Daar is ‘n rede waarom ‘n man so lief is vir ‘n afstandbeheer. Nommer een is natuurlik omdat hy die televisie daarmee kan beheer en só die uitkoms volgens sy insette kan antisipeer. En ja, die gevolge is seker (behalwe wanneer die batterye pap is). Was dit maar dieselfde met vroue…

Promosie

Jy kan nie verstaan hoe dit haar drie ure kan neem om een bra te koop nie. Jy kan nie kleinkry hoekom sy by die supermark instap met die doel om ‘n melk en ‘n brood te koop, maar dan uitstap met dertien ander items in haar pakkie nie. Jy verstaan nie hoekom jy met een verfkwas die hele huis kan verf, maar sy nege kwaste nodig het om haar gesig mee te verf nie. En waarom sy elke dag met haar ma oor die telefoon moet gesels nie – minstens twintig minute lank!

Daar is baie dinge van ‘n vrou wat ‘n man maar net nie kan kleinkry nie. In haar artikel “5 Things men don’t get about women” op haar blog en webtuiste, www.leandiebuys.co.za, lys Leandie Buys, verhoudings-terapeut en kliniese seksuoloog nog vyf dinge wat mans maar net nie van vroue verstaan nie:

  1. Haar manier van gesels. “In my verhoudings beradings-praktyk kry ek dikwels paartjies wat kommunikasievaardighede kortkom. Een van die redes is dat die man as’t ware sy vrou se stem weggeneem het. Gewoonlik heeltemal nie-intensioneel, maar dit gebeur met baie paartjies,” vertel Leandie.

Vroue klets graag! En hulle gebruik ook graag hul stemme om probleme op te los. “Of dit is met ‘n moeilike persoon by die werk of ‘n stoute kind, of ‘n lewens-doelwit wat hulle sukkel om te bereik – hulle sal die saak met hul vriendinne uitpraat. Tog sukkel baie vroue om oor hierdie dinge met hul maats te praat.”

Promosie

Leandie meen die rede hiervoor is omdat mans sukkel om te verstaan wat die doel van hul vroue se woorde is: Is my vrou net lus vir vent of vra sy my hulp, wonder mans daagliks. Dit is natuurlik vir die meeste mans (wat van nature mos fixers is) om laasgenoemde opsie te kies en die saak vír haar te probeer oplos  – selfs nog voor sy klaar gepraat hê! Dit het ongelukkig ‘n negatiewe uitwerking.

HOE GEMAAK? Leandie meen dat jy moet luister na die kernwoorde wat jou maat gebruik. As dit gaan oor werk of iemand wat haar frustreer, luister net en bevestig haar gevoelens, sonder om jou raad aan te bied: Sê byvoorbeeld: “Sjoe, ek is jammer dat jy dit moes doen” of “Ek kan nie glo sy het dit vir jou gesê nie!” Wanneer sy egter iets vra soos: “Wat moet ek doen?” of “Wat dink jy?” gee sy jou toestemming om jou voorstelle met haar te deel.

  1. Haar gedagtes rondom seks. Vir Leandie is temas soos ‘n lae libido, min intimiteit, trauma en erektiele disfunksie algemeen onder die paartjies wat sy behandel. Omdat dit so ‘n groot deel van ‘n huwelik uitmaak, lei seks-probleme dikwels tot egskeiding.

Soms is dit vir ‘n vrou die heel maklikste om ‘n orgasme na te maak (net om manlief tevrede te stel). Ongelukkig het dit ‘n negatiewe uitwerking op die paartjie se sekslewe. In plaas daarvan dat dit hulle nader aan mekaar bring, skeur dit hulle net verder uit mekaar.

Leandie gebruik die volgende analogie om dit aan haar pasiënte te verduidelik: “’n Vrou se vagina het ‘n sekuriteitshek. As sy veilig by jou voel (emosioneel naby en fisiek veilig) sal sy die hek oopmaak. Die hek is daar om haar hart te beskerm.”

