“Net een soen. Soms is dit al wat dit verg om ’n hart sy balans te laat verloor. En soms wil ’n mens niks so graag hê soos die kans om te val nie . . .” Dis die woorde van ene JM Storm en ons stem saam! Ongelukkig raak French kisses in ’n huwelik dikwels ’n bedreigde gebruik.
Hoekom is soene in ’n huwelik nodig? As jy dié vraag vra, is dit waarskynlik bloot omdat jy al vergeet het wat ’n warm soen aan jou kan doen! Soene stel oksitosien vry. Dit verlaag stres en help ’n mens om nader aan mekaar te voel.
Het jy geweet Internasionale Soendag was op 6 Julie? En dat soen groot gesondheidsvoordele vir jou inhou? (Daar is ’n rede waarom ’n hittige smooch-sessie voor ’n kaggelvuur in die hartjie van die winter die ononderhandelbare ding is om te doen!) Dit beveg siekte. Gedurende ’n warm soen stel jou liggaam adrenalien vry, wat gevoelens van pyn kan verminder. Saam met die endorfiene wat ’n soen vrystel, help dit jou dus om van skete ontslae te raak!
Natuurlik is dit goed vir jou huwelik ook. ’n Studie het selfs bevind dat mans vyf jaar langer leef as hulle hul vrouens soen voor hulle soggens werk toe gaan! Tog doen ons dit al hoe minder, hoe langer ons getroud is.
In ’n artikel in Huffington Post vertel Scott Gornto van navorsing wat hy onder getroude paartjies gedoen het.
Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat daar hoofsaaklik vyf redes is waarom getroude paartjies minder soen: Sommige paartjies sien nie meer kans vir die druk wat met intimiteit gepaard gaan nie. Met ’n besige roetine, wil hulle die fisieke ontlading van seks hê sonder die emosionele bagasie wat daarmee gepaard gaan.
Ander getroude pare wag vir die opwekking, passie en opwinding, maar besef nie dat hierdie sensasies dikwels die gevolg van ’n goeie soen is (en nie andersom nie). En dan is daar die verwagting van seks. Baie paartjies het aan Scott gesê dat soen altyd met die verwagting van seks gepaard gaan.
Hoe ironies dat daar ook pare was wat gesê het dat hulle ongemaklik voel met ’n soen omdat dit so lank was sedert die laaste soen! Om te dink dat soen die natuurlikste ding was toe julle getroud is . . .
As julle dit verleer het om te soen, hier is ’n paar weergawes wat beslis die vonk aan die brand sal kry:
DIE BUBBLELICIOUS-SOEN: Plaas kougom in jou mond. Kou en trek dit oor jou tong. Begin jou maat nou soen en blaas ’n kougomborrel in sy mond en laat dit pop! Dit is ’n lekker prettige tegniek wat julle albei sal laat giggel.
DIE DRIEHOEK-SOEN: Begin deur jou maat op die lippe te soen soos jy normaalweg sou. Beweeg nou stadig van jou maat se mond na sy/haar wang. Van daar af beweeg jy stadig (met ligte soene) na sy/haar nek, en weer stadig na die lippe. Dit vorm ’n driehoek en is ’n wonderlike tegniek om intimiteit te bou én as voorspel te dien.
DIE RAAMWERK-SOEN: Soen jou maat liggies daar waar sy/haar nek en kakebeen mekaar ontmoet. Beweeg nou op al om die “raam” van sy/haar gesig tot by jou maat se ore vir die volgende soen.
DIE OORLOB-SOEN: Jy weet dit dalk nog nie, maar jou maat se ore is een van die sensitiefste dele van die lyf. Gebruik die knibbeltegniek. Terwyl jy jou maat se oor soen, begin stadigaan om jou tande te gebruik en die oor liggies tussen jou tande te knibbel. Beweeg stadig terug sodat sy/haar oor tussen jou tande deur glip. Onthou, die doel is nie om jou maat seer te maak nie, maar om hom of haar ’n ander tipe sensasie te gee!
DIE SKOENLAPPER-SOEN: Beweeg só na aan jou maat dat jul wimpers aan mekaar raak. Knip nou vinnig jul oë sodat hulle fladder soos ’n skoenlapper se vlerke. Dit is prettig en julle kan dit doen wanneer julle wil asem skep ná ’n intense soen.
DIE ENKELLIP-SOEN: Neem een van jou maat se lippe tussen joune en suig liggies daaraan. Dis baie romanties en as jy dit reg doen, sal hy/sy hoendervleis hê!
DIE SPIDERMAN-SOEN: Julle gaan dalk nou begin giggel – dis okay. Manlief, kry jou masker uit jou huiswerk-pakkie. Lê op die bed, met jou kop agteroor (sodat die bloed wegbeweeg van dáár waar dit nou vir jou dinge begin moeilik maak!). Eva, jy gaan nou plat op die vloer lê en jou man soen sodat jou bolip op sy onderlip is en vice versa. Dit is ’n lekker pret-soen!
DIE GEHEIME BOODSKAP: In die middel van ’n behoorlike tongsoen, moet jy ’n geheime boodskap met die punt van jou tong teen jou maat s’n uitspel. Dit voel dalk vreemd, maar as jou maat die boodskap reg raai, kan hy/sy weer een van bogenoemde soene van sy/haar keuse uitspel!
DIE TIENER-VAMPIERSOEN: Komaan, ons weet julle wil! Dit is tegnies nie regtig ’n soen nie, dis ’n rooi merkie wat eintlik ’n kneusplek is en wat jy kry as iemand hard genoeg daaraan suig. Dis ’n bietjie seer, maar vir baie mense is die suigaksie lekker! As tiener was dit embarrassing om met ’n hickey rond te loop, maar nie meer nie!
’n Paar topwenke vir ’n goeie soen:
- Gebruik jou tyd! Soen jou maat ligweg, trek terug en begin weer. Bou afwagting! Elke oomblik wat jy dit uitrek, maak die volgende soen soveel meer spesiaal. Raak aan jou maat, speel met sy/haar hare en terg ’n bietjie met ’n piksoen hier en daar voor jy alles gee!
- Vergeet van die eindbestemming. Fokus op die reis! Nee, soen hoef beslis nie altyd in seks oor te gaan nie. As jy daardie druk van jouself en van jou maat afhaal, kan soen super-eroties en ekstra spesiaal wees.
- Wees kreatief. Doen dinge wat julle nog nie gedoen het nie en eksperimenteer met soene soos julle sou doen met seks. ’n Soen is nie ’n soen nie. Daar is ontelbare weergawes, sensasies en moontlikhede . . .
- Onthou, ’n goeie soen is soos behoorlike dialoog. Dit is net soveel gee as wat dit ontvang is. Wees fyn ingestel op jou maat se reaksie en pas. Is jou maat in ’n romantiese bui of ’n bui wat getuig van seksuele honger? Geniet hierdie speletjie volkome!
- Nie net oopmond nie . . . maar ook oop-oë! ’n Soen kan soveel meer spesiaal wees as jy jou oë oop hou. Ja, toe oë verskerp dalk die res van jou sintuie, maar as jou oë oop is, kan jy vir ’n slag ook sien hoe sexy jou maat lyk in ’n oomblik van passie. Neem ’n breuk. Soen weer. ’n Oop-oë soen kan baie persoonlik wees.
- En ’n laaste, baie belangrike wenk . . . Onthou dat ’n soen beslis nie net tot die lippe beperk is nie!