is dit onmoontlik om hom/haar in ’n boksie te druk. Elke mens is steeds uniek. Om jou maat se uniekheid te verstaan, help jou om beter te vergewe. Probeer in jou maat se skoene staan en doen elke dag moeite om jou maat nóg ’n bietjie beter te verstaan. Onthou, dit is juis in tawwe tye wat verhoudings getoets word.

 

Addisionele bron:

© 1996-2011 The Positive Way, Steven Martin, Catherine Martin. All rights reserved. Used with permission, www.positive-way.com, not for publication on the Internet.