Hy is ’n beeld van ’n man. Hy is aan die brand vir die Here en hy weet presies hoe om met ’n bos oranje rose en ’n goeie love song jou knieë jellie te maak. Maar jy wonder . . . gaan die seks goed wees? En moet jy eers uitvind voor jy hom jou lewenslange bedmaat maak?
Lita en Dewald gaan al drie jaar lank uit. “Die vry gaan ver, maar nooit verder as wat dit moet nie,” bieg Lita. Hy is definitief die man met wie sy wil trou en aan haar lysie van kriteria voldoen hy 100%. Van die begin af het sy vir Dewald gesê dat sy ’n maagd wil bly tot op haar troudag en sy weet dit is nie té ver nie, want hy het haar nou die dag baie subtiel oor trouringe uitgevra . . . maar die laaste paar weke het iets verander. Daar is ’n onrustigheid in hul verhouding en gisteraand het Dewald haar uitgeboul met sy woorde. “Dink jy nie ons moet dinge maar verder vat nie?” het hy vir Lita gevra ná ’n warmbloedige soen. “Wat as ons eendag trou en ons kom na die tyd met ’n skok agter dat ons actually nie sexually compatible is nie?” Op daardie oomblik was Lita woedend, maar dit het haar ook aan die dink gesit. “Jy hoor só baie in flieks dat iemand sê ‘sy was nie goed in die bed nie’. Hoe weet ek of ek goed gaan wees in die bed? En hoe weet ek of ek en Dewald ooit saam vonke in die slaapkamer sal sien spat?” Wat as sy en Dewald verloof raak, trou en dan ontdek dat dinge in die bed net nie wil jel nie, wonder Lita.
“Jy moet jou potensiële huweliksmaat eers test drive voor julle trou om seker te maak julle is sexually compatible.” Dit is ’n argument wat baie jongmense deesdae gebruik om voorhuwelikse seks mee te regverdig. En, wanneer ’n mens ongetroud is, maak dit dalk vir jou sin. Dit is erg om te dink jy moet jou hele lewe lank met net een persoon seks hê en dit nie geniet nie – na alles, enigiemand begeer ’n leeftyd se góéie seks. Maar wat is “goeie” seks? Hier is die goeie nuus . . . dit gaan nie oor sentimeters en grootte en die posisionering van ledemate nie. Goeie seks is om binne die perke van ’n liefdevolle verhouding wat onder God se seën rus, vol vertroue jou lyf met oorgawe te deel. As jy passievol lief is vir jou maat en hy is passievol lief vir jou, is die kans op slegte seks minimaal!
Die sekskenner en skrywer Laura M Brotherson sê: “Seksuele versoenbaarheid is nie iets wat jy kan ‘toets’ deur iemand vir ’n proeflopie te neem nie. Verder is ’n seksuele verhouding buite die huwelik nie ’n akkurate toonaangewer van wat die seksuele verhouding binne die huwelik in elk geval sal wees nie,” sê sy. “Die huwelik is eiesoortig ontwerp as ’n verhouding van toewyding – van hart, verstand, liggaam en siel . . . die huwelik is ’n verrassingspakkie. Jy weet nooit regtig wat jy gaan kry nie. Maar selfs mét sy verrassings voorsien die huwelik ’n geleentheid en ’n verantwoordelikheid vir mans en vroue om saam te leer en seksueel te groei soos wat hulle hulself toewy aan die ontwikkeling van dié belangrike dimensie van die huwelik.”
Hier is ’n paar dinge wat jy dalk nie weet nie . . .
GEHEIM NOMMER 1: Seks is nie staties nie
Wanneer jy voorhuwelikse seks met die begrip “seksuele versoenbaarheid” probeer regverdig, beteken dit dat seks in jou oë stagnant is. Dat jou seksuele vermoë iets is wat aan jou toegedeel is, soos ’n arm of ’n been of bakore. Dat jy jou pakkie gekry het en daarmee opgeskeep sit en nou moet soek vir daardie maat wat met presies dit tevrede is. Die wonderlike waarheid is egter dat jou seksuele vermoë soos goeie wyn is. Dit verbeter met die ouderdom! Vanselfsprekend leer ken jy jou maat beter, jy leer ken jou lyf beter en jy raak meer gemaklik daarmee om ongemaklikhede uit te praat. Hoe vervelig sou dit wees as die slaapkamerklimaat altyd dieselfde temperatuur was! Natuurlik is daar tye wat die temperatuur effens daal en dit is juis dan dat jy veranderinge moet maak om meer compatible met mekaar te wees.
