Partykeer verg die huwelik nie ’n reusagtige kragopwekker nie, maar net dat iemand onthou om die ligskakelaar aan te sit.
’n Mens se huwelik is nie altyd waar jy dit wil hê nie. Soms smag jy na meer passie, romanse, opwinding en kommunikasie. En soms na minder konflik, minder misverstande en minder roetine. In die woorde van Courtney Geter, ’n gelisensieerde huweliks- en gesinsterapeut op marriage.com: “’n Verhouding is soos ’n gebou of struktuur. Oor tyd beleef geboue en strukture wind en weer en volgehoue onderhoud, sowel as intensiewe herstelwerk.”
’n Klein probleem word soms groot voor ons oë en dan voel ons dat niks minder as ’n wonderwerk dié huwelik kan red nie. Maar hier is die goeie nuus: Soms verg dit slegs klein treë na grootheid – ook in jou huwelik. Soms is dit geringe aanpassings wat die grootste verskil kan maak . . .
Maak verandering ’n plesier, nie ’n plig nie
Ons leef in ’n kitsgenerasie – ons wil onmiddellik gróót resultate sien. Die probleem is dikwels dat groot resultate klein, volgehoue gewoontes verg. Maar ons breine bied dikwels weerstand teen die herhaling van uitdagings en dis maklik om moed op te gee wanneer ’n mens nie dadelik resultate sien nie. Maak dus jou doelwit lekker!
Verteer dit in sarsies
Breek jou hoofsaaklike doelwit op in kleiner doelwitte. In plaas daarvan om te sê: “Ek wil ’n beter huwelik binne 30 dae hê”, sê eerder: “Ek wil hê dat ek en my maat minstens een keer per dag vyf minute lank ononderbroke met mekaar kan gesels” of “Ek wil seker maak ons soengroet mekaar hallo en totsiens elke dag” of “Ek wil, elke keer wanneer my humeur opvlam, die kalmte van gees behou om tot tien te tel voordat ek my maat terug antwoord”.
Onthou ook om jou doelwitte realisties te maak binne julle huwelike en in lyn met jul persoonlikhede.
Hou jou oë oop vir mikro-oomblikke
Die webtuiste WebMD beveel aan dat ’n mens na mikro-oomblikke moet soek. Jy moet bewus wees van piepklein geleenthede om nader aan jou doelwit te beweeg. As jy dus jou kommunikasie met jou maat wil verbeter, probeer om op te kyk van jou telefoon af en oogkontak te maak wanneer hy met jou praat. Onthou dat nuwe gedrag drie weke neem om ’n gewoonte te raak, so wees geduldig.
Luister na wyses se waarhede oor klein treë na grootheid:
- “Jy moet tevrede wees met klein treë. Dis al wat die lewe is. Klein treë wat jy elke dag neem sodat jy, die dag wanneer jy terugkyk, alles bymekaar kan tel en weet jy het ’n afstand afgelê.” – Katy Kacvinsky
- “Die geheim om voor te kom, is om te begin. Die geheim om te begin, is om komplekse, oorweldigende take in klein, beheerbare take op te breek en dan met die eerste een te begin.” – Mark Twain
- “Die sleutel om ’n droom te laat realiseer, is om nie te fokus op sukses nie, maar op uitnemendheid. Dan sal selfs die klein treë en klein oorwinnings op jou pad groter betekenis kry.” – Oprah Winfrey
Begin by jouself
Verander één ding aan jouself wat jou maat gelukkiger sal maak. Jy weet wat jou maat frustreer en irriteer. Is daar iets wat jy kan verander? As dit hom gek maak om die honde te versorg, staan een dag per week vir hom in. As hy lief is vir tuisgekookte etes, doen moeite om een aand per week te kook (prevention.com).
’n Verskil in sewe minute!
In die boek The 7-minute difference noem Allyson Lewis die volgende waarhede:
- Verandering begin die oomblik wat jy besluit om te verander.
- Jy moet wíl verander.
- Jy moet verandering aanvaar.
- Jy moet die proses van verandering geniet.
Die boek help mense om hul volle potensiaal te bereik deur op hierdie vier beginsels te fokus. Allyson gebruik konkrete voorbeelde, insidente en raad soos: “As jy wil hê jou lewe moet anders wees, moet jý anders wees.”
Drie stappe na verandering
Volgens die webtuiste simplyoneinmarriage.com is verandering nooit maklik nie. Dit verg deursettingsvermoë, visie en moeite. Jy kan dié drie stappe neem om dit te laat werk:
- Hou jou treë eenvoudig. Hoe makliker en eenvoudiger jou plan, hoe groter is jou kans om daarmee deur te druk en dit te voltooi. In plaas daarvan om te sê: “Ons wil elke week ’n date night by ’n restaurant laat realiseer”, begin by: “Net ’n halfuur per week eksklusief in mekaar se geselskap is ons doelwit”, en werk van daar af na ’n hele aand toe.
- Hou jou treë klein. Die webtuiste sê: “Elke klein tree word groot as dit in liefdevolle gehoorsaamheid aan God geneem word.” Begin by ’n druk per dag, in plaas van ’n uurlange gesprek.
- Hou jou treë gelykmatig. Moenie haastig word nie! In plaas daarvan om resultate te wil sien in die eerste week, hou vol met jou plan. Dit is die dag-tot-dag dissipline wat jou na jou doel toe sal laat beweeg.
Lees weer…
“Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie.” – Psalm 17:5
Een klein stap . . .
Vra jou maat meer vrae. Dit is een klein dingetjie wat jy kan verander en wat die wêreld vir hom kan beteken. Deur hom uit te vra oor sy dag, stokperdjies en menings, wys jy dat jy belangstel in sy doen en late en wat hy dink en voel. Dit is ’n klein verandering wat ’n groot verskil in jou huwelik kan maak.
Deur Annelize Steyn