Promosie

Jy wil graag jou kinders met die regte waardes en beginsels grootmaak. Jy glo jy kan ʼn rol in die sukses van haar huwelik speel as jy haar vir daardie belangrike verhouding reg toerus en jy is vasbeslote om jou seun te leer hoe om eendag sy vrou te behandel, ter wille van ʼn vervulde huwelik. Kenners meen dit is moontlik.

 “My man se ouers het tradisionele geslagsrolle vervul. Sy pa was die broodwinner en sy ma was die huishoudster. Ek dink dat sy pa soms sonder respek teenoor my skoonma opgetree het. Sy kon nooit haar opinie lug nie, en wanneer sy hom teëgegaan het, was die duiwel los. Voor ander mense het hy haar soos ʼn bediende behandel, en hoewel sy gedwee in sy skaduwee gestaan het, kon ek sien dat sy sielsongelukkig was.

Ná ons troue het ek agtergekom dat baie hiervan op my man afgesmeer het. Hoewel hy deel van die nuwe generasie is, is dit vir hom moeilik om te aanvaar dat ek ʼn werkende vrou met ambisie is. Hy sal my soms voor sy vriende verkleineer en maak asof hy ‘die baas van die plaas’ is, en as ek hom daaroor konfronteer, word hy ongelooflik kwaad. Dit is waaroor die meeste van ons rusies gaan. Ek voel dat hy my nie regtig respekteer vir die individuele, intelligente, vrydenkende mens wat ek is nie.” Só vertel Leatitia, ʼn persoonlike assistent van Bloemfontein.

Promosie

Natuurlik het jou opvoeding baie te doen met hoe jy jou huwelik benader. Sommige mense leer uit hul ouers se mislukte huwelike hoe om reg op te tree en nie hul voorgeslagte se foute te herhaal nie. Ander tree presies op soos wat hul rolmodelle tydens hul grootwordjare opgetree het, blind vir die skade wat dit tóé reeds in hul eie lewens aangerig het.

Wees ʼn voorbeeld in jou huwelik

So, hoe maak jy dan vandag ʼn kind groot wat eendag ʼn vervulde huwelik gaan lei? Die Bybel gee vir ons baie riglyne hieroor, meen Hennie Stander, skrywer en professor in die Departement Antieke Tale aan die Universiteit van Pretoria. “Die heel eerste stap om te verseker dat jou kind eendag ʼn goeie lewensmaat sal wees, is om self ʼn goeie lewensmaat te wees. Jou eie voorbeeld weeg swaarder as wat enige woorde kan weeg.” Hy sê dat ʼn mens jouself moet afvra of jy wil hê dat jou kind se huwelik soos jou eie moet wees. Kan hy/sy ook maar so met sy/haar lewensmaat praat soos wat jy dit doen?

“Onthou, jou kind sien dinge raak, selfs wanneer jy nie eens daarvan bewus is nie. Paulus het in 1 Korintiërs 4:16 oor sy eie lewe gepraat en vir sy lesers gesê: ‘Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld!’ Kan jy dit vir jou kinders sê, ook wat die huwelik betref?”

In sy boek, The 7 Habits of Highly Effective Families, stel Stephen Covey voor dat ons eerstens getrou aan onsself moet wees om te weet wat vir ons belangrik is. Daarna raak dit ons verantwoordelikheid om ons beginsels te toon deur waardes en prioriteite in ons alledaagse lewe te inkorporeer. Hy sê: “As ons nie ons kinders leer nie, sal die gemeenskap dit doen, en sal hulle, soos ons, met die resultate moet saamleef.”

Leer jou kinders waardes

Die skrywer van What Kids Need to Succeed, Peter L. Benson, stel voor dat ouers hul kinders se sterk eienskappe moet identifiseer en aanmoedig. Hy het ná tien jaar se navorsing bevind dat daar interne en eksterne eienskappe is wat individue meer sukses in die lewe laat behaal. Een van die eienskappe is ‘positiewe waardes’, wat die volgende insluit:

  • Om om te gee,
  • gelykheid en sosiale regverdigheid,
  • integriteit,
  • eerlikheid,
  • verantwoordelikheid
  • selfbeheersing.

