In Deel 2 wys Andy hoe dit lyk om lief te hê soos wat Jesus liefgehad het. Dit is eintlik instruksies vir álle verhoudings, maar daar word gefokus op hierdie instruksies deur die lens van jou een-tot-een liefdesverhouding of die liefdesverhouding wat jy graag sal wil hê.

Promosie

In Deel 1 van Andy Stanley se gewilde DVD-reeks, Staying in Love, het hy vertel dat jy net ’n polsslag nodig het om verlief te raak. Maar om lief vir mekaar te bly, vereis ’n plan! Hoewel daar niks in die samelewing rondom jou is wat jou help om lief te bly vir jou wederhelfte nie, is daar iets binne-in jou wat maak dat jy graag vir een spesiale persoon lief wil bly. Daardie iets is soos God se vingerafdruk op jou. Nóg ’n belangrike lewensles uit Deel 1 is dat jy liefde ’n werkwoord moet maak, ongeag jou omstandighede.

Volg vir Jesus

“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.” – Filippense 2:3-8

Promosie

Dit is nié ’n kompetisie nie

Moenie met mekaar kompeteer nie. Dit beteken as jou vrou ’n storie vertel, jy haar nie heeltyd onderbreek deur vir almal te vertel wat die éintlike storie is en haar korrigeer nie. Los die alewige: “Nee, dit was rooi . . . Dit is nie wat gebeur het nie!”

Tree op asof jou maat belangriker as jy is. Was jy al ooit in die nabyheid van iemand wat belangriker is as jy? Dink byvoorbeeld aan ’n troue waar jy nie die bruid of bruidegom was nie. Het jy al opgelet hoe al die gaste vir ure in ’n ry staan om met die bruid en bruidegom te gesels en nie met jou nie? Hoe almal in die kerk opstaan wanneer die bruid inkom en nie eens oplet wanneer jy binnekom nie?

Dit gaan nie daaroor dat sekere mense meer belangrik en minder belangrik voor God is nie. Binne ’n spesifieke konteks is hierdie mense belangriker as jy in ’n bepaalde situasie of omstandighede. Jy eerbiedig hul teenwoordigheid. Jy val hulle nie in die rede nie. Respek is die sleutel om jou maat te behandel asof hy of sy belangriker is as jy. Toon respek, maak nie saak wat dit van jou vereis nie. Elke dag, heeltyd, met élke besluit. Dit is baie meer waardevol en belangrik om jou maat te respekteer en hoër as jouself te ag, as om net altyd reg te wees. Dit kan dalk gebeur dat jou maat dit uitbuit, maar hou steeds daarmee vol.

Die “aah-gevoel”

Hoe behandel jy jou kosbaarste besitting? Jy sorg mooi daarvoor, jy is beskermend daaroor. Jy behandel dit altyd spesiaal. Aan die begin van jul verhouding het jy altyd verwondering gehad. Daardie “aah-gevoel”. Jy weet presies hoe om dit te doen! Jy moet net aanhou met daardie verwondering oor jou maat. Leer om dit doelbewus te doen.

Aan die begin kom dit natuurlik en vertel jy aan almal van daardie gevoel, nou moet jy dit net doelbewus doen elke liewe dag en met elke liewe geleentheid. Dit is baie meer belangrik en kosbaar en wanneer jy dit regkry, is dit ’n baie kragtige hulpmiddel in jul verhouding. Dit is wonderlik wanneer maats die ander een bo hulself kan stel.

Ons belangstellings verskil

Sorg dat jy belangstelling toon in die persoon in wie jy belangstel se belangstellings. Dit klink na ’n tongknoper! Andy gebruik homself en sy vrou as voorbeeld. Sy vrou het al jare lank ’n belangstelling in tuinmaak en het nog nooit regtig die geleentheid gehad om met ’n tuin te begin nie. Toe sy uiteindelik daarmee wou begin, het hy nie regtig haar belangstelling en entoesiasme gedeel nie. “Dit wat sy wil plant, is nie noodwendig goed wat ek wil eet nie!” skerts Andy.

Die ander probleem wat hy gehad het, is dat hulle twee reeds so min vrye tyd gehad het om met mekaar te deel en dat hy bedreig gevoel het deur haar nuwe stokperdjie. Hy was bang dat dit sou inmeng en tyd steel van haar eintlike prioriteit: hý. Hy het uitgesluit gevoel.

Andy vertel ook dat hy eendag met ’n vrou gesels het en gevra het watter soort werk haar man doen. “Dit het iets te doen met drade,” het die vrou geantwoord. Sy het werklik nie veel meer van haar man se werk geweet nie!

