Dis die meeste paartjies se groot droom om saam kinders te hê en met ’n gesin te begin. Maar wat as daardie droom jou huwelik begin vernietig?
Byna 100% van paartjies wat trou, het die droom om wel eendag ’n swangerskap en ouerskap te beplan. Sommige weet al klaar hoeveel kinders hulle wil hê, watter geslag hulle verkieslik moet wees en wat hul name gaan wees.
Ons ervaar ook die gedagte daaraan dat ons gaan kinders hê, heeltemal afsonderlik van die oortuiging dat ons vir altyd ’n wonderlike sekslewe én verhouding gaan hê – dis amper vanselfsprekend. “Happily ever after” sluit beslis in ’n mooi huis, ’n kar vir elke grootmens, ’n wonderlike sekslewe, ’n paar dolgelukkige kinders en ’n paar vrolike troeteldiere.
Nooit kom dit by ons op dat ons dalk nie sal kan kinders hê nie. Of dat die proses van kinders probéér kry ons emosioneel en seksueel heeltemal van mekaar kan verwyder nie.
Hoekom was dit “lank, lank gelede” anders?
Voor geboortebeperking deur middel van voorbehoedmiddels, het paartjies ook aangeneem dat hulle minder beheer het oor wanneer hulle kinders sal hê. Deesdae is die meeste babas van getroude paartjies baie goed beplan – en saam met die beplanning kom baie druk op elke party.
Sodra daar met die “babamaak-proses” begin word, is albei partye reeds goed ingelig oor hoe om hul lywe optimaal gesond te kry. Hulle mag ook aanvaar dat, as hulle ná ’n jaar se probeer nog nie swanger is nie, hulle waarskynlik onder die groep mense sal val wat vrugbaarheidsbehandeling sal moet ontvang.
Waar begin die probleme?
By die vraag: “Is dit jou skuld of is dit my skuld dat ons nie kan kinders kry nie?” Die een “sonder die probleem” plaas dan reeds maklik skuld op die ander party, wat ’n medies identifiseerbare probleem het – en die een by wie ’n probleem geïdentifiseer is, voel noodwendig skuldig.
Soms het die vrou ’n geskiedenis van ’n reeks miskrame, endometriose of ’n afwyking van haar hormone of eierstokke. Soms het die man ’n probleem met sy sperm se gehalte of hoeveelheid. Hierdie toestande het alreeds die implikasie van moontlike traumatiese ervarings. Dit is ’n groot verlies om ’n miskraam te hê, uit te vind jou spermtelling is laag of om al jare lank behandeling te moes kry vir endometriose.
Roetine en teleurstellings
Die lang pad met al die doktersbesoeke begin – soms ook vernederende of blootstellende ondersoeke en behandelings. Die man moet gaan masturbeer by die laboratorium – sekerlik niks spontaan of romanties daaraan nie! Die vrou moet haar siklus se dae tel, haar temperatuur meet en vir talle ginekologiese ondersoeke, inspuitings en ingrepe gaan – ook niks spontaan, romanties en emosioneel veilig daaraan nie. Dis net asof al die spontaneïteit en pret begin verdwyn as julle oor en oor presies moet uitwerk wanneer julle moet seks hê en móét lus wees vir seks.
Dan kom die dae aftel en hoop jy menstrueer nie hierdie keer nie – en dan die verskriklike teleurstelling wanneer jy wel weer menstrueer. Of swanger raak, en na ses weke ’n miskraam het.
Seks raak werk en julle raak baba-masjiene – elkeen moet doen wat van hulle in hierdie proses verwag word. Dis net nie meer die suiwer, spontane aksie waarin julle net oorgee aan jul behoefte om met jul fisiese saamwees jul liefde en aangetrokkenheid vir mekaar te wys nie.
Boonop vra almal hoe julle planne vorder en kan hulle selfs lomp wees met hul raad. Daar is soveel druk en soveel verliese rondom onvrugbaarheid en die hantering daarvan. Dit sal ten beste ’n moeilike tyd in julle huwelik en lewens wees, en baie eise stel aan beide van julle. Baie huwelike kry skade in hierdie uitdagende proses.
’n Paar wenke
As julle in die proses is waar julle voel dat onvrugbaarheid besig is om jul huwelik te verswelg, oorweeg die volgende:
- Wees oop vir baie praat en luister na jou maat. Hou in gedagte dat jy nie verantwoordelik is vir die ander persoon se seer nie. Dis ’n dilemma wat op julle pad gekom het en wat julle saam kan hanteer.
- Vra jou maat baie uit oor sy ervarings binne die proses waardeur julle gaan.
- Wees oop om te luister, selfs as julle moeilike dinge met mekaar moet deel – soos “Ek voel skuldig” of “Ek voel soos ’n masjien” of “Ek is by tye moedeloos” of “Ek is só verward!”. Dit wat jou maat ervaar, is geldig en dit is hul ervaring – nie jou skuld nie. Julle is mekaar se beste maats. Julle ken mekaar se swaarkry die heel beste en julle kan mekaar die beste ondersteun. Jy sal beter kan ondersteun as jy kan luister en help dra – eerder as om verantwoordelik te voel vir jou maat se emosies en ervarings.
- Maak baie seker dat julle saam genoeg pret het – veral pret wat julle gedagtes wegneem van die babamaak-situasie!
- Droom saam drome waaraan julle kan beplan indien daar nie ’n babatjie aan die kom is nie.
- Hou aan om baie aan mekaar te raak en fokus daarop om intimiteit tussen julle te kweek sodat intimiteit nie net gekoppel raak aan babamaak-tye nie.
- Beplan soms om nie-penetrerende seks te hê – nooi jou maat vir ’n sensuele massering met olie, besluit saam om een aand net te soen en te masseer.
- Herinner mekaar dat julle met mekaar getrou het omdat julle van mekaar hou en mekaar se vriende is – nie omdat julle net beplan het om saam kinders te hê nie.
- Daar is nie net een regte oomblik, een regte vyf minute waarop jul enigste kind gemaak kan word nie. Gun mekaar die ruimte van soms net “wees” en kyk wat gebeur sonder om alles te wil beheer en laat gebeur volgens julle terme.
- As julle ervaar dat jul verhouding te ongemaklik raak, kry professionele hulp!
- Hê deernis met jouself en met jou maat, want dié kwessie is ’n groot uitdaging.
Deur Dr Wilme Steenekamp