Daar is verskeie elemente waarsonder ’n gesonde huwelik nie kan funksioneer nie. Jy het al van hulle almal gehoor – kommunikasie, vertroue, eerlikheid . . . en geloof. God raak opgewonde oor jou huwelik! Hy het soveel planne vir jou en jou maat.

Promosie

Die huwelik is so oud soos Adam en Eva. As jy in ’n kerk of kapel getrou het, kan ’n mens seker aanneem dat jy ’n Christen is en daarom jou huwelik op Christelike beginsels bou. Of kan jy?

Gelowige paartjies het verskillende beskouings oor watter rol geloof in hul huwelike behoort te speel. Vir sommige paartjies is geloof onlosmaaklik deel van hul huweliksverhouding en verweef met alles wat hulle doen. Hulle aanbid saam en neem geen besluit sonder om eers God se wil daaroor te vra nie. Ander paartjies is wel gelowig, maar sien hul geloof en huwelik as twee verskillende entiteite. As laasgenoemde júlle is, wil ons ’n beroep op julle doen om te heroorweeg.

Sien, hier is ’n paar boodskappe wat die groot Ontwerper van huwelike aan julle wil oordra:

Promosie

1. “Ek is almagtig en die Hoof van jou huwelik.” Die huwelik was Sy idee, Sy plan en daar is ’n baie belangrike rede waarom jy en jou maat bymekaar gevoeg is. As julle op ’n moeilike plek in jul huwelik is, kan julle elke huweliksgids wat beskikbaar is opslurp, julle kan huweliksberaders besoek en julle kan elke tienstapplan tot ’n beter huwelik volg, maar sonder Hom kan geen huwelik gered word nie. Hy wil julle dus daaraan herinner dat Hy almagtig is en dat dit in Sy vermoë is enige huwelik uit die diepste gat te red – in ’n oogwink.

2. “Ek wil hê julle moet mekaar se gelyke helpers wees.” Dit is een van die eerste dinge wat God ons in Sy Woord beveel om te doen (Gen. 2:18). Dit beteken dat God jou maat vir jou gestuur het om jou helper te wees. God het van die begin af geweet dat een mens dit nie kan doen nie. Staan langs jou maat as ’n ondersteuner wat hom/haar komplementeer waar nodig, sodat elkeen van julle jul potensiaal optimaal kan bereik. Die woord “helper” is geensins ondergeskik in waarde nie – inteendeel. Wees ook jou maat se kameraad en bly emosioneel intiem met mekaar. Maak dus gehaltetyd ’n belangrike deel van jul huwelik. Date night is ’n goeie idee!

3. “Ek wil ’n eenheid sien tussen ons drie.” Net so graag soos wat God wil sien hoe jy en jou maat saamstaan en as een funksioneer, soos Hy in Sy Woord opdrag gee, net so graag wil Hy deel vorm van jul eenheid. Julle is dus ’n driehoek, met God aan die bopunt van jul eenheid. Hy wil hê julle moet weet dat julle sáám ’n wonderlike huwelik kan hê, mits julle Hom eerste stel en saamwerk as ’n span. Dink aan Hom as die bopunt van die driehoek en julle twee as die twee ander punte. Hoe hoër julle boontoe beweeg, hoe nader beweeg julle vanselfsprekend aan mekaar. Is dit nie ’n wonderlike beeld om aan vas te hou nie?

4. “Daar is ruimte vir die ooreenkomste en verskille waarmee Ek julle geskep het.” Dink aan die dae toe jy en jou maat mekaar nét leer ken het. “My gunsteling sjokolade is óók ’n Lunch Bar!” het jy verbaas gesê (asof dit die grootste teken nóg vir jul toekoms saam was!). Maar sy kalmte het jou ook aangetrek, omdat jy van nature ongeduldig is en vinnig vlamvat. Onbewustelik het jy geweet hierdie man sou jou kon uitkanselleer en dat hy rustigheid in jou onstuimige binnewêreld sal bring. Volgens Ps. 139:14 in die Skrif (Engelse vertaling) is ons “fearfully and wonderfully made” – elkeen met sy/haar unieke talente en persoonlikhede. Ons is nie klone van mekaar nie en dis juis hoe God ons geskep het. Daarom is botsings, verskille en konflik onvermydelik, maar daarmee saam ook wonderlike geleenthede vir groei. Ken jouself en jou maat, en gun mekaar die vryheid om as individue en as ’n paartjie te groei.

