Jy voel die laaste tyd allermins sexy, met allerlei simptome wat pla. Jy het jou tot dokter Google gewend, wat die woord “Candida” op die skerm uitgespoeg het. Wat, wie en waar is Candida?

Candida is ’n fungus, ’n vorm van gis waarvan ’n klein bietjie in jou mond en ingewande leef. Dis nie so grillerig soos dit klink nie – om die waarheid te sê, jy het hierdie fungus nodig om jou te help met spysvertering en die opname van voedingstowwe in jou liggaam. Hierdie handige helpertjies word egter terroriste as Candida oorgeproduseer en die balans versteur word. Dit kan die wande van die ingewande afbreek en die bloedstroom penetreer, terwyl dit giftige byprodukte in jou liggaam vrystel. Die oorgroei van Candida lei dan tot spysverteringsprobleme, depressie en allerlei verskillende gesondheidsprobleme.

Hoe gebeur dit?

Gesonde bakterieë in jou maag hou jou Candida-vlakke gewoonlik in toom, maar sekere faktore kan die Candida-bevolking laat groei tot iets wat jou aan ’n Minion-weermag herinner! Te veel stysel en suiker (daardie vervloekte witbrood en chocolates!), te veel alkohol (daardie ekstra glas wyn), jou pil (goed, dis dié of nóg ’n broodjie in die oond) en ’n dieet hoog in gefermenteerde kos soos sauerkraut en agurkies. As dit klink of jy ’n goeie Candida-kandidaat is, moenie stres nie, want selfs dít kan jou ook nadelig beïnvloed!

Promosie

As jy gedurig siek is en ’n dokter het wat antibiotika soos Smarties voorskryf, het jy dalk een kursus te veel gehad wat te veel van jou “vriendelike bakterieë” vernietig het – dit is die algemeenste oorsaak en Candida-kenner dr Jeff McCombs meen dat as jy al antibiotika gebruik het, jy beslis met hierdie probleem van té veel Candida sit.

Sekere medikasie, sowel as chemoterapie en bestraling, kan ook ’n oorsaak wees. Kenners meen ook omgewingsgifstowwe soos plaagdoder, verf, formaldehyde en swaar metale verswak die immuunstelsel en maak die liggaam meer vatbaar vir Candida.

Hoe weet ek dis Candida?

Jou vel en naels kry skielik grillerige fungi-infeksies soos atleetvoet, jy voel chronies moeg en maagkwessies soos opgeblasenheid, hardlywigheid of diarree laat jou allermins sexy voel. Outo-immuunsiektes is ook simptome van Candida, asook velsiektes soos ekseem en psoriase. Jy voel geïrriteerd (wel, enigiemand sal met súlke simptome!) en jy sukkel met jou konsentrasie, geheue en fokus.

’n Vaginale gejeuk of ’n gejeuk elders in die suidelike area kan nog ’n simptoom wees, asook ernstige allergieë en ore wat jeuk. Ook ’n craving na stysel en suiker – so as jy sukkel om daardie Caramel Swiss Roll van Woolies te weerstaan, stel verdere ondersoek in . . .

Ek het dit – wat nou?

As jy vermoed jy mag dalk Candida hê, laat toets jou Candida-teenliggaampies by ’n laboratorium deur middel van ’n bloedtoets. Jy kan ook jou stoelgang of uriene laat toets (wat die spesie kan bepaal en ook waar presies die Candida teenwoordig is). As jy wel agterkom jy is ’n slagoffer hiervan, moet jy die siekte in drie stappe beveg:

Stuit die Minion-army in hul spore met behulp van ’n lae-koolhidraat dieet, elimineer alle suiker (sluit sommer aan by die Iquitsugar aanlyn-program om jou hiermee by te staan), en bou vriendelike bakterieë en genees jou maag sodat dit nie meer jou bloedstroom kan binnedring nie. Doen dit só:

  1. Sny suiker uit jou dieet.

Candida het suiker nodig, só sny dit uit jou dieet – alle suiker. Ongelukkig is dit nie genoeg om bygevoegde suiker (daardie suurwurms voor die televisie en die hot chocolate by jou lessenaar) uit te skakel nie omdat Candida net so gelukkig is met die natuurlike suikers in jou dieet, wat beteken dat jy dalk selfs jou geliefde geelperskes en stysel-groente soos aartappels vir ’n tyd lank moet uitskakel. Die voordeel hiervan is dat minder suiker gelyk is aan ’n gesonder dieet. Lees dus jou kos-etikette om vas te stel presies wat die kos bevat waaraan jy so geredelik smul.

  1. Kry ’n probiotika.

Probiotika is die “goeie bakterieë” in jou maag en ideaal om ’n Candida-wanbalans te herstel. Dis iets wat kan bydra tot enigiemand se daaglikse roetine (of jy aan Candida ly of nie), dus kan jy sommer jou hele gesin hieraan bekendstel. Probiotika kompeteer met die gis in jou maag en hoe meer voedingstowwe in die beperkte spasie in jou maag deur goeie bakterieë gebruik word, hoe beter. Tweedens sorg probiotika vir natuurlike suur in jou maag. Dít keer Candida weer om om te skakel in sy patogeniese fungale vorm. Derdens gee probiotika jou immuunstelsel ’n goeie hupstoot!

  1. Sien jou dokter.

Hy sal waarskynlik ’n antifungale middel voorskryf wat die oorgroei van Candida omkeer. Jy kry ook natuurlike middels wat matiger is met minder newe-effekte, soos oreganum-olie en pomelosaad-ekstrak. Bestanddele soos knoffel, olyfolie, uie, gemmer, pampoensade en klapperolie het ook antifungale eienskappe en deur dié bestanddele in jou dieet in te werk, kan jou plan teen Candida selfs nog méér doeltreffend wees.

Gesels met jou dokter oor Candida en wat hy/sy alles kan aanbeveel om dié toestand verder te beveg. Deur bogenoemde stappe te volg, is die kanse goed dat jy kort voor lank weer jou Candida op hok sal hê!

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.thecandidadiet.com, www.mindbodygreen.com, www.naturalnews.com.