Elke paartjie het gom vir hul huwelik nodig. Gom wat hulle bymekaar hou en dinge aan mekaar hou wanneer die wind stormsterkte waai. Seks is soos superglue wat aan mekaar plak wanneer mense uit mekaar waai. Maar dit is nie net seks wat nodig is vir ‘n hegte huwelik nie.

Promosie

“Dit voel asof ons heeltemal verby mekaar leef, ons is vreemdelinge vir mekaar,” het Cindy vir haar terapeut vertel. “Hoe gereeld het julle seks?” het die terapeut in ‘n stadium gevra, waarop Cindy geantwoord het: “Jong, ons is gelukkig as ons een keer per maand tyd kry hiervoor.” Sy het voortborduur oor hul besige lewens, dat hulle skaars tyd kry om saam ‘n koppie koffie te drink. “Herman is so besig by die werk, dat ons mekaar nie eintlik sien nie.” Ja, hulle praat darem, het sy later verontwaardig aan die terapeut rapporteer. Net die vorige dag het hulle ‘n uitgerekte bespreking gehad oor wie die kinders dié week by die nasorgsentrum sal gaan haal (Cindy se voertuig is in vir herstelwerk) en hoe hulle hul Saterdag sou beplan sodat hulle by Herman se ouers kan uitkom én vir hul oudste ‘n stel gholfstokke kan gaan koop. Nee, hulle baklei nooit, het sy trots verklaar.

Baie gou het Cindy se terapeut die dinamiek van hierdie huwelik begin verstaan. Dié paartjie het niks baklei nie, want die enigste tye wat hulle kommunikeer het, was om saaklikhede te bespreek. Hulle het niks opwindende planne vir die toekoms gehad nie, want hulle was té besig om dag tot dag te oorleef. En iewers midde in die tekort aan seks, tyd vir mekaar en opwinding, het hul gom meegegee en het hulle weg van mekaar af begin skeur …

#1. Superglue vir jou huwelik: SEKS
Dit is ‘n fisieke daad wat magic op ‘n emosionele vlak kan skep. Vra elke paartjie wat al die effek van make-up seks beleef het. Luister na kenners wat jou uitdaag om te baklei terwyl jy van jou klere ontslae raak. En gesels met enige paartjie wat ná ‘n droogte tydperk hittige seks gehad het net om verstom te staan oor die kragtige effek daarvan. Terwyl jy en jou maat seks het, word verskeie chemikalieë vrygestel. Oksitosien is een van hierdie chemikalieë wat ‘n gevoel van vertroue, empatie en vrygewigheid tot gevolg het. Dit bewerkstellig ‘n band tussen twee mense, en hoe meer seks ‘n paartjie het, hoe sterker is hierdie band. Oksitosien bind julle op ‘n emosionele, fisieke en sensoriese vlak.

Promosie

‘n Prominente figuur in neurosielkunde, Dr. Daniel Amen skryf in sy boek Change Your Brain, Change Your Life: “Wanneer ‘n persoon seksueel betrokke is by ‘n ander persoon, vind neurochemiese veranderinge in beide hul breine plaas wat limbiese, emosionele binding veroorsaak. Dit is die rede waarom ‘casual sex’ nie vir die meeste mense werk nie. Seks versterk die emosionele band tussen hulle – of hulle dit so wil hê of nie.” Op die webtuiste kerrichronicles.com skryf Mapenzi na Ndoa dat God beplan het vir ons liggaam, siel, verstand en gees om vir ‘n leeftyd met een maat in die huwelik gebind te word. In Mattheus 19:6 staan: “Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.” Seks is ontwerp om mense op ‘n permanente basis ‘aanmekaar te bind’.
Ja, ons maak kinders groot, ons stoei om kos op die tafel te kry, die korporatiewe leertjie te klim en nog ‘n sosiale lewe ook te handhaaf… en daarom neem seks wel af. Daar word egter geskat dat sowat 15% van paartjies in ‘n sekslose huwelik funksioneer (dit is paartjies wat vir ses maande tot ‘n jaar lank nie seks gehad het nie). Maar die deursnee-paartjie het seks nodig vir fisieke intimiteit én emosionele intimiteit. Dwarsdeur jou huwelik is daar stresvolle tye en euforiese tye en deur dit alles het jy ‘n maat nodig by wie jy kan ontsnap en met wie jy die goeie tye kan deel. En ‘n maat by wie jy soms net laf kan wees!

“Ek glo dat God ons geseën het met seks in die huwelik vir baie redes,” sê die skrywers van die webtuiste onefleshmarriage.com. “Ons leef in ‘n oorgestimuleerde gemeenskap. Baie dikwels, wanneer ons spanning beleef of selfs super opgewonde oor die lewe is, draai ons na ander dinge om aan ons behoeftes te voldoen. Seks kan daardie behoeftes vervul op ‘n manier wat groei op jul een-vlees-reis kan bring. Sodra seks vir jou die gom word, sal jy vind dat jy na jou man toe wil draai in hierdie tye. Dat jy daarna uitsien om in sy sterk arms in te val. Selfs in tye van uitsonderlike rou en hartseer, kan seks ‘n spesiale seëning wees.” Hulle beskryf seks ook as ‘n spesiale voorreg, ‘n VIP-pas wat jou toegang gee tot iemand wat vir enige ander persoon daar buite, buite perke is. Gom vir jou huwelik? Beslis.

