Oksitosien is ’n hormoon wat in die brein afgeskei word en wat allerhande interessante uitwerkings op ’n mens se liggaam het – uitwerkings waarvan jy behoort te weet.

Gestel daar was ’n wonderlike hormoon in jou liggaam – een wat jy kan “gebruik” om jou liggaam op ’n positiewe manier te laat reageer. Een wat jy kan inspan tot jou voordeel en wat jou en jou maat nader aan mekaar kan bring. Wel, daar is! Oksitosien het byname soos die “drukkiehormoon”, “liefdeshormoon”, “bonding-hormoon” en “vertrouenshormoon”, en dit gee jou alreeds snuf in die neus oor wat hierdie hormoon vir ’n mens doen . . .

Só wat is oksitosien?

Oksitosien is die stof wat in groot hoeveelhede by ma’s vrygestel word. Dit word vrygestel wanneer ’n ma se baarmoeder moet saamtrek en die serviks moet oopgaan sodat ’n baba gebore kan word, haar borste vol melk moet word, ’n baba aan ’n ma se bors suig, ’n ma haar baba sien gebore word en direk na die geboorte sien – maar dit is nie slegs beperk tot nuwe ma’s nie.

Dit word ook vrygestel wanneer mense:

  • Op ’n gemoedelike, ondersteunende manier bymekaar kom.
  • Mekaar vertrou.
  • Aan mekaar raak – veral met omgee en liefde.
  • ’n Orgasme kry.
  • Deernis teenoor ander lewende wesens ervaar.

 

Wat is die impak van verhoogde oksitosien op mense?

Oksitosien is eintlik ’n wonderlike hormoon, en dit veroorsaak dat mense vertroue wen en ervaar (albei partye word sterker hierdeur). Dit help mense om emosionele intimiteit te ervaar en ’n band met mekaar te bou. Dit vergemaklik kommunikasie (ook in groepe).

Mense met verhoogde oksitosien ervaar meer geluk en is gesonder (hulle het ’n laer voorkoms van kardiovaskulêre siektes (hartaanvalle en beroertes), hul immuniteit is beter (hulle kry dus minder infeksies), hulle kry minder depressie en angsversteurings, hul wonde genees vinniger en hulle het ’n laer voorkoms van chroniese pyntoestande. Mense met verhoogde oksitosienvlakke het ook meer selfvertroue en beter verhoudings met familie, vriende en romantiese maats.

Wat kan jy doen om jou oksitosienvlakke te verhoog?

Nee, jy kan nie pilletjies hiervoor drink nie – daar is geen orale oor-die-toonbank medikasie hiervoor nie (hoewel oksitosien wel in ’n inspuitbare vorm aan vroue voorgeskryf kan word om hul baarmoeder te laat saamtrek, voor en ná ’n kraamproses).

Maar hier is die goeie nuus! Jy kan self die volgende doen om jou oksitosienvlakke op ’n natuurlike manier ’n hupstoot te gee!

  1. Vermy heftige stryery en argumente. Leer eerder die vaardighede aan om sinvolle gesprekke te hê waarin elkeen sy mening kan gee, maar waarin daar nie ’n kompetisie is om die ander een verkeerd te bewys nie.
  2. Gee dikwels vir mekaar behoorlike drukkies. Albei van julle baat by ’n drukkie! Navorsing toon dat ’n drukkie van 20 sekondes ’n merkbare uitwerking het op oksitosienvlakke en dat die verhoogde vlakke vir sommer ’n uur na die drukkie steeds verhoog bly.
  3. Luister met belangstelling na jou maat. Maak oogkontak en hou op dink aan ander dinge – luister net hoe jou maat deel oor dit wat vir hom/haar belangrik is.
  4. Soek geleenthede waartydens jy voel dat dit wat jy sien of ervaar jou hart aangryp – sulke “Oe, dis só oulik!”-geleenthede! Mense se oksitosienvlakke verhoog wanneer hulle kyk na ’n babahondjie, ’n dierbare dogtertjie in mooi klere of ’n pa wat intense aandag aan sy kind gee.
  5. Raak vatterig – raak aan mekaar, streel julle troeteldiere, skuur teen mekaar in die verbyloop, gaan vir ’n lyf-massering. Fisiese aanraking verhoog oksitosienvlakke.
  6. Praat liefdevol met mekaar. Soek geleenthede om vir mekaar te sê dat julle lief is vir mekaar – met opregtheid – staan stil, maak oogkontak terwyl jy dit sê.
  7. Deel iets oor jouself met jou maat. Mense voel gevlei (en oksitosienvlakke styg) wanneer ’n ander persoon jou vertrou deur iets uit sy/haar binnewêreld opreg te deel.
  8. Soek mooi dinge rondom jou en maak jouself herhaaldelik bewus daarvan.
  9. Gebruik soms opregte, liefdevolle, opbouende troetelname vir mekaar.
  10. Raak gemaklik met jou trane. Dis ’n moeilike stukkie raad, maar behels net dat jy bewus raak daarvan dat dit aanvaarbaar is om te huil of tranerig te raak as jy só voel. As jy agterkom jy is geneig om jou trane te keer, jouself in toom te probeer hou en nie te huil nie – herinner jouself dat emosies voel, bewoë voel en tranerig raak ook jou oksitosienvlakke verhoog.
  11. Wees bewus van die ervaring van dankbaarheid oor dinge in jou lewe – mense, ervarings, mooi dinge, dinge wat jou veilig laat voel, gesondheid, dinge wat vir jou betekenis het.
  12. Liefdevolle seks verhoog ook jou oksitosienvlakke! Begin met ’n marathon-soen en baie fisiese aanraking.
  13. Mediteer gereeld – kom ’n bietjie tot stilstand en fokus op mindfulness.
  14. Gee van jouself – gee om vir die omgewing, mense, dinge wat die samelewing raak en raak betrokke deur iets van jouself te gee. Soos wat jy bewustelik konnekteer met ’n belangrike missie en van jouself (jou tyd, energie of kopruimte) gee, verhoog jou oksitosienvlakke.
  15. Wees iemand op wie ander (ook jou maat) kan vertrou. As jy ervaar dat ander jou kan vertrou, verhoog jou oksitosienvlakke.
  16. Geniet jou hoë oksitosienvlak wanneer jy ’n baba het – veral as jy borsvoed. Wees ook mindful hieroor – wees bewus van die gevoelens wat jy ervaar.
  17. Wees behulpsaam teenoor ander.
  18. Werk aan geluk in jou en jou mense se lewens. Fokus op geluk, eerder as op status en materiële dinge.
  19. Gee van jouself vir ander – die mense naaste aan jou, ander mense, asook aan ander instansies en die omgewing.
  20. Deel ’n maaltyd saam met jou maat, jou gesin, ander mense. Maak ’n fees daarvan en wees bewus van elke deeltjie van die ervaring!

Ons as mense is gebou om te konnekteer met ander – ons wil kontak maak met ander. Gebalanseerde konneksies help mense gesond voel op baie vlakke – dis wat oksitosien vir ons doen. Geniet die reis!

 

Deur Wilmé Steenekamp