Met INTIEM se bootreise het ons die lesers bederf met kajuithuiswerk – “sekshuis-werk” wat hulle elke aand in hul kajuite moes voltooi! Daar is heelwat gegiggel en gebloos hieroor, maar as gevolg van die goeie reaksie het ons besluit om grepe van die kajuithuiswerk (effens aangepas) met die res van ons lesers te deel!

Promosie

Jy het nie nodig om op ’n boot te wees, op reis na ’n eksotiese eiland, om die huiswerk te voltooi nie (hoewel niemand sou stry dat dit lekker sou wees om nou aan ’n skemerkelkie met ’n sambreeltjie te teug nie!). Al wat jy nodig het, is jou maat, ’n naweek by die huis en hope privaatheid. Hier is jou plan:

VRYDAGAAND:

Gaan vroeg slaapkamer toe en gaan stort saam. Julle kan mekaar help was – maar geen gevattery nie! Trek nou vir julle elkeen ’n mooi T-hemp aan – Eva, ons waarborg jou dat ’n witte manlief se eerste keuse sal wees… en klim in die bed met ‘n INTIEM artikel wat na jou mening die heel stoutste is en lees dit saam – hardop. Gesels dan daaroor en doen presies waarvoor julle lus is (lees tussen die lyne, maar bêre nou ’n bietjie pret vir die res van die naweek ook!).

Promosie

SATERDAGAAND:

Vir vanaand het julle ’n paar items nodig. Kry dus die volgende gereed: Masseerolie, ’n blinddoek (of serp), ’n veertjie (as julle nie een byderhand het nie, gebruik ’n tandeborsel) en smeermiddel. Vanaand is ’n aand van sensuele aanraking. Julle gaan weer in voeling kom met mekaar, met mekaar se lywe en hoe lekker dit is om met mekaar getroud te wees!

OEFENING NOMMER 1:
Skakel die lig af en trek jul klere uit. Gaan sit kruisbeen regoor mekaar in jul naakte glorie. Sluit nou jul oë en maak beurte om oor mekaar se lywe te “voel” – maar sonder om mekaar aan te raak! Deurmekaar? Plaas jou hande op jou maat se skouers. Lig nou jou hande ongeveer ’n sentimeter en beweeg dit oor jou maat se lyf – jy voel dus die ander persoon se liggaamshitte, maar nie sy/haar vel nie. Jy sal ook vinnig agterkom julle is besig om met behulp van hierdie oefening die atmosfeer elektries te laai!

OEFENING NOMMER 2:
Laat jou maat op sy maag gaan lê, bind die blinddoek om sy kop en begin hom mas­seer (onthou, jy masseer hom nou soos ’n mens by ’n gerespekteer salon gemasseer word, behalwe vir die feit dat jy aandag gee aan sy agterstewe ook!). Sodra jy sy rugkant gemasseer het, is dit jou beurt om die blinddoek aan te sit en te lê vir ’n onskuldige rug- en nekmassering.

OEFENING NOMMER 3:
Adam, nadat jy jou maat se rug gemasseer het, vra haar om op haar rug te draai. Neem die veer/tandeborsel en begin haar liggies daarmee “terg”. Sy mag nie weet op watter oomblik die veertjie waar gaan beland nie… sodra sy ’n paar keer na haar asem gesnak het, kan jy die masseerolie nader trek en die voorkant van haar lyf masseer.

OEFENING NOMMER 4:
Trek die smeermidel nader en gee jou maat ’n tweede mas­sering – dié keer eroties… hier gee ons nie veel riglyne nie, want jy moet toelaat dat die oomblik jou lei. Die enigste raad wat ons kan gee, is om te fokus op die genitalieë – mét jou pakkie smeermiddel!

SONDAGAAND:

Vanaand het julle weer ’n paar items nodig. Kry die volgende gereed: ’n Houertjie lyfroom, ’n kondoom, smeermiddel, ’n buisie kondensmelk en ’n syserp.

OEFENING NOMMER 1:
Speel “rock, paper, scissors” om te bepaal wie eerste aan die beurt is. Adam, as jy die wenner is (hier is nie eintlik ’n verloorder vanaand nie!), besluit waar jy jou maat wil vasmaak met die syserp – aan die stoel, die stort… jou opsies is legio. Sodra sy vasgemaak is, gebruik jou tande om jou maat se klere van haar lyf af te stroop.

OEFENING NOMMER 2:
Sy is magteloos en kan jou nie keer nie. Neem die houertjie lyfroom en gee haar borste ’n behoorlike massering daarmee. Die verhoog is joune! Sy kan jou nie keer nie, want haar hande is vasgemaak, so neem jou tyd om haar heuwels fantasties met jou vingers en jou mond te verken…

OEFENING NOMMER 3:
Sodra jy genoeg gehad het, kan jy die syserp losmaak en nou is dit jou Eva se beurt om die voortou te neem. Mevrou, maak hom vas waar jy graag wil en waar jy goeie toegang tot sy bolyf het. Eers gaan ons jou leer hoe om kreatief te raak met jou mond. Haal die kondoom versigtig uit die pakkie (met manlief steeds vasgemaak). Onthou dat skerp naels of tande die kondoom kan skeur.

  1. Plaas nou die kondoom in jou mond, met die punt na binne. Hou die rante versigtig vas met jou lippe sodat die ring van die kondoom voor jou tande is.
  2. Maak jou mond nou die vorm van ’n “O”. Om te sorg dat daar nie lug in die bopunt van die kondoom kom nie, druk die punt teen jou verhemelte met jou tong.
  3. Hou die basis van manlief se penis vas en plaas nou die kondoom op die punt daarvan, terwyl jy seker maak jy druk die punt van die kondoom met jou tong teen die kop van sy penis.
  4. Gebruik jou lippe om die kondoom op en af al langs die skag te rol sodat jy die lug uit die kondoom kan druk (hier kan jy sex appeal gebruik!). Wees versigtig dat jou tande nie in kontak met die kondoom kom nie. Voila!

OEFENING NOMMER 4:
Jou man is nou liewer vir ’n kondoom as wat hy nog ooit was, maar ons kan jou waarborg dat hy die ding nou nietemin wil afhaal vir ’n bietjie rou plesier. Neem die kon­densmelk in jou mond en skommel die soet ’n bietjie rond in jou mond. Beweeg suidwaarts tot dáár waar manlief jou mond nou die graagste wil hê – orale seks was nog nooit só soet nie, en ná vanaand kan jy seker wees jy het daardie kondensmelk se kilojoules reeds afgeskud!

So, daar het jy dit! Kajuithuiswerk wat golwe maak…

 

Deur Annelize Steyn