Die meeste paartjies, veral dié wat al lank getroud is, is nie showy as dit by seks kom nie. Geen meer gegeurde kondome of piepklein onderklere word ingespan wanneer dit sulke tyd is nie. Jy en jou maat hou dalk altyd by wat vir julle werk. Tog meen verskeie kenners jy moet dan en wan jou wederhelfte tussen die lakens verras om op die lang termyn ’n gelukkige sekslewe te hê.
Volgens die huwelikskonsultante Kobus en Linda Pauw is die meeste mans op die misterieuse en avontuurlike van seks ingestel, en vir die meeste vrouens is dit weer belangrik om vir hulle mans afwagting te skep. Ons het gaan uitvind hoe jy die regte atmosfeer kan skep vir goeie seks sodat jy en jou wederhelfte ’n Oscar tussen die lakens kan wen.
Begin eerste . . .
. . . deur afwagting te skep vir die sensuele vertoning wat volg deur ’n kaartjie te druk met die tyd en plek vir die aksie wat jy beplan. Besluit nou om gebruik te maak van beligting, musiek, bybehore en geure om vier van jou maat se vyf sintuie te prikkel.
KLEUR die aand in
Verskillende kleure simboliseer verskillende gevoelens. Blou – vertroue, rustigheid en lojaliteit. Oranje – speelsheid, warmte en sensualiteit. Koper/brons – liefde, passie, vriendskap en seks. Swart – elegansie, sexy en verleidend. Rooi – passie, seks, liefde en opwinding. Pienk – sagtheid, reinheid en sekuriteit. Jy kan kleur op verskeie maniere in jou vertoning gebruik. Gooi ’n gekleurde serp oor ’n lampie sodat dié kleur oral weerkaats, trek dié kleur onderklere aan of voer jou maat kos in dié kleur. Besluit watter gevoel jy wil oordra in julle sensuele vertoning en gebruik net dié kleur. Jy kan die uitnodiging dan ook in dié kleur uitdruk.
RUIK die soet geur van muskus
Of jy dit nou wil weet of nie, jou neus het ’n rol gespeel in jou keuse van ’n maat. Reuk kan ook in ’n oogwink herinneringe herroep en emosies wek. In ’n studie deur dr Alan Hirsch, ’n neuroloog wat spesialiseer in die reuk- en proesintuig, kan reuke ’n mens ook seksueel prikkel. Hy het bevind dat die reuk van laventel en (van alles) pampoenkoekies mans tot 40% meer opwek. “Dit blyk dat kosreuke die grootste uitwerking het op seksuele opwekking,” sê dr Hirsch.
Hy verduidelik dat die gedeelte van jou brein wat reuk interpreteer, ook die emosionele gedeelte van jou brein is waar seksuele gedagtes en fantasieë vlamvat. Reuk is dus ’n baie belangrike aspek vir ’n sensuele ervaring. Reuke soos vanielje, basiliekruid, licorice, sjokolade, koffie en kaneel kikker beide geslagte se libido op.
As jy egter huiwerig is om in kaneel te rol voor julle aand begin, soek ’n parfuum of naskeermiddel met dié ondertone. Jy kan ook ’n druppel gegeurde olie op jou en jou maat se kussings drup, dit saam met olie meng vir ’n massering of dit op ’n serp drup waarmee jy van plan is om hom/haar vas te bind. Hou die reuke egter minimaal, want te veel reuke kan oorweldigend wees.
PROPS om hoendervleis te gee
Gebruik props wat op die tassintuig fokus. Enigiets wat jou maat kan verras of hoendervleis gee, is ’n goeie idee. Oorweeg dit om vere te gebruik om jou wederhelfte te kielie, of satyn oor hom/haar te laat gly terwyl hy/sy geblinddoek is. Probeer om hitte en koue te inkorporeer wanneer julle liefde maak. Dit skep alles afwagting vir die groot finale.
MUSIEK wat warm maak
Sex bomb, Your sex is on fire, Shook me all night long . . . die lys van liedjies met seks as tema is baie lank en daar is ’n rede daarvoor. Wat is ’n vertoning sonder goeie musiek? Die McGill Universiteit in Kanada het in ’n studie bevind musiek stel endorfiene vry wat jou laat goed voel en sommige musiek laat jou hartklop en asemhaling versnel. Die regte musiek dra dus by tot ’n meer vervullende sensuele ondervinding.
Ons het die bekende platejoggie, JS van Pretoria, gevra om ’n lys van liedjies vir ’n sensuele vertoning saam te stel. Hy sê die ritme van liedjies is die belangrikste, maar jy moet tog ook na die woorde luister.
“Musiek bepaal die atmosfeer, so kies wat jou maat van hou,” sê hy. Die speellys wat hy saamgestel het, is vir ’n intieme, rustige atmosfeer, maar bevat ook ’n paar snitte wat beloof om julle kamervensters te laat opwasem.
Jy kan egter musiek kies wat spelerig is – byvoorbeeld liedjies wat almal ’n sekstema het of wat ’n vinnige tempo het wat die pas van julle aand sal bepaal.
DINK dieper . . .
Om die perfekte ondervinding te hê, moet julle egter op meer as net die fisiese fokus. Kobus en Linda beklemtoon dat die seksuele ’n diep emosionele en geestelike konneksie is wat op ’n fisiese vlak afspeel. “As jy dus net op die fisiese fokus, sal jy geen dimensie in die seksuele verhouding met jou maat ervaar nie,” sê Linda. Hulle sê dit is ’n proses van gesprekvoering en romanse wat oor ’n dag of wat voor die tyd afspeel om te verseker beide partye is ná die tyd volkome tevrede. Hulle sê dit is belangrik dat paartjies die seksuele as ’n plek sien waar hulle hulle maats dien.
Neem dus jul tyd. Gebruik jou verbeelding. Gebruik musiek, reuk, kos en kleur om die perfekte sensuele ervaring te skep en as die spreekwoordelike gordyn uiteindelik sak, is ’n encore ’n gegewe!
Die ideale speellys vir ’n romantiese aand!
- Barry White – You’re my first, my last, my everything
- Mariah Carey – Touch my body (Cyril Hahn remix)
- Chris Isaak – Wicked game
- David Bowie – Breaking glass
- Depeche Mode – I feel you
- Radiohead – Talk show host
- Marvin Gaye – Let’s get it on
- Robin Thicke – Teach you a lesson
- Ellie Goulding – Love me like you do
- Major Lazer & DJ Snake – Lean on
- Bob Marley – Turn your lights down low
Deur Carla Coetzee
Addisionele bronne: www.thechart.blogs.cnn.com, www.aanos.org, www.elitedaily.com.