Om ’n eiendom te koop, is een ding, maar om dit te onderhou, verg kapitaal, baie tyd en geduld en voortdurende opknappingswerk. Jou verhoudingshuis kan ook nie verwaarloos word nie, want kort voor lank skreeu die tuinhekkie skril, die teëls begin kraak en die geyser bars . . .
Jy het jou ketelmakerspak en handskoene aan, en meteens lyk die verfkwas, troffel en boor baie bedreigend. Waar begin jy? En sê nou jy kry dit nie reg nie? Haal diep asem en pak die taak stap vir stap aan.
Opknappingswenk 1: Verwyder die onkruid
As jy soos ’n moderne Doringrosie voel, is dit tyd om die onkruid te verwyder. Onkruid laat nie net jou tuin onversorgd en slordig lyk nie, dit kan ook jou tuinpaadjie heeltemal oorneem en dreig om ander plante te versmoor. Die onkruid in jul verhoudingshuis kruip soms ongemerk al nader . . . Jy en jou maat moet doelbewus aandag gee aan dit wat krap. Onkruid is nie iets wat bemes en vertroetel moet word nie, dit is ook nie ’n rankplant wat jy teen jou muur moet toelaat nie. Voordat julle nie die konflik, irritasies en frustrasies in jul verhouding aanspreek nie, gaan die res van jul huis se oormaaksessie nie kan gebeur nie. Wees geduldig – as iets julle al drie jaar lank pla, kan jy nie verwag om dit in 30 minute te verwyder nie. Kry professionele hulp as julle dit nie self kan of wil hanteer nie.
Opknappingswenk 2: Kyk na die struktuur
Die fondasie en struktuur van jul verhouding moet doelgerig versterk en ondersteun word. In moeilike tye en wanneer spanning dreig om julle te oorweldig, moet die basis van julle verhouding julle dra. Hoe kan ’n mens die struktuur versterk? Bespreek vir julle ’n huwelikseminaar of kamp, doen gereeld saam Bybelstudie, kweek en beoefen gesonde gewoontes. Leer mekaar dieper ken. Aan die begin van ’n verhouding wil jy alles van die persoon weet, maar later bly dit maklik agterweë.
Opknappingswenk 3: Beskerming teen wind en weer
Jul verhoudingshuis het af en toe ’n nuwe laag verf nodig. Hoe beskerm julle jul huwelik teen aanslae van buite? Bid afsonderlik vir mekaar, maar bid ook saam vir jul huwelik en verhouding. Beskerm jul huwelik deur jou optrede wanneer jy alleen is, maar ook voor ander. Beskerm jou huwelik deur die flieks wat jy kyk, die stokperdjies wat jy beoefen en die manier hoe jy jou prioriteite bepaal. Die beskerming van jul huwelik moet vir albei van julle een van die heel belangrikste take wees.
Opknappingswenk 4: Skuur en poleer die deure
Die deure van jou verhoudingshuis is veeldoelig – dit gee toegang tot die huis, maar dit het ook estetiese waarde. Kyk na al die verskillende maniere hoe jy jou maat toegang tot jou hart en lewe gee. Klap jy die deur toe wanneer spanning jou vang? Laat jy toe dat die hout verdor? Intimiteit in jul huwelik word nie vanself gevorm nie, maar die onderhoud daarvan vra baie meer. Praat met mekaar oor intimiteit. Gee vir elkeen die geleentheid om te sê wat vir julle van die intiemste oomblikke en tye in jul huwelik was, en beplan maniere hoe julle daardie intimiteit kan terugkry of laat groei.
Opknappingswenk 5: Sement, pleisterwerk en bedrading
Wat hou julle huwelik aan die gang? Geloof? Geld? Kinders? Liefde? Seks? Dit is dalk ’n kombinasie van faktore, want sement sonder water en sand gaan nie die huis se bakstene op mekaar hou nie. Praat met mekaar oor die balans van die “sement” in jul huwelik. Dink oor die bedrading van jul huwelikshuis. ’n Mens kan nie noodwendig ’n boor vat en op enige plek ’n gat boor nie. Dinge wat vir jare byna outomaties in jul huwelik gebeur en wat ’n mens as vanselfsprekend aanvaar, kan jare later die huis laat kraak en ineenstort.
Opknappingswenk 6: Vensters en die skoorsteen
Vensters en die skoorsteen is bronne van lig en lug. Om ’n huis se vensters te was, is nie een van die lekkerste take nie, maar vensters met watermerke of ’n stukkende ruit is nie net ’n seer oog nie, dit hou ook ’n veiligheidsrisiko in. Jul huwelik se lig- en lugbronne is baie belangrik vir die daaglikse funksionering. Maak tyd om saam te ontlaai. Maak tyd om na mekaar te luister. Maak tyd om oor jul huwelik te praat, nié net oor die kinders, rekeninge en werk nie. Moenie toelaat dat jul huwelikshuis se skoorsteen verstop nie, die rookbolle sal julle vinnig uitjaag.
Opknappingswenk 7: Verseël die dak
Die dak van jul huwelikshuis is iets waaraan julle min aandag gee, totdat dit reën en die dak skielik lek . . . Bestee tyd aan die emosionele sy van jul huwelik. Gee vir mekaar waardering – maak ’n volledige lys van die groot dinge tot die heel kleinste koppie koffie of liefdestaak wat jou maat aan jou bewys. Ondersteun mekaar fisiek en emosioneel. Eer en respekteer mekaar. Dink saam, droom saam en doen saam opbouende dinge.
Opknapping is ’n voortdurende proses wat baie van jou vra. Pas jul huwelikshuis met groot omsigtigheid op, maar geniet die voorreg en verantwoordelikheid daarvan. Benut jul unieke vaardighede ten beste, maar wees vir mekaar ’n voorbeeld in jul rentmeesterskap.
Deur Lize Groenewald