GEHEIM NOMMER 2: Goeie seks hou nie verband met liggaamsbou nie
As jy jou maat wil toetsbestuur, beteken dit dat dít wat op die oppervlak vir jou duidelik is, nie vir jou genoeg sê van wat onder sy klere aangaan nie. En komaan! As jy enigsins al iets oor seks gelees het, sal jy weet dat kenners beweer grootte maak nie saak nie. Liggaamlik is enige man en vrou seksueel versoenbaar. Kenners meen dat solank hy ’n penis het en jy ’n vagina, julle seksueel versoenbaar is! Ons waarborg jou. Die wonderlike geheim is dat jy bó die lakens heelwat kan leer van hoe dit onder die lakens sal gaan. Is jou aanstaande saggeaard, onselfsugtig, selfversekerd en geduldig? Maak jou reg vir groot pret en plesier in die kooi!
GEHEIM NOMMER 3: “Compatibility” wissel van dag tot dag
Miskien is dit goeie nuus en miskien slegte nuus. Die feit dat julle nou ’n barshou vry, beteken nie dat julle elke dag in julle getroude lewe Bold and the Beautiful-seks gaan hê nie! Jou raakvat-ridder is vandag dalk een honderd persent die teenoorgestelde as wat hy môre gaan wees. En dit bevestig net ons stelling dat seks maar min met die lyf te doen het. As jy aan PMS ly, gaan jy tien teen een ook nie die Hello Kitty wees wat jy weet jy op ander dae kan wees nie! Daar gaan dae wees wat die hitte taan en die seks maar bra vaal raak. Wat jy dan nodig het, is ’n maat saam met wie jy geduldig dinge kan deurwerk om weer op dieselfde vlak van versoenbaarheid te kom.
GEHEIM NOMMER 4: Voorhuwelikse seks is ’n onbetroubare toets
Toetsbestuur nóú jou lewensmaat en jy kan dalk erg teleurgesteld wees ná die huwelik. Die realiteit is dat buitehuwelikse seks heel anders is as “getroude seks”. Die hele raamwerk waarbinne julle dit doen wanneer julle getroud is, verskil en dra by tot die algehele ervaring van seks. As die realiteite van rekeninge en kinders julle tref, kan jou voortreflike seksmaat verander in ’n moeë huismaat. Die teenoorgestelde is ook waar. As jy nou besluit om jou maat te toetsbestuur, kan jy ’n potensiële vuurwarm seksmasjientjie deur jou vingers laat glip, want soveel mense floreer in ’n huweliksverhouding waar sekuriteit en vertroue hulle toelaat om hulself te wees. Jou “toets” is dus allesbehalwe betroubaar!
GEHEIM NOMMER 5: Seksuele versoenbaarheid is ’n potplant
Een wat versorg, vertroetel en gevoed moet word. In sy rou vorm (wanneer julle die eerste keer seks het) is daar net die saadjie. Elke saad lyk dieselfde en bied dieselfde, maar daardie saad het die potensiaal om in ’n florerende rankplant te ontwikkel wanneer dit aandag kry. Dit maak nie saak wat Hollywood sê nie – niemand spring vir die eerste keer in die bed en sug ná die tyd van ongelooflike mind-blowing seks nie! Die rede hiervoor is, die eerste keer as jy seks het, praat die lywe. Dit is eers wanneer die harte begin saampraat dat seks ’n buite-liggaamlike ervaring word en dit is waar ekstase ter sprake kom!
So, wat is die slotsom?
Op die webtuiste multnomah.edu/blog skryf Garry Friesen, ’n teoloog en leraar, dat hy verskeie briewe kry van mense wat die boek “Decision-making and the will of God” gelees het. Toe ’n jong meisie in 2010 aan hom gevra het hoe ’n paartjie moet vasstel of hulle seksueel versoenbaar is sonder om voorhuwelikse seks te hê, het hy sy skryfmaat Robin Maxson (wat tans besig is met ’n boek getiteld “Singleness, marriage and the will of God”) gevra om haar vraag te beantwoord en hy het dit uitstekend saamgevat.
Eerstens skryf hy dat die voorafbepaling van seksuele versoenbaarheid in die huwelik onmoontlik is. “Dit is omdat ’n paartjie nie al die elemente wat met getroude seks gepaard gaan, kan ervaar sonder om getroud te wees nie! ’n Man en vrou kan miskien bepaal of hulle in staat is daartoe om ’n gedeelde sielkundige reaksie te kry deur voorhuwelikse seks, maar deur dit te doen, word kernelemente van die huweliksverhouding se seksuele versoenbaarheid uitgesny – veral vertroue en sekuriteit. Met ander woorde, deur seksuele versoenbaarheid voor die huwelik te ondersoek deur seks te hê, kan veroorsaak dat seksuele versoenbaarheid in die huwelik moeiliker bereikbaar is. Getroude seks behels ’n misterieuse resep van al die bestanddele wat nodig is vir ’n een-vlees verhouding – emosioneel, spiritueel en fisiek. Daardie omgewing kan nie buite die huwelik nageboots word nie.”
