Is seks ’n lyflike daad? ’n Emosionele reis? Hoe is dit moontlik dat ’n paartjie ’n vervulde sekslewe kan hê sonder om daardeur vervul te word?

Promosie

Johan en Susan is 13 jaar getroud en het twee kinders. Susan wens hulle sekslewe kan beter wees. Sy was onlangs saam met vriendinne by ’n spa waar sy verneem het van ander pare se seksuele reis, wat vir haar baie beter klink as haar eie. Haar hoop is dat ’n beter sekslewe hulle sal help om ’n dieper verbintenis met mekaar te hê en nader aan mekaar te voel.

“Wat wil jy van seks hê?” vra ek haar. “Ons moet saam klimaks, baie soen, ek wil sien dat Johan dit geniet, maar die meeste van alles soek ek intimiteit en naby wees,” sê sy skaam. “Tans beleef ek diskonneksie, afstand, afsydigheid en leegheid.”

Dit laat my besef dat wat ons wil ervaar in seks en wat ons in werklikheid ervaar, van mekaar verskil. Ons verwag dat seks nabyheid en ’n verbintenis bring, maar ons ervaring is dat ons soms leër en meer alleen wegstap, selfs al was die seks goed.

Promosie

Die rede is dat seks op sy eie nooit nabyheid, intimiteit en ’n verbintenis kan bring nie. Intimiteit en ’n verbintenis kan nie verkry word deur penetrasie en orale stimulasie alleen nie. ’n Verbintenis en intimiteit is iets wat buite die slaapkamer gebeur. Dit is ’n bestemming wat pare bereik – nooit deur seks alleen nie, maar deur ’n verhouding waar twee mense mekaar gereeld in nabyheid en broosheid buite die slaapkamer ontmoet.

Seks kan ’n verbintenis en intimiteit vier en versterk, maar kan dit nooit produseer nie. Om hierdie rede ontmoet ek gereeld pare wat in diskonneksie leef, maar ’n aktiewe seksuele lewe het, sowel as pare wat ’n diep verbintenis het vir wie seks ’n minder belangrike rol speel.

Die uitdaging vir almal is dat ons moet besef dat ons nooit werklik leer hoe om  ’n ware verbintenis met ’n lewensmaat te kry nie. Ons leer om ons behoefte aan ’n verbintenis en intimiteit uit te druk in seksuele dade en versoeke. Ons wil deur goeie seks ons behoefte aan ’n verbintenis en nabyheid bevredig.

Indien dit nie werk nie, indien jy nog steeds voel dat daar ’n kloof tussen julle is, probeer jy jul sekslewe opkikker, maar dit werk nooit nie. Die seks word beter, maar jou maat voel nog steeds ver en jy voel alleen. Dit is soms pret en dit is opwindend, maar dit is nie ’n verbintenis, nabyheid en intimiteit nie.

Wat jy werklik van seks wil hê, is om gesien te word, om verstaan te word, om te weet dat jy diep liefgehê word, dat jou lewenstorie vir iemand sin maak. Wat jy werklik van seks wil hê, kan seks alleen nooit vir jou gee nie.

Kan dit wees dat julle ongemak en frustrasie met julle seksuele reis iets meer is, miskien ’n soeke na iets anders, en kan ek julle dalk nooi om op ’n ander plek te kyk as in julle slaapkamer?

Kan dit wees dat daar twee alleenmense in julle verhouding leef, wat van tyd tot tyd ’n verbintenis probeer maak, probeer om geliefd en waardeer te voel deur seks te hê? En die res van die tyd verdrink hulle in verantwoordelikhede, ouerskaprolle, werksverpligtinge, voel hulle onsigbaar en waardeloos? Kan dit wees dat daar twee alleenmense in julle verhouding leef wat nooit geleer het om te sê: “Sit by my, kyk vir my, hoor my, ek het jou nodig, ek is moeg, dra my, ek het jou oë en ore nodig?”

Wat ek voorstel, is dat die volgende keer wanneer jy die behoefte het om met jou maat ’n verbintenis te vorm, eerder as om seks te hê of seks voor te stel, probeer jou ware emosionele behoeftes verwoord – dit mag dalk op seks uitloop.

En wat sal gebeur, is dat pare sal leer om vir mekaar meer te gee as net penetrasie of orale stimulasie. Pare sal leer om na mekaar te luister, vir mekaar te kyk, mekaar vas te hou, te waardeer, te help, te dra en mekaar te sien.

Is seks dan nog steeds belangrik of sal pare minder seks hê as hulle intimiteit buite die slaapkamer beleef?

Ek glo pare sal seks meer geniet. Want vir hierdie pare is seks wat seks veronderstel is om te wees, naamlik speel, lag en ’n viering van lewendigheid. Hulle het nie onrealistiese verwagtinge dat seks ’n verbintenis moet bewerkstellig nie, maar het seks omdat daar ’n verbintenis is.

Seks is vir hierdie pare ’n partytjie, ’n gedig, soms rof en soms sag, soos ’n dans wat vloei uit saamwees. Dit is die ritme wat volg as die musiek van ’n verbintenis en intimiteit begin speel.

Soms is ons seksuele behoeftes ’n uitroep, ’n diep dors na saamwees, een wees en ’n diep verbintenis, en hiervoor het ons meer as ’n orgasme nodig.

 

Deur Louis Venter
Louis is ’n intensiewe verhoudingsterapeut. Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.coupleshelp.co.za.