Al ooit ’n visuele hulpmiddel nodig gehad om jou te inspireer? Dink aan daardie lywe van die brandmaer modelle teen jou yskas, die foto van jou kroos in jou beursie terwyl jy vakansie hou in Thailand, ’n foto en aanhaling van jou grootste rolmodel – opgeplak bo jou lessenaar. ’n Visiebord (of inspirasiebord) vir jou huwelik is dalk net wat jy nodig het om jou te motiveer om hierdie allerbelangrikste verhouding te laat werk.
Bo my lessenaar is ’n visiebord met ’n agtergrond van room en wynrooi. Daarop is allerlei dinge wat my herinner waarom my lewe saak maak: Briefies van my kinders, foto’s van die belangrikste mense in my lewe, teksverse, kaartjies, inspirerende aanhalings, ’n handgemaakte papierpoppie, ’n sonarfoto, ’n uiteensetting van my Strengthfinder-talente en illustrasies wat vir my mooi is.
Terwyl ek werk, vang my oog soms net een van hierdie elemente en dit laat my lekker voel, dit maak my hart warm of dit motiveer my om ’n opdrag te voltooi. Ek verander gereeld van die elemente op my visiebord en die res bly konstant.
’n Visiebord is ’n goeie manier om jou te herinner aan jou planne, doelwitte en visie vir jou lewe, en daarom is dit ’n fantastiese idee om ’n visiebord te skep wat uitsluitlik aan jul huwelik gewy is! Dit is nie net belangrik vir julle om só ’n bord te hê nie, maar ook om saam een te maak.
Dit help jou en jou maat om op dieselfde golflengte te bly en mekaar se visie vir jul huwelik raak te sien. Dit is maklik om ’n paar tydskrifprente uit te knip en te plak, maar om die oorkoepelende visie vir jul huwelik te identifiseer en te begryp, is iets anders.
Hoekom ’n visiebord?
- Dit help julle om sekere vrae te beantwoord, soos: Hoe lyk jul tuiste en die balans in jul werk/familielewe? Wat wil julle as ’n paartjie saam doen? Hoe wil julle hê jul huwelik moet oor vyf of 50 jaar lyk?
- Dit skep helderheid en duidelikheid. Nie net vir julle nie, maar ook vir jul kinders. Omdat ’n huwelik so abstrak is, kan dit julle en vir hulle help om ’n prentjie te vorm van wie en wat julle is.
- Dit maak julle bewus daarvan om voortdurend aan jul huwelik te werk – as ’n mens gereeld ’n visuele herinnering het van iets wat vir jou belangrik is, bly dit top of mind.
- As jul huwelik ’n keerpunt beleef, of as julle op die vooraand staan van ’n groot gebeurtenis (soos die koms van ’n baba of trek na ’n nuwe stad of land), is ’n visiebord ’n manier om julle in ’n onseker tyd te anker.
- Dit help jou om jouself en jou maat op ’n dieper vlak te leer ken. ’n Mens raak maklik verstrengel in dag-tot-dag take en roetine. Jy raak gewoond aan wie jy dink jou maat is. Tot jy uitgeboul word deur sy antwoord op ’n lewensveranderende vraag of ’n diepgesetelde droom van hom.
- Om hardop te verklaar wat julle graag wil wees, doen en hê as individue en as ’n paartjie, help om julle verantwoordbaar te hou vir julle planne. Julle kan mekaar aanmoedig en motiveer om jul doelwitte en drome te bereik.
- Dit gee julle goeie oefening in die spanwerk-departement! Jip, om ’n visiebord te skep, verg spanwerk. Jy gaan nie noodwendig hou van wat jou maat op die bord wil plaas nie, maar jy kan hom halfpad ontmoet.
- Twee individue is nie konstant nie – mense verander. Die persoon waarmee jy getrou het, is nie dieselfde as die persoon waarmee jy ’n huis deel nie. Daarom is dit noodsaaklik om seker te maak julle bly op dieselfde bladsy.
- Dis ’n manier om jul huwelik te vier! Dit kan ook net ’n vorm van dankbaarheid wees vir dít wat julle reeds het.
- Martha Beck, outeur van Finding your way in a wild new world: Reclaim your true nature to create the life you want, sê: “Die kombinasie van voorwerpe en geleenthede sal in jou onderbewussyn vassteek en jou lei om die regte keuses te maak om jou visie eg te maak.”
- ’n Visiebord word ook ’n skatkaart Dit is ’n bord waarop jy ’n kombinasie van beelde plak wat jy uit verskillende bronne kry – beelde van wie jy wil word, wat jy wil hê en waar jy wil leef.
