Vergeet van die rooiwyn en sjokolade… Soms is die heel beste soort seks daardie onbeplande sessies waar hy jou op die ingewing van die oomblik beetkry en dringende begeertes voorkeur kry bó voorspel!

Stel jou dié strokiesprent voor: In die eerste blokkie staan Sally en maalvleis braai vir ’n lasagne wat sy besig is om voor te berei vir ’n skool-fondsinsameling. Sy het haar sweetpakbroek aan (wat teen dié tyd ’n paar oliekolle wys) en haar hare is in ’n deurmekaar bolla op haar kop vasgemaak.

In die tweede blokkie kom Hein huis toe. Hy is ná werk gimnasium toe en het gou ’n muurbal-game deurgewerk. In die derde blokkie sit die twee kinders met badkryte en skribbel teen die badkamerspieël.

Blokkie 4: Hein stap in die kombuis in, gee Sally een kyk en trek haar aggressief nader terwyl hy haar vol op die mond soen en teen die yskas vasdruk. Sally voel-voel met haar een hand waar die pan op die stoof staan en stamp dié van die plaat af terwyl sy Hein hartstogtelik terug soen.

Promosie

Blokkie 5: Ná drie minute gaan die oond se timer af… maar dis nie al nie. Hein hou sy hand voor Sally se mond om haar kreet effens te demp. En in Blokkie 6 pluk Sally haar sweetpakbroek aan terwyl daar in die dinkwolkie staan: “Dit was A-M-A-Z-I-N-G.” Hein hardloop op met die trappe om die kinders te groet en in sý dinkwolkie staan: “Yeah! Hoekom doen ons dit nie meer nie?”

Doen dit net!

In die werklike lewe val getroude paartjies gereeld oor hul simpel verskonings soos speelgoed op die vloer. “Ek het nie tyd nie” of “Ek voel nie mooi nie” of “Wat van die kinders?”. Wel, as jy nie spesifieke verwagtinge van seks het nie en soms net gaan met onbeplande, wilde ingewing-van-die-oomblik-seks, het jy nie noodwendig tyd nódig nie! Jy hoef nie altyd mooi te voel nie! En die kinders hoef nie altyd ’n issue te wees nie.

Kenners meen dat getroude pare meer dikwels die Nike-slogan hul eie behoort te maak. Hou op tob en kerm en… just do it! Die media kondisioneer ons om te glo dat seks met sagte beligting, ragfyn onderklere en sensuele voorspel gepaard moet gaan. Hoewel dié soort seks wel ’n plek het, is dit nie ’n voorvereiste nie! Inteendeel… elke paartjie het van tyd tot tyd wilde, rowwe, onbeplande “no strings attached and no foreplay required” seks nodig! Soos ons oerouers dit gedoen het…

Dit is waar dat sodra die kinders kom, geskeduleerde seks ook ’n belangrike rol speel, maar aardskuddende oerseks is soms soveel minder gekompliseerd en makliker om te laat realiseer!

Hoekom is dit goed vir julle?

In langtermyn-verhoudings of huwelike gee hierdie soort seks jou ’n flashback van jul eerste dae as ’n getroude paartjie. Dit herinner jou aan hoe goed die seks was en dat julle dit steeds in julle het! Maar hierdie soort seks is nie net so oppervlakkig soos dit klink nie. Ja, daar is nie noodwendig ’n lang soenery en die streel van hare by betrokke nie, maar dit verg intimiteit om jou maat toe te laat om jou te sien in die hitte van ’n passievolle oomblik waarin jy alle inhibisies oorboord gooi. Dit klink dalk dierlik en lyflik, maar speel ’n belangrike rol in die skep van intimiteit.

En ja, soms val just do it-seks in die quickie-kategorie, maar nie noodwendig nie. Hy stroop jou klere wel van jou lyf af sonder om ’n sonnet voor te dra oor hoe mooi jou borste vir hom is, maar dringende seks is tog ook romanties… met ’n twist. Onvoorspelbaarheid ís romanties. So, dit is ’n interessante afwisseling op wat die meeste getroude paartjies aan die gang hou – maintenance-seks.

Sewe wenke vir just do it-seks!

  • Soms is een kyk genoeg. Een kyk wat sê: “Nóú wil ek jou hê!” So, moenie voorspel beperk tot uitgerekte sessies tussen die lakens nie…
  • Jy hoef nie altyd die prooi te wees nie. Soms hou mans van ’n goeie meisie wat stout word! Neem die voortou (dink tierwyfie in plaas van sekskatjie)!
  • Die lekkerste van hierdie soort seks is die verrassingselement. Maak beurte om mekaar met dié soort seks te bederf.
  • Gooi al jou inhibisies oorboord. Vergeet van die vuil vloer, die vet boerboel wat vir julle sit en staar en jou ongeskeerde beenhare…
  • As die kinders nie by die huis is nie, gil en skreeu! Dis ook ’n manier om van jou inhibisies ontslae te raak en ’n groot turn-on vir manlief.
  • Maak seker jy los nie merke nie, maar knibbel en byt jou maat op erogene sones soos die elmboë, enkels, maag en binnebene.
  • Doen dit vinnig en behóórlik. Vat ráák in plaas van om ligweg te streel. Beweeg vinnig en doelgerig. In ’n wilde Nike-sekssessie is daar nie plek vir pieperigheid nie!

 

Deur Annelize Steyn
Bronne: redbookmag.com, yourtango.com, missionwife.wordpress.com