Soms werk ‘Roses are red, violets are blue . . .’ net nie so lekker nie. Jy het ’n sterk behoefte om jou liefde soos die groot geeste van ouds te verwoord, maar waar begin ’n mens? En hoe voeg jy so ’n bietjie hedendaagse rissies by jou liefdesbrief?

Promosie

’n Liefdesbrief is ’n klassieke manier waarop jy jou liefde kan verklaar, en aangesien dit al honderde jare praktyk is en nog nooit uitgesterf het nie, móét dit werk? Jy het die volgende nodig:
• Papier (verkieslik nie die soort met die rooi harte op nie – dit is voor die handliggend en kan erg kitch lyk).
• ’n Pen (maak seker dit werk, sodat daar nie lelike skribbelmerke op jou brief is nie).
• Verbeelding (en ’n tikkie fantasie!).

So gaan jy te werk . . .
’n Liefdesbrief kan so persoonlik wees soos wat jy dit wil maak. As jy vir hom ’n brief wil skryf wat jy net sowel in die openbaar sou kon lees, goed so. As jy iets wil skryf wat nét hy in die slaapkamer mag lees (verkieslik as jy nie by is nie), dan is dit ook reg – eintlik beter! Jy moet skryf waaroor jy voel, wat jy dink en waarvan jy hou. Jou brief kan blomryk en poëties wees, of eenvoudig en direk. Natuurlik hang dit van jou persoonlike styl af en wil jy nie soos ’n vreemdeling klink nie (tensy jy dit byvoorbeeld van die ‘liefdespolisie’ af aan hom rig!) .

Daar’s verskeie style . . .
Daar is verskeie style vir ’n liefdesbrief– dit kan so mak of wild en eroties wees soos wat jy graag wil hê dit moet wees. ’n Liefdesbrief kan so eenvoudig wees soos: ‘Ek is lief vir jou en ek dink aan jou, xxx’. Of dit kan ’n erotiese, sexy brief wees wat jou maat presies vertel wat jy graag met hom wil doen, hoe lank jy dit met hom wil doen en hoe dit hom gaan laat voel . . .
As jy ’n historiese liefdesbrief wil skryf, kan jy uitbrei oor hoe julle ont¬moet het, wanneer jy besef het hy is die een vir jou en hoe lekker jul troudag was. Jou liefdesbrief kan ook futuristies wees deur met hom te gesels oor jou drome vir die verhouding en die plekke wat jy graag saam met hom sal wil besoek.

Promosie

Die ontvanger
Jou liefdesbrief gaan oor jou lewensmaat en oor hoe jy oor hom voel. Wees eerlik en spesifiek. Dit is die lekkerste ding om ’n liefdesbrief te ontvang en dit maak ook ’n mens se eie gevoelens wakker. Dalk ervaar jy ’n dieper vlak van emosie en liefde juis omdat jy vir die eerste keer jou gevoelens so verwoord het en jy dit vir die eerste keer hoor. Miskien is jou maat meer oop en emosioneel nadat hy jou liefdesbrief gelees het en jy jou emosies so voor hom blootgestel het.

Die skrywery
Sover dit die skrywery aangaan, kan jy dalk probleme ervaar. Almal weet nie altyd waar om te begin nie. Miskien weet jy presies wat jy wil sê. As jy nie so gelukkig is nie, en as jy graag wil hê jou brief moet eksoties of poëties wees en jy nie weet hoe om dit so te maak nie, kry ’n paar dinge om jou te help. Lees boeke, tydskrifte en ander mense se liefdes verklarings op
die internet om jou te inspireer. Blaai deur jul fotoal¬bums, as julle ’n herinneringsboks het, kyk daardeur. Gaan sit in ’n stil hoekie en dink wat dit is wat jy graag wil sê. As jy inspirasie uit ander bronne kry, onthou om dit jul eie te maak.

Klem op emosie
Onthou dat jou emosies die kern van jou liefdesbrief moet vorm. Dit is waaroor dit gaan. Nie oor take, doen en late nie, maar oor hoe hy jou laat voel. Vra jouself die volgende vrae: Hoe het dit gevoel toe jy hom die eerste keer gesien het? Was jy bang op jul eerste afspraak? As jy nie kan verwoord hoe jy gevoel het nie, is daar groot fout, want die liefde gaan oor gevoel en oor hoe dit hom gaan laat voel wanneer hy dit lees.

Die aflewering
Daar is soveel kreatiewe maniere waarop jy ‘n liefdesbrief kan aflewer. As dit ’n Kersfees-liefdesbrief is, plaas dit onder die boom of hang dit aan die boom. As jou maat elke dag gimnasium toe gaan, plaas dit in sy gym-sak. Los dit op sy kar se sitplek of onder sy kussing. As hy weggaan, pak dit bo in sy tas. Bêre dit in sy Kellogs-boks of in sy onderklerelaai. Die opsies is eindeloos . . .

En belangrik: Moenie dat dit ’n taak word nie, geniet die skrywery!