“As ouers hou ons die model voor van wat kinders as belangrik beskou,” meen Melinda J. Hill in haar internetartikel, Raising Children with Character.

Selfsug is ʼn doodloopstraat

Nog ʼn belangrike beginsel is om jou kind te leer om van selfsug af te sien, meen Hennie. “In gelukkige huwelike is daar nie plek vir selfsug nie. Leer jou kind om van vroeg af weg te kyk van sy/haar eie nood en behoeftes en ander mense raak te sien. Leer hom om te deel en nie alles in die lewe vir homself in te palm nie — om te gee, om te besef dat die wêreld nie net om homself en sy eie behoeftes draai nie. Paulus sê in Filippense 2:3: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander een hoër ag as homself.”

Hy meen dat nog ʼn belangrike lewensbeginsel is om jou kind te leer om sy of haar emosies te verwoord. Leer haar, en veral hóm, om te kan sê wat in sy binneste aangaan, wat hom gelukkig of ongelukkig maak. “Dit kan baie moeilik in ʼn huwelik word om met iemand saam te leef wat nog nooit geleer het hoe om sy emosies te verwoord nie, en dit kan tot soveel spanning lei,” waarsku Hennie.

Geldbestuur is ʼn móét

“Leer ook jou kind om verantwoordelik met geld om te gaan. As een van die lewensmaats roekeloos met geld omgaan, kan dit tot groot spanning lei. Die oumense het nie verniet gesê ‘As armoede by die voordeur inkom, stap liefde by die agterdeur uit’ nie” Hennie vertel dat talle huwelike al oor geld gesneuwel het — omdat een maat te spandabelrig is, of die ander een te suinig is. “Om watter rede ook al — geld (of die bestuur daarvan) is dikwels grondliggend aan hierdie probleme. Die Bybel het die gevare van geld só verwoord: ‘Geldgierigheid is ʼn wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulself baie ellende op die hals gehaal. (1 Timoteus 6:10).

Om jammer te sê

Nog ʼn belangrike eienskap wat jy vir jou kind behoort te leer, is om te sê dat hy of sy jammer is. “Leer hom of haar om verantwoordelikheid vir sy/haar keuses te aanvaar. Moenie altyd vir iemand anders die skuld gee nie. En as jy die dag verkeerd is, sê dit. Sê jy is jammer en wees bereid om opreg daarvoor om verskoning te vra. Elkeen van ons maak foute en ons gaan ook in die huwelik foute maak, maar dit los ʼn klomp spanning op as jy in die eerste plek net jou foute erken.

Die omgekeerde hiervan is natuurlik net so waar en dit is om jou kind te leer vergewe en om nie iets teen iemand te hou nie. As hy nie sy maats vergewe wat iets teen hom verkeerd gedoen het nie, gaan hy eendag ook nie sy vrou vergewe nie,” waarsku Hennie. Kenners meen ʼn goeie manier om jou kind hierdie beginsel te leer, is om self ook jou kind om verskoning te vra wanneer jy verkeerd was. Vir baie pa’s is dit ondenkbaar om teenoor hulle kinders hierdie nederige gebaar te toon, maar dit hou waarde in.

Leer jou kind reg kies

Maats is ʼn baie belangrike invloed, en hoewel jy nie jou kind se maats namens hom/haar kan kies nie, kan jy jou kind wel leer om homself met goeie maats te omring, kinders met dieselfde waardes as hy/sy.

“Dit gaan eendag ook deurslaggewend wees waar jou kind sy/haar lewensmaat gaan ontmoet, en dit gaan natuurlik bepaal watter soort lewensmaat hy/sy gaan kry. Hoe meer probleme die lewensmaat het en hoe meer bagasie uit die verlede daardie persoon met hom/haar saamdra, hoe meer druk gaan die huwelik beleef. Leer jou kind dus om goeie vriende te kry (en ek praat nie van ryk of grênd vriende nie, maar van moreel goeie vriende), dan staan jou kind ook ʼn beter kans om eendag ʼn moreel goeie lewensmaat te kry en dit maak die huwelik ook net soveel makliker en natuurlik lekkerder. Dit sal dit ook vir jou kind makliker maak om ʼn goeie lewensmaat te word.”

