Klink dit asof julle betaal word vir elke woord wat geuiter word? Klink jul gesprekke soos ’n telegraaf? Dan is dit tyd om weer te begin geséls oor dit wat saak maak…

Promosie

“Hoe was jou dag?” vra sy terwyl sy rys op die stoof sit.
“Hm,” mompel hy.
“Hm goed? Of hm sleg?” vra sy weer terwyl sy omdraai en uitstap om die hond kos te gee.
“Hm, so-so. Joune?” vra hy en skakel die televisie harder.
Hm,” antwoord sy.

Is dít hoe julle gesprekke deesdae klink? Huweliksmaats verleer dikwels die kuns van gesels. En om gehaltegesprekke te hê, raak ’n ware uitdaging! Veral as die kinders kom en die hooftema in elke gesprek hulle en hul aktiwiteite is.

Gerda Kriel, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, sê dat paartjies (veral met kinders) dikwels so min as 15 minute per week in opregte gesprek met mekaar spandeer. “Dit doen groot afbreuk aan die verhouding se gehalte, en dis moeilik om gehalte-gesprekke te hê as julle gejaagd is. ’n Minimum van vyf minute afgesonderde gesprekstyd per dag kan waardevol wees,” sê Gerda.

Promosie

DAAR IS ALTYD NUWE BELEWENISSE

Erika Nell, ’n kliniese sielkundige van Pretoria-Oos, sê dat paartjies aan die begin van ’n verhouding hulself vir ure lank besig hou met boeiende gesprekke, maar dat beide later in ’n verhouding kan voel dat hulle mekaar ken en weet hoe hul maat dink, en daarom voel dit vir hulle nutteloos om meer te deel oor hulself.

KIES DIE REGTE TYD EN PLEK

“Dit is eerstens baie belangrik om konteks in ag te neem om teleurstelling te vermy, deur ’n plek en tyd te kies waar genoegsame tyd beskikbaar is en beperkte afleidings teenwoordig is. Dus, om gedurende halftyd van ’n rugbywedstryd ’n betekenisvolle gesprek te probeer aanknoop, sal die dobbelsteen teen jou guns draai!

“Verder is dit nie noodwendig die ‘wat’ waaroor gepraat word wat die gesprek verdiep nie, maar die ‘hoe’ wat verdieping en betekenis aan ’n gesprek heg. Individue kan hulself voorberei om hul maat te benader met die instelling dat hul sónder kritiek, regstelling of advies, maar eerder met ’n gesindheid van kwesbaarheid, onvoorwaardelikheid, nuuskierigheid en ‘leer oor mekaar’ met hul maat in kontak gaan tree,” verduidelik Erika.

IN JOU MAAT SE SKOENE

Erika stel die volgende voor vir betekenisvolle gesprekke:

  • Behou oogkontak wanneer julle met mekaar gesels.
  • Luister aktief en wys vir jou maat dat jy luister.
  • Verskaf empatie (om jouself in jou maat se skoene te plaas en die emosie terug te gee). Byvoorbeeld: “Ek onthou hoe my ma melk in die pan gekook het vir ons toe ek klein was” en “Jy moes baie bederf gevoel het, dit klink na ’n spesiale herinnering wat jy koester”.
  • Som dít op wat met jou gedeel is (“So wat ek hoor is dat…”).
  • Wys belangstelling deur vrae te vrae soos: “Hoe so?” of “Hoekom?”.

PRAAT JULLE NÉT OOR PURITY EN PAMPERS?

Gerda se wenke vir paartjies met kinders:

  • Maak ’n gereelde afspraak met mekaar.
  • Tydens julle afsprake: Skakel jul selfone af, maak seker die kinders word elders besig gehou en vermy ander afleidings (bv. televisie).
  • Kyk in mekaar se oë wanneer julle praat. Jy kan baie in jou maat se oë lees, wat daartoe bydra dat julle mekaar se emosies beter verstaan.
  • Moenie krities wees oor mekaar se gevoelens of stories nie. Julle elkeen beleef emosies en ervarings verskillend, en dis belangrik om daardie verskille te eer.
  • Maak julle gesprektyd ’n veilige hawe: Dit laat ’n mens weerloos voel om jou emosies eerlik te deel.
  • Luister opreg na mekaar. Die volgende model word deur huweliksberaders aanbeveel om luister te help ontwikkel:
  1. Huweliksmaat 1: Deel ’n gevoel of ervaring. (Byvoorbeeld: “Ek was seergemaak hierdie week toe John my verjaardag vergeet het.”) Huweliksmaat 2 luister sonder onderbreking.
  2. Huweliksmaat 2: Reflekteer die presiese woorde terug. (Byvoorbeeld: “Ek hoor dat jy seergemaak was toe John jou verjaardag vergeet het.”)
  3. Huweliksmaat 1: Bevestig dat Huweliksmaat 2 korrek gereflekteer het. (Byvoorbeeld: “Ja, ek was seergemaak.”)
  4. Huweliksmaat 2: Vra opvolgvrae daaroor (Byvoorbeeld: “Hoe het dit jou week verder beïnvloed?”)
  5. Huweliksmaat 1: Brei uit en beskryf. Ruil die rolle om sodat elke huweliksmaat die geleentheid kry om iets te deel. Aanvanklik voel hierdie model baie onnatuurlik en ongemaklik, maar hoe meer geoefen ’n mens raak met opregte luister, hoe meer natuurlik vloei die proses, totdat jy besef jy doen dit spontaan in al jou gesprekke. En voor julle jul oë uitvee, kekkel julle soos van ouds!

 

Deur Lize Groenewald