Die meeste vroue is vertroud met Gary Chapman se vyf liefdestale en die meeste manne is al bygedam deur vroulief wat analiseer. Sy nuutste boek oor dié tema, 5 Love Languages: Men’s Edition, spreek twee kwessies aan wat hand aan hand met jou “taalvaardigheid” loop: Hanteer jou woede en vervolmaak jou jammer-sê . . .

Promosie

Kry jou woede onder beheer!

Vereenselwig jy met Jack Nicholson se karakter in Anger Management? Dan het jou eie karakter dalk ’n bietjie werk nodig. Om deur woede te werk op ’n volwasse manier, kan ’n reuse impak op jou verhouding hê. Woede kan die vloei van enige liefdestaal verhinder. So, voor jy liefde aan vroulief kan bewys, is dit nodig om die konflik op ’n volwasse manier te hanteer en met ’n plan vorendag te kom.

Vra om verskoning op die regte manier

Promosie

Om verskoning te vra kan spanning verlig, konflik oplos en seerplekke heelmaak. Een of meer van die volgende tale van verskonings sal harder tot jou vrou spreek as die res, maar as jy al vyf tale kan afmerk, behoort jy seker te kan voel dat jy die ding op die regte manier hanteer het.

Taal van verskoning #1: Om spyt uit te spreek

Deur jou spyt uit te spreek, herken jy jou skuldgevoel, jou skaamte en jou pyn oor jou gedrag wat haar seergemaak het. Sy wil hê jy moet weet hoe seer sy kry. Begin elke verskoning dus met: “Ek is jammer.” Jy hoef nie ’n traan te pik nie, maar jou lyftaal moet ooreenstem met jou woorde.

Taal van verskoning #2: Om verantwoordelikheid te aanvaar

Om te herken dat jy verkeerd was, kan gesien word as ’n teken van swakheid, só wat maak ons? Ons probeer rasionaliseer deur dit wat ons gedoen het, vlugtig oor te sien en die klem te plaas op hóékom ons dit gedoen het! Groot fout. As jy regtig wil wys dat jy jammer is, voeg ook “Ek was verkeerd” by jou “Ek is jammer”.

Taal van verskoning #3: Maak reg wat verkeerd is

Dis deel van ons psige om te wil regmaak of om te verwag dat iemand wat jou ingedoen het, moet regmaak. So, hoe maak jy reg wat jy verkeerd gedoen het? Jy vra om verskoning in haar liefdestaal. As jou vrou se taal byvoorbeeld dié van bemoedigende woorde is, herinner haar aan hoe wonderlik en goed sy vir jou is (dit moet opreg wees).

Taal van verskoning #4: Toon opregte berou

Ons is geneig om jammer te sê, en dan maar later net weer ons foute te herhaal. Die woord “berou” beteken om “om te draai” of “van plan te verander”. In die konteks van ’n verskoning, beteken dit dat jy besef jou gedrag is destruktief tot jul huwelik. Hiermee sê jy eintlik: “Ek sal sorg dat dit nie weer gebeur nie.”

Taal van verskoning #5: Vra om vergifnis

Vra jou vrou om jou te vergewe. Dit is belangrik om drie redes: Eerstens wys dit dat jy wil sien hoe jul huwelik herstel word. Tweedens wys dit dat jy besef jy het iets verkeerd gedoen. En derdens wys dit dat jy bereid is om die toekoms van jul verhouding in haar hande te plaas.

Om om verskoning te vra, is ook nie maklik nie en dit kom beslis nie natuurlik nie, maar dit is die moeite werd en dit behoort ’n nuwe wêreld van emosionele en spirituele groei vir jul huwelik oop te maak.

 

Deur Annelize Steyn