Hennie raai ouers ook aan om gesprekke te vermy wat gaan oor hoe swaar of bitter die huwelik is. “Jou kind hoor dit en jy is besig om die verkeerde persepsies by hom/haar te skep. Gesels eerder oor die vreugdes van ʼn gelukkige huwelik — nie omdat jy met wanvoorstellings besig is nie, maar omdat dit die waarheid is.” 

Blinde lojaliteit werk nie

Leandie Buys, kliniese seksuoloog van Port Elizabeth, stem saam. “Ek dink nie daar is ʼn perfekte man of vrou nie — wel mense wat morele waardes en standaarde geleer is volgens die opvoeding wat hul ouers hulle gegee het. Daarom is dit belangrik om vir ʼn kind te leer dat wanneer ʼn maatjie hom/haar boelie, die vriendskap verbreek moet word. Dit leer die kind ook dat emosionele en verbale afkraking nie geduld mag word nie en dat ʼn mens nie uit skuldgevoelens lojaal aan iemand bly nie.”

Sy meen ook dat jy selfvertroue by jou kind moet aanmoedig deur gereeld vir hom of haar te vertel dat jy trots op hom/haar is. “Dit bou nie net selfbeeld nie, maar maak ʼn kind ook sterk om nie onder groepsdruk te swig nie.” Leandie stel ook voor dat jy jou kind van kleins af leer dat daar sekere verantwoordelikhede in die huis is en dat daar gevolge is as hulle hierdie verpligtinge nie nakom nie. “Dit leer kinders verantwoordelikheid om te kan onderskei en te besef dat die lewe vol keuses is en dat hulle verantwoordelikheid vir die nagevolge moet neem.”

Werk aan jou kind se EK

Daar is kenners wat baie klem op emosionele intelligensie plaas. “Om angs te bestuur wanneer jy ʼn groot projek aanpak, om woede te bestuur wanneer jy deur huwelikskonflik werk, om vrees te bestuur wanneer jy vir ʼn werk aansoek doen — die vermoë van ʼn menslike wese om sy of haar emosies op ʼn gesonde manier te bestuur, sal sy/haar lewensgehalte op ʼn baie fundamenteler wyse bepaal as wat sy of haar IK dit sal bepaal. Sommige sielkundiges noem dit die EK, Emosionele Intelligensiekwosiënt.

Hoe, wat en wanneer?

Alles goed en wel, maar dit gaan nie help om vir jou laerskoolseuntjie ʼn ellelange toespraak te lewer nie. So, wanneer leer jy vir jou kinders hierdie eienskappe?

Kenners meen dat elke dag nuwe leergeleenthede bied. Dit is só belangrik om voortdurend met jou kind te gesels, en dit is baie bevredigend wanneer hulle self tot sekere gevolgtrekkings kom. Neem klein stappies en leer jou kind aan die hand van voorbeelde uit ons alledaagse lewens.

Onthou ook om van jou eie optrede bewus te wees. Jou kind moet leer om te doen wat jy doen, en nie net te doen wat jy sê nie. Betoon dieselfde mate van respek teenoor hom/haar as wat jy terugverwag. As jou kind ʼn sterk karakter het, is sy/haar kans op sukses in die huwelik sóveel groter.

Wees bewus van wat jou kind absorbeer en maak seker dat jy die beelde en boodskappe wat jou kind kan beïnvloed, filtreer. Praat gereeld met hom of haar oor karakter, en wat reg en verkeerd is.

Onthou om as ʼn eenheid by jou man te staan. Moet nooit ʼn eenheid met jou kinders vorm, sodat jou man eenkant moet staan nie. Neem saam met hom besluite en moenie mekaar voor die kinders afkraak nie. Wys toegeneentheid voor hulle en moenie huiwer om vir mekaar komplimente te gee in hul teenwoordigheid nie. Dit alles wys vir hulle hoe ʼn gelukkige huwelik behoort te lyk. En onthou: ‘A family that prays together, stays together …”

Bronne:

www.ehow.com;

www.ohioline.osu.edu;

www.associatedcontent.com;

www.yourparentingsolutions.com;

www.wikihow.com