Die belangrikheid van ’n sterk manlike ereksie vir ’n vervullende sekslewe is iets wat die Adamsgeslag terdeë besef. Oormatige druk kan egter tot prestasie-angs of selfs in uiterste gevalle tot erektiele disfunksie aanleiding gee. Hier is ’n paar tegnieke en metodes om te voorkom dat jy met ’n slap riem gevang word.  

Promosie

’n Gesonde dieet en bypassende lewenstyl is die hoekstene vir ’n gesonde ereksie. Rook, stres, alkohol en die ekstra ponde wat saamgedra word, is die vyand. As daar nou iemand is wat ’n klop op die skouer verdien, is dit Dr Arnold, ’n ginekoloog wat kegeloefeninge ontwerp het om pasiënte te help om beter beheer oor hulle blaas uit te oefen deur hulle pelvisspiere (PC-spiere) te versterk. Dit het onverwags ook ’n aansienlike verbetering in die pasiënte se sekslewe tot gevolg gehad.

’n Paar tegnieke om jou orgasme uit te rek:

  • Kegeloefeninge: Die vertrekpunt vir kegeloefeninge is om te bepaal presies waar dié spiere geleë is. Die eenvoudigste manier is om te knyp wanneer jy water afslaan. Nadat presies vasgestel is watter spiere saamgetrek moet word, kan jy dit op enige plek en enige tyd van die dag oefen. Dit gaan egter tyd en dissipline verg, maar resultate behoort binne 30 dae gesien te word. ’n Sterker ereksie, beter beheer en meer intense orgasmes sal die beloning wees.
  • Gewone kegeloefeninge: Trek die PC-spiere saam vir drie tot tien sekondes en ontspan. Doen dit minstens 20 keer per dag.
  • Gevorderde kegeloefeninge: Knyp die PC-spiere en hou die sametrekking vir sowat 20 sekondes. Doen dit minstens een keer per dag.
  • Fladder-oefeninge: Dit is ’n bietjie moeiliker en behels om die PC-spiere vyf keer vinnig opeenvolgend saam te trek en te laat ontspan. Vermeerder die herhalings elke week met vyf repetisies totdat jy 20 ná mekaar kan doen.
  • Soloseks: Mans is geneig om te veel aandag aan die bopunt van die penis te gee. Dit is ’n erogene area wat uiters sensitief is vir stimulering. Leer jouself en jou eggenoot om meer tyd aan die hele orgaan en skrotum te skenk. Haal diep asem en leer jouself ken. Weet wanneer om te stop voordat jy fyndraai bereik. Deur jou PC-spiere op die regte tydstip saam te trek, kan jy jou ejakulasie voorkom.
  • Minder posisies: Moenie te gereeld van posisies verander nie. Verskeidenheid is lekker, maar nie as jy probeer om ’n ereksie tussendeur te behou nie. Hou dinge eenvoudig, maar opwindend.

Hoe vroulief kan help:

Promosie
  • Vrou in beheer: Dring aan op seksposisies waar die vrou in beheer is. Wanneer manlief te opgewonde raak, kan sy die pas beheer. Seksterapeute beveel die “stop-start” tegniek aan. Maar dit is eintlik logies. Stop vir 20 sekondes en begin weer wanneer die drang om te ejakuleer verminder het.
  • Rolspel: Benewens mediese toestande soos hartprobleme kan dieselfde roetine in die slaapkamer daartoe aanleiding gee dat die vlag halfmas hang, al het jy ’n aantreklike eggenoot. Praat oor jou fantasieë met jou wederhelf. As sy gemaklik is daarmee, neem ’n ander persona in die slaapkamer aan.
  • Breek die reëls: Weens konvensionele rolverdeling word daar van mans verwag om intieme geleenthede te inisieer. Sit terug terwyl vroulief geklee in ’n uitlokkende nommertjie jou verlei.
  • Droë ejakulasie: Wanneer jy fyndraai voel naderkom, kan vroulief onderaan die skag van die penis ferm drukking uitoefen om ejakulasie te voorkom.
  • Maak voorspel pret: Die waslap-metode kan deel van julle voorspel word. Sodra jou soldaat op aandag staan, laat vroulief probeer om ’n waslap daaroor te gooi. Wanneer sy die kol tref, lig die waslap tien keer op en af. Dit is prettig en sorg vir ’n sterk ereksie.
  • Maak kegeloefeninge pret: Wanneer jy jou eggenoot penetreer, kan julle saam kegeloefeninge doen. Dit gee ’n ligte beweegaksie en ’n meer intieme manier om jou spiere te oefen.

Hoewel kegeloefeninge en ’n gesonde lewenstyl wondere vir jou slaapkamersake gaan verrig, is goeie kommunikasie steeds nodig om enige verhoudingsprobleme op te los. Soos met enige oefening gaan dit inspanning en toewyding verg, maar die kool is beslis die sous werd.

 

Deur Ettienne van Rensburg

Addisionele bronne: Masters WH, Johnson VE, Human sexuality in a world of diversity; Bryce Britton, director of the Centre for Life Enhancement and author of The Love Muscle; David Kaufman, MD, a urologist at Central Park Urology in New York City; www.cosmopolitan.com; www.lovepanky.com; www.askmen.com; Sexual secrets every man should know: Mantak Chia and Douglas Abrams.