Vasektomie. Die tyd het gekom om die produksie-masjien vir eens en vir altyd af te skakel, maar weet jy wat jy móét weet?

Promosie

Jy kan nie onthou of dit was ná die tweeling moerbei-smoothies op jul beige sitkamerbank gemaak het, en of dit met die geboorte van nommer vier – tussen die baie bar woorde wat jy haar nog nooit voorheen hoor sê het nie – was nie, maar Vroulief was vasberade oor die groot V. En dat sy háár deel gedoen het. Punt. Sy het die afspraak sommer námens jou gemaak.

Vasektomie is baie Adams se voorland. En baie Adams is so bang vir die mes soos vir die houtjie van die galg! As jou vrou deur die jare verantwoordelik was vir jul geboortebeperking, moet jy dalk nou maar verlief neem daarmee dat die saak nou in jóú hande lê.

Maar voor jy hierdie lewensbelangrike besluit neem, is dit noodsaaklik dat julle 100% seker van jul saak is. Ja, dit is waar, dit kán omgekeer word, maar so ’n prosedure is duur, en daar is geen waarborg dat die pasiënt weer kinders sal kan verwek nie. So, leer jou kleuter fietsry, lees daardie slaaptydstorie, en vra jouself: is ek seker ek gaan dit nie later in my lewe weer wil doen nie?

Promosie

Die slegte nuus…

As jy besluit om dit te doen, onthou dat daar ’n baie geringe kans is dat dinge nie sal werk nie – dat die vasa deferentia sal teruggroei, wat eindelik beteken… o ja, dat julle dalk wéér die pajama-dril sal moet doen! (Die kans is darem net een uit ’n duisend).

Weet ook dat bedpret off limits vir ’n lang tyd is, tensy julle nog ’n manier van geboortebeperking aanwend – aangesien die spermselle in jou lyf nog redelik aktief in daardie tydperk is. Ná agt weke sal jou dokter toetse doen om die status van die selle vas te stel. Intussen gaan jou herstel nie net die ene jelly-en-vla wees nie, maar dit is ook nie naastenby dít wat vroulief moes deurmaak met die geboorte van die kinders nie.

As jy egter ’n bietjie seer het, moenie mr Tough Guy speel nie. En as jy bloeding, of pyn van die skrotum, inflammasie, of infeksie ervaar, probleme met urinering het, of klonte en swelling in die skrotum ontdek, skakel jou dokter onmiddellik.

Die goeie nuus…

Daar is bewerings dat ’n vasektomie met ’n verhoogde kans vir osteoporose, prostaatkanker, testikulêre kanker en hartsiektes gepaard kan gaan, maar daar is nie navorsing om hierdie bewerings te rugsteun nie! Gesels met jou dokter oor die nuutste bevindings.

Daar is natuurlik ook die opsie dat Vroutjie self ’n prosedure kan ondergaan, maar ná haar paar keer se oggendnaarheid, mastitis en keisersnee-wonde, moet jy dit liewer nie voorstel nie! Al wat jy gaan kry, is dáárdie kyk – die een wat sê dat jy vanaand maar kan vergeet om te score!

Hier is egter die goeie nuus: Dit is glad nie so erg nie! Aanvanklik kan jy ’n bietjie ongemak ervaar, maar langdurige of uitermatige pyn is ongewoon. Wanneer die operasie afgehandel is en die hersteltyd (wat afhang van individu tot individu) verby is – matras-aksie galore! Seks vir brêkfis, middagete en aandete. Wel, miskien moet jy ’n bietjie stadig oor die klippe, maar ’n mens weet nooit. As jy die tweeling kan opsteek om met Mamma se lipstiffie prentjies op haar nuwe handsak te teken, laat jy haar dalk net besef hóé dankbaar sy behoort te wees…

Addisionele Bronne: www.vasectomyconsumerguide.com; www.ezinearticles.com; www.vasectomy.com