“Vertroue is om te weet my maat sal my nooit verkul nie.” Dit is talle vroue se definisie van die groot woord wat onontbeerlik in ’n gesonde huwelik is. Maar dit is nie só eenvoudig nie.
Ek was onlangs in ’n geselskap waar die groepie vroue (so vyf van ons) nié die dag hul oë gerol het oor mans wat huweliksherdenkings vergeet, onnodig kritiseer oor die prys van inkopies en die baba se boudjies onder ’n lopende kraan afspoel nie. Nee, dié dag was die gesprek verbasend opbouend en het die dames in die geselskap hul mans lof toegesing.
“Weet julle wat waardeer ek die heel meeste van Frans?” het Annemie* gesê. “Die feit dat ek op hom kan peiltrek. Wanneer hy sê hy sal die kinders tweeuur by die skool oplaai, kan ek weet dit sál gebeur. Ek hoef hom nie op te check nie en ek hoef nie bang te wees hy sal vergeet nie. Dis deurgaans só: Met commitments teenoor my, asook teenoor ander mense. Hy is ’n staatmaker.”
Dit het my nogal laat dink. Vir Annemie is dit ’n vorm van sekuriteit – die feit dat sy haar man kan vertrou om te doen wat hy sê hy sal doen. En ek het besef dat vertroue veel verder strek as slegs seksuele getrouheid. Dit sypel deur na die klein dingetjies en kan groot onmin in jou huwelik veroorsaak wanneer dit nié daar is nie.
Hier is sewe tipes vertroue wat elke huwelik behoort te hê:
1. Die voor-die-hand-liggende een . . .
Wanneer ons praat van vertroue in ’n huwelik, is seksuele getrouheid die eerste gedagte wat by ’n mens opkom. Geen mens wil voortdurend ’n onrustigheid in die agterkop hê dat sy/haar maat hom/haar moontlik kan verkul nie. Vertroue bring die wete dat jou maat lojaal aan jou sal wees en dat jy sy/haar nommer een is. Dit beteken dat hy/sy nooit ’n derde party in jul huwelik sal inbring nie.
2. Die een wat getuig van karakter
Eerlikheid in ’n verhouding is ’n taai toffie. Baie manne glo dit is deel van manwees om so nou en dan vir jou “wyfie” ’n witleuentjie of twee te vertel. Of soms net ’n halwe waarheid. Of om soms net die feite te verskans deur ’n goed berekende stilswye . . . maar volle eerlikheid is noodsaaklik vir die huwelik om soos ’n geoliede masjien te loop. Want voor jy jou oë uitvee, word klein onwaarhede groot leuens. Die oop en eerlikheid geld natuurlik na beide kante toe – ook vir daardie aankope wat jy liefs nie met jou maat wil deel nie.
3. Die een wat jou veilig laat voel
Elke huweliksmaat is geregtig op die besef dat jy jou maat kan vertrou om jou nie skade te berokken nie – nie emosioneel nie, nie verbaal nie en nie fisiek nie. Volgens die webtuiste YourTango.com floreer vertroue in ’n atmosfeer van veiligheid en sekuriteit. Dit beteken byvoorbeeld dat jou maat jou beeld sal beskerm en nie iets verkleinerend oor jou in ’n geselskap sal kwytraak nie. “Om mekaar seer te maak, fisiek of verbaal, en dan mekaar te verwerp, skep vrees, wat vertroue ondermyn. Saam met beheer kom wantroue, so maak seker jou liefde is nie gevul met baie besitlike klewerigheid wat jou maat wegstoot nie.”
4. Die onvoorwaardelike een . . .
Daar moet wedersydse vertroue heers dat julle mekaar liefhet sonder voorwaardes. Met ander woorde, jy moet weet dat jou maat se liefde nie gaan wyk sodra jy tien kilogram aansit, in ’n finansiële verknorsing beland of die gebruik van jou bene verloor nie. Dit beteken ook dat julle die vryheid het om jul menings te lug en van mekaar te verskil sonder om bang te wees dat die een verwerp gaan word, sou hy/sy sê wat hulle op die hart het.
5. Die een wat jou gerusstel . . .
Dit is die tipe vertroue waarvan Annemie in ons geselskap gepraat het. Daardie een wat behels dat jy wéét jou maat is ’n man van sy woord. As hy sê hy sal daar wees, is hy daar. As hy belowe om jou kar vir ’n diens te neem, hoef jy hom nie weer daaroor te vra nie. Jy kan op hom peiltrek. Dit is ’n tipe vertroue wat sigbaar is in die klein dingetjies, maar wat jy ook weet – omdat dit so integraal is tot jou maat se karakter –geld vir die groter dinge.
6. Die een wat jou versorg laat voel
As jy en jou maat getroud is, is die kanse goed dat julle jul finansies saamgevoeg het óf dat jou maat jou dalk finansieel onderhou. Dit verg ’n groot hoeveelheid vertroue. Daar is vroue wat hul maats soveel in dié opsig vertrou dat hulle geen idee het waar hul huishoudelike inkomste belê is nie (wat dikwels groot onrustigheid veroorsaak wanneer die een wat altyd in beheer was, wegval). Om iemand met jou finansiële sekuriteit te vertrou, verg baie, maar as jy weet jou maat is verantwoordelik en hy het jou beste belange op die hart, is dit ’n no-brainer.
7. Die een wat jou emosioneel rustig stem
Daar is vroue wat voortdurend op eiers moet loop in hul huwelik. Hul maat is die een oomblik gematig, maar kan die volgende oomblik, wanneer iets simpel gebeur, soos as hy byvoorbeeld op ’n Lego-blokkie trap, ’n woede-uitbarsting hê wat glad nie geregverdig is nie. Wanneer jy met só ’n maat getroud is, beleef jy waarskynlik voortdurende onderliggende spanning, want jy weet nie hoe jou maat van oomblik tot oomblik gaan optree nie. Hy sal met jou baklei oor ’n doodonskuldige opmerking en jou selfs kasty oor ’n droom wat jy gehad het. Ja, jy wil opwinding in jou huwelik hê, maar emosionele voorspelbaarheid is baie waardevol in ’n gesonde huwelik.
Só vertroue strek veel verder as die wete dat jou maat jou nie met sy sekretaresse gaan verkul nie. Jy het waarskynlik die artikel gelees en die tipes vertroue tussen jou en jou maat afgemerk. Lees weer die artikel en vra jouself af of jou maat jóú met hierdie dinge kan vertrou. Daar is heelwat meer as sewe tipes vertroue, maar heers bogenoemde tipes in jul huwelik, kan jy weet julle is reeds goed op pad om ’n gesonde huwelik te kweek.
Addisionele bronne: www.infidilityrecoveryinstitute.com, www.yourtango.com.