5. “Julle is alreeds oorwinnaars deur die krag wat Ek julle gee.” Elke paartjie gaan deur moeilike tye. Miskien was julle al plat teen die grond. Miskien het julle van die hand na die mond geleef of saam ’n verskriklike traumatiese ervaring beleef, wat julle plat teen die grond gesmyt het. Elke paartjie beleef uitdagings – hetsy finansieel, fisiek, emosioneel of geestelik. Onthou egter een ding: Julle is nie slagoffers nie, maar reeds oorwinnaars wat tot alles in staat is deur Hom wat julle krag gee (Fil. 4:13). Staan saam op en hou hande vas met hierdie wete.

6. “Selfs al voel jy eensaam reg langs jou maat, is jy nie alleen nie.” Daar is mense wat sielsongelukkig in hul huwelike is. Dalk weet die wêreld hiervan, dalk nie. Dalk weet selfs nie eers jou maat hoe ongelukkig jy is nie. Dalk voel jy soos ’n alleenloper, selfs al is jy getroud. Dalk is jy eensaam, selfs al sit jou maat reg langs jou. En dalk is julle albei só stoksielalleen in jul saamwees omdat julle verbete veg om die brokstukke van ’n affair op te tel of sukkel om emosioneel met mekaar kontak te maak. Dit kan jou magteloos laat. Onthou egter dat God by jou en jou maat staan en jul diepste seer sien. Hy wil julle gee wat jul harte begeer – een hiervan is ’n gesonde, wonderlike huwelik. Laat Hom toe om dit te doen deur Hom te erken as die Redder van jou huwelik.

7. “Bid tot My en vergewe mekaar.” Bid vir jou huwelik. God wil hê dat jy alles met Hom moet bespreek en jou huwelik aan Hom moet opdra. Bid saam met jou maat vir jul huwelik. Dit is ’n wonderlike, intieme tyd saam met mekaar en saam met Hom. Lees gerus weer Mat. 18:19-20 hieroor. God wil ook hê dat julle mekaar vergewe. En elke huwelik vereis vergifnis – elke liewe dag!

8. “Dra mekaar se laste.” God wil hê ons moet die wêreld vir mekaar ligter maak. Hy wil hê dat jy vir jou maat ’n sagte landing moet wees en hom/haar ten alle tye moet laat besef dat jy aan sy/haar kant is. Ja, ons sal uitdagings hê. Oorwin hierdie uitdagings saam met jou maat en moenie toelaat dat die uitdagings jou huwelik oorheers nie.

9. “Intimiteit is belangrik in jou huwelik.” In die harwar van die lewe is dit maklik vir intimiteit om agterweë gelaat te word. Daar is stres, woede, seergemaakte gevoelens en ’n besige roetine. Maar tussen al hierdie dinge is dit belangrik om intimiteit ’n belangrike plek in jou huwelik te gee. God wil hê dat julle die vonk lewendig moet hou. Lees 1 Kor. 7:5.

10. “Praat mooi met mekaar.” As jy gefokus is op Christus, kan dit jou manier van kommunikasie met jou maat positief beïnvloed. Kommunikasie in enige huwelik is soms ’n uitdaging. Om jou woorde te tel in die middel van ’n argument, om nie die laaste sê te wil hê nie, om nie te weier om te luister nie. Jakobus 1:19-20 gee jou egter riglyne vir kommunikasie, wat kan bydra tot die huwelik wat God tussen julle wil sien.

www.buildyourmarriage.org, www.covenantkeepers.org, www.focusonthefamily.com, www.abideandseek.com.