Hoewel dit later vir huweliksmaats baie moeilik is om moeite met mekaar se belangstellings te doen, was dit aan die begin baie maklik om ook tydelik daarvan te hou. Dink maar net aan toe jy jou maat ontmoet het en ewe skielik in ’n drawwer ontpop het. Jy het nog nooit in jou lewe gedraf of ’n paar draftekkies besit nie, maar ewe skielik het jy gedraf en was jy (tydelik) mál daaroor! Wanneer ons eers in ’n verhouding is, vergeet ons hoe om by mekaar te bly. Jou maat se belangstellings behoort minstens net so belangrik soos jou eie te wees.

Maak jouself leeg

Paulus illustreer die manier hoe Jesus ons liefhet. Nie die manier wat jou ma of jou pa jou liefhet nie. Jesus gebruik nooit in sy hele bediening sy Naam tot voordeel van sy eie belang nie. Hy gebruik nooit sy “Jesus-etiket” om vir mense te sê hoe belangrik Hy is nie. Jesus het homself leeggemaak ten koste van ons. Hoe ironies is dit nie dat ons altyd presies die teenoorgestelde van ander sê nie? “Hy is só vol van homself!” Dit is dikwels mense wat so vol is van hulself wat ons as ons voorbeeld neem.

Jesus het soos ’n dienskneg aan mense gelyk geword. Hy het homself verneder deur sy gehoorsaamheid aan die kruis. Die Skepper het homself aan die skepsel onderwerp. Hy het betaal vir die mens se sonde sodat Hy ’n verhouding met die mens kon hê. Dit is vir ons ’n dilemma, want ons is gewoond daaraan om altyd ons sin te kry. Jy dink en glo dat jy altyd reg is.

Jesus het aan die kruis gesterf vir jou grootste behoefte. Dit was glad nie wat Hy verdien het nie. Hy het jou situasie bo sy eie gestel. Jou vergifnis bo sy eie heerlikheid. Hy hoef dit nie te gedoen het nie. Ons was nie eens in die eerste plek Jesus se gelyke nie, en tóg het Hy dit nogtans gedoen. Hy het gekies vir ’n verhouding bo sy eie belang. Bo al die heerlikheid wat Hy eintlik moes ontvang. Die rede waarom jy voor God kan verskyn, is nie bloot omdat Jesus God se Seun is nie. Hy het homself onderwerp sodat jy vergewe kon word en daardeur vir God jou Hemelse Vader kan noem.

Wanneer dit kom by daardie spesiale verhouding wat verder strek as ’n groep vriende, daardie spesiale verbintenis wat selfs veel verder strek as fisiese aangetrokkenheid, is daar ’n deel van jou wat sal moet onderwerp en sterf. Ons moet ons eie ek laat sterf. Jy moet kies! Jou verhouding bo enige eer of verheerliking. Jy moet opofferings maak. Want as jy dit nie doen nie, gaan jy uiteindelik sit met ’n kamermaat of ’n kontrak en ’n baie onvervulde verhouding. Jy kan nie albei kies nie. Jy moet die verhouding kies bó jou eie regte en dit wat jý wil hê.

’n Duur prys

Julle moet julself aan mekaar onderwerp. Dit is wat in liefde van albei gevra word. As die prys dalk vir julle te hoog klink, moet jy nie dink dat dit op enige ander manier reggekry kan word nie. Dit is die mees vervullende ding wat julle kan beleef. Dít is wat God vir ons begeer.

Andy vertel dat hy en sy vrou eenkeer by een van die kinders se sportwedstryde was. Terwyl hulle in hul voertuig klim, sien hulle ’n man en vrou wat wegstap van mekaar. Andy het die man geken, maar nog nooit voorheen sy vrou gesien nie. Terwyl die twee wegstap van mekaar, rammel sy die een opdrag na die ander vir hom af. “Onthou om die stoele in te pak en sorg dat jy dit doen . . .” het sy voortgegaan om hom toe te snou.

Toe Andy en sy vrou in hul voertuig sit, het sy vrou vir hom gesê dat sy nie kan dink dat sy al ooit so met hom gepraat het nie. “Indien jy het, sou ek hééltyd gereis het. Ek sou elke uitnodiging om ’n praatjie iewers te gaan lewer, aanvaar het,” het Andy geantwoord. Die vrou het moontlik rede gehad waarom sy haar man aan alles herinner het. Hy het dalk al verskeie kere vantevore die stoele vergeet of wat ook al die geval mag wees. Maar sy het beslis nie met respek opgetree nie en daar was ’n beter manier hoe sy dit kon hanteer. ’n Mens kan reg wees en nog steeds die hele punt of dit waaroor dit régtig moet gaan, mis.

Hanteer jou maat as ’n waardevolle en belangrike persoon. Is dit moeilik? Ja, dit is beslis moeilik! Maar dit is baie makliker as om ’n ongelukkige huwelik te hê. Is dit die moeite werd? Dit is beslis die moeite werd! Die vraag is nie of jou maat dit ook doen of nie, jy moet dit steeds doen. Dít is God se plan vir jou!

KLIEK HIER VIR DEEL 3 VAN HIERDIE ARTIKEL