Jy is die manlike weergawe van ’n sosiale vlinder! Sy is ’n huishen. Jy hou van onthaal, sy hou van haar privaatheid. Jy glo in vriende van alle ouderdomme, geslagte en beroepe. Sy voel anders daaroor. Hoe bereik julle ’n middeweg?
Toe John met Amelia getroud is, het hy geweet dat sy haar eie geselskap verkies bo dié van ander. Hy het immers verlief geraak op die introvert wat so inkennig was, maar hom soms op die onmoontlikste tye kon verras met haar reg-vir-pret geaardheid! John het steeds saam met sy vriende uitgegaan en sy sou geduldig hul eersteling by die huis oppas wanneer hy sosiale geleenthede by sy werk bygewoon het (wat beslis nie vir hom ’n straf was nie).
Sowat vier jaar in hul huwelik het dit egter stremming begin veroorsaak. “Ek wóú nie meer alleen na partytjies toe gaan nie. Al ons vriende was teen dié tyd getroud en oral waar ek gegaan het, was couples. Dit was net ek wat altyd alleen sou opdaag.”
Stelselmatig het dit krapperigheid in hul huwelik begin veroorsaak, want albei het ontevrede gevoel oor die manier waarop die ander party aan hul behoeftes voldoen het.
Vriende én jou huwelik
Dit laat jou met ’n dilemma! Jou vrou is vir jou baie belangrik, maar só ook jou vriende. Vriendskappe is immers noodsaaklik vir ons om volronde mense te wees. En ja, jou maat moet jou pel wees, maar soms het jy net “mannetyd” ook nodig.
Volgens kenners is dit noodsaaklik vir ’n paartjie om hul verskille te trotseer en ’n middeweg te beding. “Suksesvolle paartjies weet hoe om hul teenoorgestelde eienskappe tot die huwelik se voordeel te gebruik,” meen die kliniese sielkundige Michael Broder, outeur van Can your relationship be saved?
As geslagte ter sprake kom…
Wat as sommige van jou goeie pelle vroue is? Toe Dave Willis sy Facebook-blad, Marriage, ’n paar jaar gelede begin het, het sy eerste “viral” post groot reaksie en kontroversie ontlok. Hy het geskryf: “Wees báie versigtig oor vriendskappe met die teenoorgestelde geslag. Die meeste buite-egtelike verhoudings begin as ‘vriendskappe’ wat oor die tou trap. Moet nooit ’n vriend of medewerker van die teenoorgestelde geslag tyd en aandag gee wat regmatig jou maat s’n is nie. Jou maat moet jou beste vriend wees, so beskerm jou huwelik ten alle tye.”
Vandag, ’n paar jaar later, volstaan hy by sy punt en noem dat ’n vriendskap met die teenoorgestelde geslag dikwels bestaan ten koste van ’n belegging in jou huwelik. Jy moet immers jou tyd tussen twee partye verdeel en die kans is goed dat gevoelens van jaloesie by jou maat sal ontstaan. Só ook die gevoel van: “Is ek nie goed genoeg nie?” Dis ’n duur prys om te betaal vir ’n vriendskap. Vra jouself ook af: Hoe sal jy voel as die rolle omgeruil is?
Hoe lyk die balans?
Kyk na die balans wat jy tussen jou lewensmaat en jou vriende handhaaf. As jou en jou vrou se tyd saam beperk is, kan invloede van buite af maklik onmin saai. Jou vrou wil nie voel asof sy kompeteer vir jou aandag nie.
Verdeel jul sosiale kalender in drie: Tyd wat jy en jou vrou alleen saam aktiwiteite beoefen of tyd saam deurbring, tyd wat julle as ’n paartjie saam met ander paartjies deurbring en laastens tyd wat julle afsonderlik saam met vriende deurbring.
Moenie tyd saam met vriende of jou maat mors deur byvoorbeeld voor die televisie te sit nie, maar bestee dit bewustelik. Outeur Sheila Gregoire sê: “Paartjies met ’n sterk wete van waarheen hulle op pad is en wat hul doel in die lewe is, bestee hul tyd bewustelik. Mense wat nie sin, doel of verantwoordelikheid het nie, is geneig om te dryf en tyd te mors.”
BLOKKIE: Wanneer die gevaarligte flikker…
- Jy verkies om saam met jou vriende, eerder as saam met jou maat, te kuier. Dit stuur op drama af. Só ook as jy geskeduleerde kuiers saam met vriende onthou, maar dié saam met jou maat vergeet.
- Jou vriende respekteer nie jou maat nie.Wanneer jou pelle jou maat slegsê of jou oorreed om dinge ten koste van jou maat te doen, respekteer hulle nie jou huwelik nie. Wees ’n man en staan op hierteen.
- Jy hou nie by die reëls nie.Wanneer jy en jou pelle kuier en jy beloof om tienuur weer by die huis te wees, hou by die reëls
- Wanneer jy verkies om ernstige sake en besluite met jou vriende te bespreek, eerder as met jou maat, stel jy jou huwelik in gevaar.Jou maat moet die een wees by wie jy raad vra, en met wie jy jou grootste vreugdes en hartseer deel.
- Jy deel álles met jou vriende. Onthou, ’n huwelik is heilig en daar is sekere dinge wat net tussen jou en jou maat behoort te bly (behalwe wanneer mishandeling ter sprake is, in welke geval daar beslis gepraat móét word).
Só kan jy maak om gesonde vriendskappe binne ’n huwelik te handhaaf:
- Skep balans. Namate jou lewe besiger raak en jou gesin uitbrei, raak dit al hoe moeiliker om goeie vriendskappe te handhaaf. Jy moet jou beperkte tyd indeel tussen almal wat jou nodig het – doen dit oordeelkundig.
- Hersien gereeld jou prioriteite.Dít wat tien jaar gelede jou nommer een prioriteit was, is moontlik nie meer nie en oor nog tien jaar sal jou prioriteite weer anders lyk! Só sal jou vriendskappe ook verander om by jou prioriteite aan te pas.
- Stel grense en hersien jou verwagtinge.Wanneer jy trou, verander die dinamiek van jou vriendskappe. Jy kan dalk nie meer soveel kuier soos voorheen nie (hulle ook nie!), so maak voorsiening hiervoor.
- Maak tyd vir jou vriende.Gesels met jou maat en bedink ’n plan van aksie. Drie keer per week se kuier saam met jou vriend is dalk in hierdie stadium te veel gevra, maar wat van ’n kuier een aand een week saam met jou pelle en die volgende week as ’n groep (saam met hul maats).
- Maak nuwe (gesamentlike) vriende.Dit is natuurlik om sommige vriende agter te laat en ’n paar nuwe vriende te maak soos wat die tyd verloop. Sluit aan by ’n selgroep in die kerk. Maak nuwe vriende as ’n paartjie.
Wanneer dit by vriende kom, is dit baie belangrik vir ’n paartjie om mekaar halfpad te ontmoet. Bespreek dít wat jou pla, bedink saam planne van aksie, en jy kan gesonde vriendskappe én ’n gesonde huwelik hê!
www.elcrema.com, www.tolovehonourandvacuum.com, www.twoofus.org.