Wat sal gebeur as jy positiwiteit in jou huwelik omhels, vars begin en mooi begin dink voor jy vir jou maat nee sê? Spring clean jou huwelik deur “nee” by die deur uit te smyt.

Promosie

Onthou julle die 2008-fliek Yes Man met Jim Carrey in die hoofrol? Sy karakter, Carl Allen, was vasgevang in ’n groef van negatiwiteit, tot hy ’n selfhelp-seminaar bygewoon het waar hy geleer het om die krag van “ja!” te ontgin. Om só te leef, het hom gehelp om allerlei wonderlike, veranderende ervarings te beleef en só het hy ’n verhoging by die werk en selfs ’n nuwe romanse gekry!

Natuurlik is geen fliek ’n sukses sonder ’n dramatiese draaipunt nie en in sy geval is té veel positiwiteit nie ’n goeie ding nie. Maar wat daarvan as jy die konsep van Yes Man in jou huwelik toepas?

Toe Jennifer Smith, skrywer van die blog Unveiled Wife, in 2014 vir God gevra het wat sy moes opgee gedurende haar 40-dae vas voor Paasfees, het sy aangeneem dit sou ’n kossoort of elektroniese toestel wees. Die antwoord het haar egter verbaas toe sy ’n sterk oortuiging gekry het dat haar offer die woordjie “nee” moes wees. Sy het begin agterkom hoe gereeld sy vir haar man nee sê.

Promosie

Wanneer hy haar vir ’n guns gevra het, ’n mening gedeel het of selfs ’n seksuele uitnodiging aan haar gerig het, het sy maklik die woordjie “nee” geuiter en skielik het sy begin bewus word hiervan. Sy het begin met haar vas en skryf op haar blog hoe moeilik dit vir haar was om met die uitdaging vol te hou. Op dag een het sy in minder as 30 sekondes nee gesê en agtergekom dat haar gewoonte om beswaar te maak, moeilik was om te breek.

Sy het God gevra om haar te help en haar begeerte om ’n ja-vrou te word, het gegroei! Een van die opsigte waarin Jennifer en haar man ’n stryd gehad het, was seksuele intimiteit. En sowat halfpad in die vas kon sy agterkom dat hulle nie net meer gereeld seks gehad het nie, maar ook beter seks!

Kort voor lank het haar man gerapporteer dat hy meer gerespekteerd voel, dat hul verhouding minder stresvol voel, dat sy ’n gawer mens geword het en dat dit vir hom makliker geword het om teenoor haar oop te maak en te sê hoe hy voel.

Hoewel ’n mens sou dink dat dit slegs groot opofferings van haar kant af geverg het, skryf Jennifer op haar blog hoe belonend dit was – ook vir haar! “Dit was só mooi om te sien hoeveel invloed ek as vrou op my man het en hoe my bedoeling om beter te wees, my huwelik positief beïnvloed het. Ek het ook meer liefdevol, meer versorgend en meer soos Christus gevoel wanneer dit by diensbaarheid kom, en ek voel gelukkiger.”

Kan dit werk?

Ja, mits jy regtig wil hê dit moet! En as jy die een is wat dit inisieer. As jy ’n ja-vrou word en manlief bly ’n nee-man, kan dit maklik vir jou voel asof jy misbruik word. Natuurlik moet hy ook nie die situasie misbruik nie, maar ook ’n ja-man wees en jou grense respekteer.

Amy Hatley, een van die lesers wat reaksie gelewer het op Jennifer se blog, het geskryf hoe sy eenkeer ’n pastoor se vrou hoor praat het en dat dié gesê het sy het in 20 jaar nog nooit seksuele toenadering geweier nie.

Dit het uit haar toespraak duidelik geword dat hierdie vrou nie ’n deurmat was nie, maar vertrou het dat sy dit nie tot haar eie voordeel gedoen het nie. Só het sy ook besluit om die pastoor se voorbeeld te volg en te vertrou dat haar man die Here nader in al sy besluite.

Hoe doen jy dit?

  1. Begin deur aan jouself ’n uitdaging te stel. Doen ’n tien dae lange ja-uitdaging. Daag manlief sommer ook uit om saam met jou hieraan deel te neem.
  2. Besluit om in hierdie tien dae jou huwelik jou eerste prioriteit te maak. Wanneer jy dus ’n keuse moet maak tussen ’n sosiale verpligting en jou maat, kies jou huwelik.
  3. Skryf die woordjie “ja” op jou ringvinger om jou hieraan te herinner.
  4. Onthou dat julle verwagtinge van mekaar gedurende dié tyd wedersyds moet wees. Moenie die situasie misbruik nie. Dit mag nie uit ’n plek van selfsug groei nie.
  5. Sê summier ja wanneer jou maat jou vra vir ’n spesiale dis of om die vullissakke buitentoe te neem. Sê ook ja vir seksuele toenadering en sê ja met jou tyd.
  6. Sê ja vir die gedagte om jou eie agenda eenkant toe te skuif. Soms is dit moeilik, veral as jy daarvan hou om in beheer te wees – maar vertrou jou maat se oordeel.
  7. Sê ja vir spontaneïteit. Alles hoef nie altyd beplan te word nie en “in die hitte van die oomblik” aktiwiteite kan jul huwelik ’n hupstoot gee.
  8. Sê ja vir jou maat se voorkeure. Natuurlik stem julle nie altyd saam nie en teen dié tyd ken jy waarskynlik die waarde van tegemoetkoming, maar dit bly moeilik om jou maat sy sin te gee – veral wanneer dit teen joune indruis. Maak dié week hiervan ’n prioriteit.
  9. In haar boek, 52 ways to wow your husband: Put a smile on his face, skryf Pam Farrel ook haar weeklange uitdaging: “Ek sê nie dat jy nie ’n mening moet hê nie. Ek vra dat jy gebiede moet soek waar jy bereid is om jou man se leierskap te aanvaar, dinge op sy of haar manier te doen en jou eie mening in sommige omstandighede prys te gee.
  10. Dit kan later geforseerd voel om ja te sê. Wissel dit af met: “Goeie idee” of “Klink goed” of “Kom ons maak so!”, selfs al voorsien jy dat sy planne nie gaan werk nie. Gee jou maat die voordeel van die twyfel.

Kyk na die krag van positiwiteit, die waarde van eliminasie (van die woordjie “nee”) en ondersoek die impak hiervan op jou huwelik. Ons voorsien dat jul wedersydse loon dalk só groot gaan wees dat die tien-dae uitdaging moontlik ’n permanente instelling kan word.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.imom.com, www.blessedarethefeet.com.