Daar is twee dinge wat ’n man en vrou nie saam behoort te doen nie: die een is om ’n huis te bou en die tweede is om saam te werk. Laasgenoemde is ’n wenresep vir konflik! Wat is die moets en wat is die moet-dit-liewer-nie-eers-wáág-nie’s?
Jy kan dit nie noodwendig altyd vermy om saam met jou vrou te werk nie. Of julle vir dieselfde maatskappy werk en of julle jul eie besigheid het, dit is iets wat julle nie sonder deeglike beplanning en streng grense moet aanpak nie.
Wanneer liefie skielik jou kollega word, moet julle wakker wees vir die volgende slaggate:
- Julle ontsnap nie vanselfsprekend uit jul werksomstandighede wanneer julle tuiskom nie.
- Werkskwessies kan maklik persoonlik raak.
- Huislike probleme kan jul werk beïnvloed en andersom. Huweliksprobleme kan selfs jul besigheidsituasie onuithoudbaar maak.
- Waak teen besigheidspraatjies in die slaapkamer. Min dinge sal die passie blus soos ’n skielike agendapunt wat by jou opkom terwyl jou maat jou eintlik probeer verlei.
- Julle kan in situasies beland waar daar botsende belange is. Dis belangrik dat ’n vreemdeling wat instap nooit moet kan raai dat julle getroud is nie. Ander personeel moet ook nooit benadeel word deur jul verhouding nie.
- Julle kan vergeet dat julle eintlik baie méér as besigheidsvennote is.
Gebruik jul werksituasie só tot jul voordeel:
- Paartjies wat wéét hoe om doeltreffend saam te werk, het ’n groot voorsprong. Hulle het unieke ywer vir hul besigheid en dit kan boonop vet pret wees.
- Stel duidelike grense vir werkspraatjies. Stel tye vas wanneer daar oor familiesake gepraat word en wanneer daar oor werksake gepraat word.
- Julle spandeer waarskynlik meer tyd saam op pad werk toe en woon dieselfde funksies by. Gebruik hierdie ekstra tyd om gehaltegesprekke te hê.
- Sorg dat julle werksprobleme en huweliksprobleme van mekaar skei. Dit gaan volwassenheid en nugter denke van beide van julle verg. Moenie toelaat dat ’n werksprobleem juis die klein jakkalsie in jul huwelik word nie.
- Gebruik mekaar se sterk punte tot jul voordeel. Aanvaar dat jou vrou dalk meer ervaring of kennis in ’n sekere veld het en omskep dit in ’n geleentheid om by jul gesamentlike doel uit te kom.
- Moenie ruimte laat vir grys areas nie. Sit duidelik elkeen van julle se rolle en take uiteen – veral as julle jul eie besigheid het. Nie een van julle kan “aanneem” dat die ander een verantwoordelikheid vir iets gaan neem nie. Jou maat sal vinnig vir jou tande wys as jy in haar gebied oortree.
- Gun mekaar ruimte. Moenie voortdurend oor jou maat se skouer loer en ’n wysneus probeer wees nie.
- Sorg dat julle albei ook ander stokperdjies ontwikkel wat as jou me-time kan tel.
Om saam te werk het unieke uitdagings, maar dit kan baie vervullend wees. Jou vrou is ’n kollega wat jy moet koester. Onthou: Dis ’n voorreg om saam te kan werk!
Deur Lize Groenewald