HOE GEMAAK? As dit traag gaan in jul sekslewe, vra jouself die volgende vrae:

  • Is daar ‘n konneksie? Moenie haar vir dae lank emosioneel afskeep, net nou-en-dan onderling mompel en dan van haar verwag om gereed te staan in die slaapkamer nie. As die emosionele konneksie nie daar is nie, sal sy ook nie lus wees vir seks nie. Praat met haar, luister na haar en laat haar werklik geliefd voel.
  • Is haar emosionele en fisieke energie-tenk vol? As dit vir haar voel asof sy alles by die huis alleen moet hanteer en almal se probleme alleen op haar skouers moet dra, gaan sy nie energie hê om in jou behoeftes ook nog te voldoen nie. Help met die kinders, help in die huis en ondersteun haar emosioneel, sê Leandie.
  • Is jy opreg? Ah, hier is die vangplek : Jy doen alles reg met die hoop om vanaand matras-aksie te sien, maar sy bly so koud soos ‘n igloo? Dan moet jy dalk kyk na jou intensies. As jy al die regte dinge doen – net sodat jy seks kan kry, sal sy weet jou intensies is nie opreg nie. Maak seker dat jy jou deel doen – op ‘n gereelde basis – sonder om iets terug te verwag. Neem haar op ‘n afspraak, maak die kombuis skoon, bederf haar met parfuum en sy sal meer gereeld haar hek vir jou oopmaak…
  1. Haar gevoelens rakende sekere areas… Leandie meen dat ‘n man wat dink jy mik reguit vir ‘n vrou se geslagsdele, die pot vêr mis sit. “Om jou maat se liggaamsdele op te eis en jouself volle toegang te gee sonder haar toestemming, laat haar nie veilig, geliefd of seksueel opgewek voel nie,” sê sy.

“Mans dink dikwels om die begeerlikste dele van ‘n vrou se lyf te gryp sal lei tot onmiddellike aantrekking van haar kant. Verkeerd! Selfs lighartige aanraking en grappe kan ‘n vrou afsit. Onthou dat jou vrou geslagsdele privaat is en dat slegs sy toegang deur haar ‘sekuriteitshek’ kan gee. Jy sal net toegang verkry as sy geliefd, veilig, sexy en mooi voel”, meen Leandie.

Onthou dat jou vrou nooit jou besitting is nie. Haar lyf ook nie (dit is waarom jy nie die reg het om te besluit wat sy aantrek nie). Ons leer ons dogters om hul geslagsdele te beskerm en ander nie toe te laat om hulle fisiek te misbruik nie. Gebruik dieselfde diskresie in jou huwelik en wag vir toestemming voor jy voortgaan.

HOE GEMAAK?  Komplimenteer haar (nie net haar borste en boude nie). Moenie die komplimente algemeen hou nie, maar maak spesifieke opmerkings oor haar hare, haar borste, haar heupe. Vertel haar hoe lekker sy ruik en hoe sag haar vel voel. Komplimenteer haar ook oor haar innerlike eienskappe sodat sy nie bloot soos ‘n trofee-vrou of ‘n objek voel nie. Vertel haar hoe jy haar werk-etiek bewonder, haar vrygewigheid, die manier waarop sy ‘n staatmaker vir haar vriendinne en vir julle is. Wees eerlik en sê dit onvoorwaardelik vir haar – sonder om iets terug te verwag.

  1. Haar onverklaarbare hormone! Jou wonderlike vrou is anders as jy geskape en haar kop – en lyf – werk anders as wat joune werk. Dit is waarom dit soms vir ‘n man moeilik is om te verstaan hoekom sy vrou nie soos hy dink nie.

Eerstens: Sy gaan nie so gereeld na seks smag soos jy nie. Nie omdat sy ‘koud’ is nie, maar omdat sy ‘n vrou is. (Die stories wat pornografie en flieks ons vertel van vroue wat áltyd lus en gereed is vir seks, is ‘n leuen!) Ja, daar is enkele verhoudings waar ‘n vrou ‘n groter seksdrang as haar man het, maar dié verhoudings is nie algemeen nie.

