Ry julle wipplank? Soms is een bo en met ander tye is die ander een bo, maar julle is nooit op ’n gelyke vlak nie? Beheer of mag in jou huwelik is ’n gevaarlike konsep, want vir een om in beheer te wees, moet die ander een onderdruk word . . .

Promosie

Deon is ’n onderwyser en die sekondêre broodwinner in sy huisgesin van vyf kinders. Sy vrou, Anita, is ’n geoktrooieerde rekenmeester by ’n bekende maatskappy in Gauteng. Soggens ry Anita baie vroeg om die spitsverkeer vanaf Pretoria na Johannesburg te mis en Deon is die ouer wat toebroodjies pak, ontbyt maak en sorg dat die kinders by die skool kom. Smiddae sorg hy vir die etes en help met die huiswerk.

Dit is danksy Anita se salaris dat hulle ’n mooi huis in ’n gegoede sekuriteitskompleks kan bekostig. Dit is ook Anita wat hul gesinsmotor afbetaal en vir hul Desembervakansies op Plettenbergbaai betaal.

Jy lees waarskynlik hierdie paragraaf en wag vir die punch line . . . want situasies soos dié is nie vreemd in die tyd waarin ons leef nie. Rolverdeling het verander en gesinne waarin net een party werk, is die uitsondering eerder as die norm.

Promosie

Agter geslote deure

Wat jou wel kriewelrig sal maak, is om te hoor hoeveel frustrasie Deon beleef. Want waar hy graag as die leier van die huis wil optree, voel dit asof Anita nou ál die reëls maak. Sý besluit wanneer hulle met vakansie gaan en watter restaurante hulle besoek. Sy eien haarself dié reg toe omdat sy voel sy werk hard om hul lewenstyl te handhaaf. Dis egter nie die enigste probleem nie.

Anita monitor ook Deon se doen en late deur sy selfoonstate na te gaan – hy het sewe jaar gelede ’n buite-egtelike verhouding gehad en vandag word hy steeds nie “toegelaat” om met enige vrou te praat sonder dat sy by is nie. Deon laat dit toe, want hy is steeds geboei in die kettings van skuldgevoel.

Vir lank het Deon soos ’n slagoffer gevoel, maar later het hy Anita op ’n passiewe-aggressiewe manier begin “straf” deur die septer te swaai as dit kom by die opvoeding van hul kinders. Wanneer sy aktiwiteite saam met die kinders voorstel, maak hy dit af. As sy die jongste begin voer, neem Deon oor. Mettertyd het Anita se selfvertroue as ma begin kwyn.

Van onderdanigheid tot rebelsheid

In ’n Daily Mail-artikel (dailymail.co.uk) skryf die huweliksterapeut Andrew G Marchall dat huwelike waarin ’n magstryd ’n probleem is, drasties toegeneem het oor die afgelope 20 jaar.

Van die algemeenste snellers is swangerskap (paartjies stry oor wanneer en hoe hulle wil swanger raak), die dood van ’n ouer of ’n mylpaal-verjaardag (een party word aan mortaliteit herinner en weier om langer onderdruk te word), ’n finansiële krisis of bevordering (daar is konflik tussen die spaarsamige party en die spandabelrige party). Volgens hom ontvang  een uit elke drie paartjies terapie vir magsprobleme binne hul huwelik.

Hoewel dit lyk asof sommige partye goed funksioneer, selfs al heers ’n wanbalans van mag, is dit nie gesond nie en sal die spanning tussen só ’n paartjie later waarskynlik breekpunt bereik.

Hoewel die onderdrukte party aanvanklik beheer mag toelaat (selfs vir jare aaneen), kom daar iewers ’n punt van rebelsheid. Beheer word met beheer beveg, of passiewe-aggressiewe gedrag ontstaan (soos in Deon en Anita se geval). Uiteindelik, ironies genoeg, beleef albei partye ’n gevoel van magteloosheid.

Wanneer die eindfluitjie blaas, is daar nie een wenner nie, maar wel een verloorder: Die huwelik.

Dikwels rebelleer die onderdrukte party uit magteloosheid deur die beheerder se karakter te probeer afbreek, wat weer  tot minagting lei – dít wat deur die huwelikskenner John Gottman geïdentifiseer is as een van die sterkste voorlopers tot egskeiding. Daarom is dit noodsaaklik vir julle om ’n gelyke speelveld te skep.

Maak die speelveld gelyk

Mag hoort nie tuis in ’n liefdevolle huwelik nie. Hoewel die twee partye onderskeidelik die finale sê mag hê op verkillende gebiede, behoort julle albei seggenskap te hê op álle gebiede: Van finansies, geloof en kinderopvoeding tot by die klein dag-tot-dag besluite – hoe die handdoeke opgevou moet word, hoe die vleis gaargemaak moet word en hoeveel tyd julle op sosiale media behoort te spandeer.

Kyk dus eerlik en krities na jul huwelik en hoe die mag op verskillende terreine tans tussen julle verdeel word. Daar waar die verskil te groot is, moet julle streef na meer ewewig. Onthou ook: Nie een van julle is reg of verkeerd nie – julle verskil bloot van mening (menings wat gevorm is deur persoonlikheid, opvoeding en invloede).

Neem die besluit dat daar nie outonomie in jul huwelik sal heers nie en dat alle opsies eers bespreek (en indien nodig gedebatteer) sal word voor ’n finale besluit geneem sal word. Maar wees ook bereid om jou maat se besluitnemingsvaardigheid op sekere gebiede te vertrou, sodat julle nie hare kloof oor onnodige kleinighede nie. Uiteindelik is ’n oop kommunikasiekanaal noodsaaklik sodat nie een van die twee partye ooit ’n gevoel van onderdrukking beleef nie.

 

Deur Annnelize Steyn