- Onthou dat die visiebord jou en jou maat s’n moet wees. Nie ’n glanspaartjie of iemand anders se idee van sukses nie, maar julle s’n – vir die huwelik wat julle wil hê.
Hoe bou julle jul bord?
- Besluit op ’n datum waarop julle dit kan aanpak. Doen dit as ’n idee vir date night. Julle kan selfs besluit om dit vier weke aanmekaar, byvoorbeeld elke Woensdagaand, te doen. Maak dit prettig, met ’n wegneemete, ’n goeie bottel rooiwyn en musiek in die agtergrond.
- Moenie hierdie projek aanpak as julle albei nie gereed en opgewonde is om dit te doen nie. Dit mag nie ’n las wees nie, maar ’n loutere plesier. As julle nie gereed is nie, stel dit eerder uit (na ’n spesifieke datum en tyd).
- Moenie oorhaastig wees nie. Dit is iets wat deurgepraat moet word, oor gesels moet word en verander moet word. Jy wag dalk net vir daardie perfekte prentjie… en jy kry dit dalk eers oor twee weke.
- Begin net! Daar is selde twee selfversekerde, kreatiewe partye as dit kom by só ’n projek. Een van julle gaan waarskynlik hulpeloos voel en nie weet waar om te begin nie. Begin net! En moedig jou maat aan. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie.
- Stel jouself bloot en wees ook oop vir jou maat se drome. Om ’n visiebord te skep, verg ’n sekere mate van weerloosheid. Jy moet jou diepste begeertes blootlê (selfs al klink dit hóé absurd). En as dit jou maat is wat homself weerloos stel, moet jy ontvanklik en oop wees vir sy drome – al klink dit nie vir jou haalbaar nie.
- Gebruik gevoelens. Dit moenie ’n spogbord wees nie en dit help nie jul visiebord bestaan uit ’n klomp prettige foto’s sonder enige murg nie. Dink aan vrae soos hoekom julle dit wil doen/bereik en hoe dit julle sal laat voel. Dink ook aan kern-gevoelswoorde, wat julle kan help om ’n oorkoepelende tema vir jul bord vas te stel. Wanneer jy oor ’n foto besluit, dink eers of dit ’n spesifieke emosie by jou ontlok – só nie, laat dit heeltemal uit.
- Besluit op ’n tydlyn. Jy en jou maat moet besluit of die visiebord vir die volgende jaar, vyf jaar of 50 jaar geld. As dit ’n langtermyn-bord is, kan dit ’n aftreehuisie by die see insluit. Stel vas of julle aan ’n korttermyn-bord of ’n langtermyn-bord werk.
- Besluit op kategorieë. Om ’n visiebord aan te pak, kan oorweldigend voel. Om jou taak in kleiner afdelings in te deel, maak dit meer konkreet en makliker hanteerbaar. Besluit dus op afdelings soos gesondheid, geloof, besittings, ervarings, ontspanning, finansies, vriende en familie, beroepe.
- Skep jou visiebord deur te kyk na dinge wat julle inspireer. Reisfoto’s, padkaarte, foto’s, mooi aanhalings, teksverse, lappe, dekorfoto’s, argitek-planne, foto’s van dinge wat julle begeer, programme vir wedlope…
- Maak jul visiebord nie net vol van planne nie, maar ook van dinge wat julle reeds beleef het. Deel foto’s van julle waar julle saam pret het, asook mooi foto’s wat die intimiteit tussen julle uitbeeld, anders lyk dit soos ’n vriendskapsbord. Gebruik spraakborrels – sommer net om laf te wees.
- Maak julle bord mooi! Gebruik helder kleure, treffende foto’s en maak dit visueel baie kreatief en aantreklik. Plaas dit in ’n mooi raam en op ’n plek waar dit gedurig jul aandag gaan trek. ’n Goeie plek is in jul slaapkamer of badkamer, waar julle dit kan sien sodra julle jul oë oopmaak.
- Voeg by, neem weg of verander na hartelus. Julle drome gaan dalk vergroot, verklein of verander. Moenie toelaat dat daar ’n foto agterbly wat nie meer sy plek verdien nie. Dit is belangrik om ’n dinamiese bord te hê wat pas by die dinamiek van jul eiesoortige huwelik!
Addisionele bronne: www.startingwitha.com, www.secure.gravatar.com, www.blackandmarriedwithkids.com, www.evelynlim.com, www.theadventurouswriter.com.