Hormone is dít wat grootliks die seksdrang bepaal. Testosteroon is die hoofsaaklike hormoon wat die seksdrang beheer. Leandie sê: “Dink aan ‘n glas wat driekwart vol is – dít is hoeveel testosteroon die meeste mans het, in vergelyking met vroue wie se glas kwart vol is.” Daarby word jou vrou se seksdrang ook nog beheer deur haar menstruele siklus, haar emosionele gesondheid en haar algemene gelukkigheid in die huwelik.

En nee, daar is nie ‘n pil om haar seksdrang te “genees” nie, al probeer die internet derduisende hiervan aan ‘n mens verkoop! Daar is nie iets fout met haar seksdrang nie. Maak seker jou verwagtinge is realisties.

Jy voel dalk dat haar seksdrang baie afgeneem het teenoor die dae toe julle pasgetroud was. Hou in gedagte dat dit ook die dae was vóór julle kinders en veeleisende loopbane gehad het. Die manier waarop jy haar help met hierdie leefstyl-veranderinge, kan ook haar libido bepaal.

Dit klink dalk voor-die-hand-liggend maar Leandie sien baie paartjies in haar praktyk wat op die punt van egskeiding staan, omdat verwagtinge in die slaapkamer verskil. In baie van hierdie gevalle doen die mans alles wat hulle kan (hulle koop seksboeke, seksspeelgoed, pille en was selfs die skottelgoed twee keer!) net om te vind dat niks werk nie, vertel Leandie.

“As jy op hierdie plek in jou verhouding is, is die beste raad wat ek jou kan gee, om ‘n professionele seksuoloog en verhoudingsterapeut te gaan sien wat jou kan help om deur hierdie verskriklike komplekse kwessie te werk. Dit mag dalk aan die begin baie privaat en vernederend voel om hieroor te praat, maar dit kan help om jou huwelik te red.”

Jou brein is jou grootste seksorgaan en jou vrou moet emosioneel veilig en fisiek selfversekerd voel – so nie kan jy worstel met seksuele intimiteit. Werk saam met ‘n professionele berader hierdeur.

HOE GEMAAK? Moenie “average sex drive of couples” google nie. Moet nooit jou huwelik met dié van ander vergelyk nie. “Dit is een van die grootste kwessies wat ek in my praktyk sien. Om jou huwelik te vergelyk met dié wat jy op televisie sien, met jou vriende of met vorige minnaars, sal net tot ontevredenheid lei.” Wat jy eerder kan doen, is om jou verhouding te evalueer en, as jy deur ‘n rowwe stadium gaan, te werk om dit te verbeter en reg te maak. Moenie ander mense se verhoudings as maatstaf gebruik nie.

“Wat ek my pasiënte oor en oor vertel is dat daar nie so iets is soos ‘normaal’ nie. Of jy nou sewe keer per week seks het of net een keer per maand, dit het geen effek nie – behalwe as dit probleme in jou verhouding veroorsaak. As een van julle meer seks verwag as die ander een, sal daar spanning, verwyt en frustrasie in die verhouding opbou, wat slegs opgelos kan word deur respekvolle, eerlike en openlike kommunikasie.”

  1. Die manier waarop sy na haarself kyk. Behandel jou vrou en jou dogters soos prinsesse, meen Leandie. As jy opbou, in plaas van afbreek, sal jy die gevolge oes. Vertel jou dogter hoe haar toekomstige lewensmaat haar moet behandel – met respek en liefde. Of beter – wýs haar deur ‘n voorbeeld te stel. “As jy jou maat kan oortuig om haarself deur jou oë te sien – as die wonderlike, sterk, pragtige, en sexy menslike wese wat sy is – en nie ‘n seks-objek nie, sal jy sien hoe die emosionele en fisieke intimiteit in jou huwelik groei.”

Jou vrou sal moontlik nooit vir jou heeltemal sin maak nie – sy hoef ook nie. God het ons geslagte wonderbaarlik verskillend geskape, juis om mekaar soos ‘n legkaart aan te vul en om die lewe interessant te hou. Jy hoef haar nie te verstaan nie, maar jou poging om dit te probéér doen, sal vir haar die wêreld beteken.

Artikel deur Annelize Steyn

Indien jy meer sulke artikels KLIEK HIER vir nog INTIEM artikels propvol praktiese raad, idees en inspirasie vir jou huwelik!