Tweedens, vertel Robin, was dit nog nooit nodig om seksuele versoenbaarheid vooraf vas te stel nie. In baie kulture is gereëlde huwelike die norm en selfs in hierdie gevalle ervaar paartjies seksuele bevrediging. ’n Indiërman wat sy vrou nooit ontmoet het voor sy troudag nie, het opgemerk: “Ná sewe jaar se getroude lewe, dink ek ons het ’n gelukkiger huwelik as die meeste paartjies waarvan ons in die Weste hoor. Ons sit koue sop op die vuur en stadig word dit warm – julle plaas warm sop op ’n koue plaat en stelselmatig word dit koud. Julle trou met die vroue wat julle liefhet. Ons word lief vir die vroue waarmee ons trou.” Seksuele versoenbaarheid is dus nie iets wat bestaan nie, maar iets wat ontwikkel word. “Julle kan dalk wegspring met ’n sterk aangetrokkenheid,” vertel Robin, “maar ware versoenbaarheid is ’n daad van ‘een vlees’ word oor ’n tydperk. Dit klink miskien simplisties, maar die proses is amper dieselfde as om te leer fietsry. Vir die meeste onervare pasgetroudes, begin die hele storie ietwat ongemaklik (maar opwindend). Om dinge uit te werk oor ’n tydperk is groot pret. En deel hiervan is om te leer hoe om werklik liefde aan mekaar te betoon.”
En hier kom die kruks van die saak, in Robin se woorde: “Hier is my belofte: Jy kan die Skepper se ontwerp vertrou. As jy ’n man kry wat geestelik volwasse is, tot wie jy aangetrokke voel deur ’n magdom eienskappe waarna jy in ’n man verlang, met wie jy ’n sterk vertrouensverhouding het en daar is aantrekkingskrag en sekuriteit, gegrond op ’n gevestigde vriendskap met ’n man wat regtig met jou getroud wil wees, sal die seks vir homself sorg.” Robin sê hy stem heelhartig saam met die skrywer wat gesê het: “Jy kan alles leer wat jy moet leer oor seksuele versoenbaarheid deur middel van ’n soen.” Hy meen dat julle op die regte pad is as ’n soen maak dat julle meer begeer.
Ook Laura kyk anders as die meeste jongmense na die begrip “seksuele versoenbaarheid”. Volgens haar gaan elke huwelik deur fases van versoenbaarheid en is dit normaal vir ’n paartjie om te verskil oor die gereeldheid van seks, die variasie en soms die prioriteit wat dit in die huwelik geniet. “Om daardeur te werk, is deel van ’n huwelik se avontuur,” meen sy. Omdat mans en vroue verskillend “bedraad” is, is seksuele onversoenbaarheid soms onvermydelik. Die vraag is of julle dit in mekaar kan verstaan en veranderinge en aanpassings kan maak daarvolgens.
“Die cool ding is dat seksuele onversoenbaarheid kan verdwyn soos wat paartjies deur hul verskille werk en saam ’n intieme verhouding opbou,” sê sy. “Dit is nie die paartjie se verskille nie, maar eerder wát hulle daarmee doen, wat saak maak.” In haar oë is seksuele versoenbaarheid aangeleerde gedrag – iets wat met tyd, moeite en baie oefening binne die huwelik na vore tree. Dit is ons plig om binne ’n huwelik opgevoed te word, gewillig te wees en in staat daartoe te wees om seksuele kwessies en voorkeure te bespreek en om potensieel uitdagende, persoonlike aanpassings te maak om weg te doen met daardie ‘seksuele onversoenbaarheid’. Deur die feit te aanvaar dat seksuele onversoenbaarheid soms onvermydelik in ’n huwelik is, kan ons ons energie verskuif van ongelukkigheid daaroor na pro-aktiwiteit om die situasie te verbeter.” (hitchedmag.com)
Die skrywer van ProjectMOnline, Katherine Quiring, skryf dat die kwessie van seksuele versoenbaarheid van die begin af vir haar en haar man heeltemal irrelevant was. “Ons was bereid om dit te laat werk, dit maak nie saak wát ons oor onsself en mekaar sou leer ná die huwelik nie. Ons het nie nodig gehad om die ‘waters te toets’ voor ons ingespring het nie, want ons was vasberade om te swem, kom wat wil.”
Katherine het ’n punt beet. Maak miskien eerder seker dat jy en jou potensiële lewensmaat dieselfde idee van ’n huwelik het. Deel julle dieselfde vlak van toewyding? Het julle dieselfde doel in sig? Sal julle veg en sal julle praat? Want as al daardie dinge in plek is, is ’n orgasmiese-vonkspattende-fastastiese-buitelyflike sekslewe slegs ’n seremonie (en ’n paar oefensessies) ver . . . want eindelik is dít wat buite die lakens gebeur jou beste aanduiding van hoeveel sterre onder die lakens gaan verskiet.
Artikel deur Annelize Steyn
***
Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!