Ons is pasgetroud en sit vreeslik vas oor huishoudelike take! Ons het nie nou geld vir ’n bediende nie, maar ons albei werk en my man kan nie verstaan dat ek sy hulp in die huis nodig het nie. Ek moet sê hy verwag dit ook nie van my nie en sê dikwels: “Ag, los die skottelgoed, ons kan dit later was.” Maar wie was dit later? Ek!
Ai, hoe maklik was dit nie vroeër jare toe die rolverdeling klinkklaar was nie! Vandag, met twee broodwinners in een huisgesin, is jong paartjies steeds geneig om te kyk na hoe hul ouers dit gedoen het en dit is onrealisties. Oorkom hierdie brug op die volgende maniere:
Bepaal jul prioriteite as ’n paartjie. Wat is belangrik vir julle? Gesels met manlief oor hoe belangrik ’n netjiese huis vir jou is. Hy kan weer deel dat hy graag een keer per week wil uiteet. Toets mekaar oor onderwerpe soos wasgoed, bed opmaak, gras sny, huishoudelike administrasie en meer.
- Lys nou al die take wat jy met ’n passie haat. (Jy sal byvoorbeeld die tuin versorg as hy net bereid sal wees om te stryk!) As julle albei dieselfde taak haat, dink aan wat julle kan doen om hierdie taak gedoen te kry, besluit om dit saam te doen of om beurte te maak. As nie jy of manlief kans sien om te stryk nie, besluit dalk om een uiteet per week prys te gee om ’n bediende te kan bekostig wat een keer per week inkom om die strykwerk af te handel.
- Hê genade met mekaar en wees buigbaar. Laat jou maat toe om die take wat hy aangesê is om te doen op sý manier af te handel. As aandetes sy baba is, moenie oor sy skouer loer en korrigeer nie. As hy van sy hemde gestryk hou presies soos sy ma dit gedoen het, moet hy jou wys hoe om dit te doen of dit self afhandel.
- Vir sommige mense is huiswerk belangriker as vir ander. As julle jul bes doen en dit lyk steeds nie asof elkeen sy bydrae lewer nie, hou ’n ernstige gesprek oor watter alternatiewe daar is. Julle hoef dalk nie elke aand ’n driegangete voor te berei nie. (about.com)
Deur Annelize Steyn