Vra die meeste paartjies wat die grootste uitdaging in hul huwelike is en hulle sal antwoord: “Ons het nie tyd vir mekaar nie.” As ons sou praat soos fiksheidstydskrifte, sal ons sê dat jy moet tyd máák daarvoor, maar ons weet alte goed dat geen mens, aka die Repelsteeltjie-karakter, goud uit vlas kan spin nie . . .
Jy kan miskien ’n tweeling vang wat sonder doeke in jou buurvrou se huis rondhol. Jy kan moontlik ’n melktert bak wat Koekedoor se beoordelaars na hul asems laat snak. En jy het genoeg gesaghebbendheid om die manne by die werk met een kyk uit vrees te laat sidder . . . Maar hoewel jou kinders dink jy het, het jy waarlik nie superpowers nie en kan jy nie tyd máák as daar nie tyd ís nie. As mense die onmoontlike van jou verwag, wil jy vir ’n paar oomblikke in ’n bruin papiersak asemhaal.
Maar navorsing toon dat die rede vir baie mislukte huwelike ’n tekort aan tyd saam is. Om tyd saam met jou maat deur te bring, is soos om ’n spaarfonds op te bou. Elke keer wat jy en jou geliefde tyd saam deurbring, bou julle aan ’n buffer vir die tye wat dit nié so goed gaan nie. So, hoe kweek jy daardie duur kommoditeit wanneer jou huwelik dit vereis? Ons gee jou ’n paar wenke:
As julle NET 5 MINUTE het
Verbeel jou jy het vyf minute elke dag om iemand gelukkig te maak. Dit kom neer op 365 onverwagse dade van goedhartigheid en vrygewigheid. Maak ’n ritueel daarvan om jou maat met ’n soen en ’n stywe druk in die oggend en saans te groet. Kyk mekaar in die oë, wens mekaar ’n goeie dag toe en glimlag saans wanneer julle mekaar weer “hallo” sê om te wys: “Ek is só bly om jou te sien.” Stuur ’n epos of ’n SMS om jou maat te laat weet jy dink aan hom en is lief vir hom. Wees goed en sag met mekaar. ’n Kyk, ’n kompliment en enige klein oomblikke van konneksie kan wonderlik vir julle huwelik wees.
Waar kry jy daardie vyf minute?
Jy het dit reeds. Dis daardie vyf minute minder op Facebook!
As julle NET 15 MINUTE het
Altesaam 15 minute per dag beslaan 0.01% van jou dag. Hoewel die meeste van ons glo dat ons huwelike meer as 0.01% van ons tyd verdien, is daar dae wat net 0.01% haalbaar is. Sorg dus dat jy net 15 minute per dag eksklusief aan met jou maat bestee deur te praat! Praat oor julle drome, ideale, frustrasies en uitdagings. Moenie dat daardie 15 minute gesentreer word rondom ’n ander aktiwiteit (soos kos maak of kinders bad nie). Sit by mekaar en bestee daardie tyd intiem saam met mekaar.
Waar kry jy daardie 15 minute?
- Beperk jou tyd op sosiale media en voor jy jou oë uitvee, het jy 15 minute ekstra.
- Kyk slegs twee keer per dag na jou eposse.
- Oefen by die huis. Jy spaar tyd wat jy sou nodig hê om aan te trek en gym toe te ry.
- Sit die kinders 15 minute vroeër in die bed.
As julle 30 MINUTE het
Kenners meen dat elke gesonde huwelik tyd nodig het vir drie algemene aktiwiteite wat op ’n gereelde basis geskeduleer moet word: Tyd vir beplanning, tyd vir konflik-oplossing en tyd vir pret. Elkeen van hierdie aktiwiteite is ewe belangrik en moet met respek hanteer word. En as julle die dag net ’n halfuur het, deel daardie halfuur in drie dele (tien minute vir elk).
As julle net 30 minute het, gesels met mekaar oor dinge wat broei. Dit is daardie belangrike kwessies wat pla, maar wat ons opsy skuif (en dan later in groot kwessies ontaard!). As julle hierdie broeiende sake hanteer voor die sogenaamde dop kraak, kan julle dit op ’n bedaarde manier soos grootmense uitpraat.
Waar kry jy daardie 30 minute?
Onthou dat om saam televisie te kyk, nie tel as gehaltetyd nie. Mense wy gemiddeld drie ure per dag aan televisie kyk! Skaal af op die minder goeie reekse. Skeduleer twee 30 minute-sessies per week: Trek jul dagboeke nader en maak ’n afspraak – dis ’n vaste afspraak wat net soveel water dra soos enige ander afspraak in jul dagboeke. Onthou dat as iets belangriks voorval, julle kan herskeduleer – mits dit steeds in dieselfde week val, anders gaan julle aanhou uitstel en van uitstel kom afstel.
As julle 60 MINUTE het
Wie het 60 minute? Jy vra dit dalk met ongeloof in jou stem, maar kenners meen dit is so eenvoudig soos om jou wekker vir vroeër te stel. Blogger Matt Cheuvront skryf op lifewithoutpants.com dat die eerste uur van jou dag die belangrikste uur is. Deel dit met jou maat! “Die eerste uur van jou dag stel die atmosfeer van alles wat volg. So, wanneer julle wakker word, hou saam Bybelstudie, gesels oor die dag wat volg en drink saam koffie (of werk seks vir ontbyt in).”
Hier is jou somme!
Outeur en huwelikskenner, Willard F Harley, sê dat elke huwelik uniek is, maar dat hy gevind het sowat 15 ure per week se onverdeelde aandag is gewoonlik genoeg om ’n huwelik aan die gang te hou. Ideaal gesproke moet hierdie tyd deur die week verdeel word en wanneer al die ure oor ’n naweek gebruik word, is die resultate nie so goed nie, meen Willard. “Huweliksmaats het nodig om op ’n daaglikse basis emosioneel verbind te word om mekaar se belangrikste emosionele behoeftes te vervul.” (Vir ’n paartjie wat nie meer verlief is op mekaar nie, beveel hy 30 ure per week aan). “Dit is nie tyd wat julle nié het nie – dit is tyd wat julle sal gebruik vir iets minder belangriks as julle dit nie vir mekaar gebruik nie.”
Om jou te help om julle tyd saam te beplan, stel hy voor dat jy en jou maat op ’n Sondagmiddag ’n “vergadering” hou om na mekaar se skedules te kyk vir die week wat volg. Dís hoe Willard aanbeveel jul som moet lyk: Jy het 168 ure per week (24 x 7). Hy beveel agt ure slaap per nag aan, wat julle laat met 112 wakker ure. Om reg te maak vir werk en slaap, gaan sowat 12 ure in beslag neem, en werk plus reis na en vanaf werk neem nog sowat 50 ure. “Dit laat julle met 50 ure om te spandeer op dit wat vir julle die waardevolste is, en 15 daarvan moet gewy word daaraan om ’n passievolle en vervulde huwelik te onderhou. As julle nie in die gewoonte is om 15 ure per week aan mekaar jul onverdeelde aandag te gee nie, sal dit beteken dat iets minder belangriks sal moet gaan. Maar dit sal jul lewens radikaal ten goede verander omdat julle sal belê in een van die enkele belangrikste dele van jul lewens – jul verhouding met jul maats.”
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.marriagebuilders.com, www.catherine-morris.com, www.engagedmarriage.com, www.lifewithoutpants.com, The Complete Idiot’s Guide tot the Perfect Marriage deur Hilary Rich en Helaina Laks Kravitz.