6 Ander kleefmetodes vir jou huwelik:

Kommunikasie: Intimiteit is ‘n proses waardeur jy iemand anders ontdek, meen Joel B. Bennet in Time and Intimacy: A New Science of Personal Relationships. Toe jy en jou maat mekaar leer ken het, het nuuskierigheid julle soos magnete na mekaar toe aangetrek. Hoe meer jy oor jou maat uitgevind het, hoe meer wóú jy weet! Maat mettertyd verloor ons die behoefte om ons maats te ontdek. Openhartige kommunikasie skep gom vir jou huwelik. Diep, emosionele gesprekke dryf julle nader aan mekaar, so maak hiervan ‘n prioriteit in jou huwelik.

Spanwerk: Onthou jy die tyd toe julle jul troue en wittebrood beplan het? Die lekkerte wanneer julle ooreengestem het oor hoe julle dinge wil hê en die uitdaging wanneer julle koppe gestamp het daaroor? Om sáám met jou maat aan ‘n projek te werk, laat julle aan mekaar kleef. Om kinders saam groot te maak is byvoorbeeld ‘n intieme reis, maar die eise van ouerskap blur die positiewe effek daarvan dikwels. Doen gereeld kleiner dinge saam om die gevoel van spanwerk werklik te beleef, soos om by ‘n liefdadigheidsprojek betrokke te raak of ‘n fisieke uitdaging (soos die Argus Fietsren) aan te pak. Dis ‘n reis wat van julle gaan vereis om uit jul gemaksone te klim, konflik te trotseer en eindelik die wonderlike beloning te proe van ‘ons hét dit gedoen en ons het dit sáám gedoen!”

Roetine en onvoorspelbaarheid: Roetine word dikwels as die huwelik se grootste ondergang genoem. En ja, vervelige voorspelbaarheid kan definitief ‘n doodskoot wees wat julle parallel met mekaar kan laat leef in plaas daarvan om julle nader aan mekaar te laai groei – veral wanneer daar nie moeite gedoen word met opwinding in jou huwelik nie máár… dit is nie nét sleg nie. Roetine skep ook ‘n vorm van intimiteit. Julle drink dalk elke aand voor ete, om sesuur ‘n glas wyn… dis ‘n voorspelbare ritueel, maar dit laat julle veilig voel en dit is iets wat nét julle doen sonder enige ander party wat inmeng. En hoewel roetine en voorspelbaarheid waarde kan inhou as ‘n kleefmiddel vir julle, moet julle ook nie die krag van onvoorspelbaarheid onderskat nie. Dit stel adrenalien vry en kan jou van nuuts af na jou maat toe aantrek.

Onverdeelde aandag: Alles trek jou aandag en alles steel jou tyd. Baie paartjies dink hulle bestee oorgenoeg tyd saam. Hulle eet immers aan dieselfde tafel, sit langs mekaar op ‘n rusbank en televisie kyk en hulle slaap langs mekaar. Dis ure in mekaar se geselskap ja, maar is dit werklik tyd bý mekaar? Hoewel ons voorstanders is van tegnologie se rol in jou huwelik (‘n oulike Whatsapp is byvoorbeeld ‘n handige vorm van voorspel), wil ons beklemtoon dat elke paartjie een-tot-een interaksie broodnodig het. Dit sal beteken dat julle soms selfs ‘n reël sal moet maak (soos om vir ‘n uur saans jul selfone af te skakel).

Fokus: Dit is so maklik om die huwelik op die kantlyn geskuif. Julle het ‘ja’ gesê en nou is julle immers getroud. Gedane sake. ‘n Huweliksverhouding is mos iets wat daar is, sonder dat jy aandag daaraan hoef te gee, reg? Verkeerd. Vir intimiteit om te groei en vir jy en jou maat om aan mekaar te kleef, moet julle spesifiek aandag gee aan jul huwelik deur dinge te doen wat hierdie verhouding kan verryk. Doen saam ‘n huwelikskursus soos Marriage Capsule, kry ‘n mentorskap-paartjie uit wie julle inspirasie kan put, gaan op huweliksverryking kampe en koop selfhelp boeke. Dit is gefokusde toewyding wat gom vir jul huwelik vervaardig.

Warmte smelt jou maat se weerstand. Moenie die waarde van warmte onderskat nie. Intimiteit is kommunikasie, spanwerk, seks, opwinding… maar dit is meer as dit. Dit is die subteks. Die onderstrominge. Die nie-verbale interaksie wat op grondvlak plaasvind. Dit is die manier wat jy dag tot dag met jou maat omgaan. Almal is nie ewe warm nie en vir sommige mense verg dit meer inspanning as vir ander, maar warmte kan enige taai tameletjie in waardevolle gom verander. Hoe groet jy jou maat as hy/sy by die huis kom. Met ‘n sylangse ‘hi’vanuit die sitkamer of met ‘n stywe druk by die deur. Is daar genoeg gedeelde glimlagte, is daar fisieke aanraking, en is daar begrip en empatie?

Elke huwelik het gom nodig. Gebruik die bogenoemde kleefmiddels as wegspringplek, maar onthou ook dat elke huwelik uniek is. As daar iets is wat jou pla, of wat jy in jou huwelik mis, is dit gewoonlik waar julle weg van mekaar af trek en waar gom regtig van waarde tot jul huwelik kan wees. Moet nooit terugsit nie, maar ondersoek jou huwelik soos ‘n collage in wording. Dit is nooit voltooi nie, en daar is altyd, iewers op ‘n hoekie nóg ‘n bietjie gom nodig.

Addisionele bronne; www.tolovehonorandvacuum.com; www.dailyplateofcrazy.com;
www.everyonelovessex.org; www.hutchcraft.com; psycologytoday.com