Het jy al ooit jou maat nader getrek net om met ’n opgetrekte neus en ’n “ag nee, sies” uitdrukking begroet te word? Soms gaan daardie afkeurende kyk oor meer as net die klankies wat onder jou kieliebak stoei.

Eerste indrukke is belangrik, maar vir diegene wat al donkiejare in ’n verhouding is, is daardie eerste afspraak se mini-skirt en verleidelike aftershave lankal vergete. Die indrukke wat nou blywend is, is dié wat van dag-tot-dag versterk word.

Dit gebeur dikwels dat paartjies te gemaklik raak met mekaar – die ander persoon aanvaar ons mos vir wie en wat ons is – en gevolglik begin ons ons voorkoms en persoonlike higiëne afskeep. En min dinge blus ’n persoon se sekslus so vinnig as die gril-faktor.

As jy vir jou maat gril, is seks bykans onmoontlik. Baie mense se gedagtes steek vas by reuk. Hulle dink solank as wat hulle nie sleg ruik nie, is alles oukei. Wel, contrary to popular belief (ahem, manne!) is spuitgoed nie ’n stort-in-’n-blikkie nie. Boonop gaan dit oor meer as net die verdoeseling van slegte reuke. Jy moet jou hele package, van jou kroontjie tot by jou toontjie versorg as jy wil hê jou maat moet jou aandag met ope arms verwelkom.

KYK NA JOU TANDE

Tande wat plaak-opbou vertoon gevlek en geel en kan jou maat op sy tande laat kners. Voeg daarby ’n slegte asem en jy kan vergeet van ’n piksoentjie, never mind ’n oopmond een. Gelukkig is daar baie produkte op die mark wat kan help om jou pearly whites weer wit te kry. Hoekom besoek jy nie jou tandarts en vra uit oor tandverbleiking behandeling nie? Borsel ook jou tande gereeld (ten minste twee keer per dag) en gebruik ook flos en mondspoelmiddel vir daardie ekstra varsheid.

VERSORG JOU HARE, MANNE

Sommige vrouens vind ’n man se gesig- en lyfhare onweerstaanbaar, terwyl dit ander laat gril en weghardloop. Almal is dit egter eens: hare moet nie krapperig, in die pad wees, of op plekke waar dit nie hoort nie. Byvoorbeeld: hare wat uit die neus en ore spruit, is taboe. Jou snor moet ook nie so lank wees dat vroulief daarin verstrik raak as sy jou soen nie. Sorg dat jy altyd goeie grooming toepas. Skoon, stekelvry en netjies is die sleutelwoorde.

Wat as jou probleem te min in plaas van te veel hare is? Haarverlies, veral onder mans, is ’n natuurlike verskynsel. Dit affekteer mans egter dikwels negatief omdat dit hulle dit sien as ’n verlies van hulle manlikheid. Vir sommige beteken die knou in selfbeeld gevolglik ook ’n verminderde seksdrang. Gelukkig is daar ’n verskeidenheid produkte en behandelings wat belowe om haarverlies te beperk of heeltemal hok te slaan. Jy kan selfs haaroorplantings oorweeg. Buitendien, bald is die nuwe sexy – kyk maar vir Bruce Willis – so skeer die oorblywende hare af en dra jou blink kopvel met trots!

DAMES

Om haarvry te bly, verg soms baie moeite, maar daar is drie areas wat ’n moet-fokus is: jou geslagsdele, bene en onderarms. Jy hoef nou nie elke liewe haartjie te gaan verwyder down under nie (sommige mans verkies meer blare in die bos) maar hou dit kort en netjies. Manlief gaan ’n gladgeskeerde been wat oor hom gly ook baie meer waardeer as een wat dae laas ’n skeermes gesien het.

’n Basiese skoonheidstruuk wat vrouens dikwels vergeet, is hoe hulle haarstyl hulle voorkoms kan verander. Jy hoef egter nie ure in ’n salon te spandeer om spesiaal te lyk nie. Vir lang hare: Gebruik ’n krultang om jou hare in sagte, romantiese krulle te omskep. Vir kort hare: maak ’n diep kantpaadjie en laat jou hare gedeeltelik oor een oog en wang lê vir ’n misterieuse voorkoms.

SKOON VOETE EN HANDE

Seks is ’n kontaksport – jy kan dit onmoontlik nie regkry sonder aanraking nie. En niemand wil aangeraak word deur ’n maat wie se hande en voete ongepoets of ongesond is nie.

’n Skerp toonnael wat in ’n kuit boor tydens seks, skurwe handpalms teen sensitiewe borste of vuil vingers wat mik vir delikate geslagsdele, is alles ’n gewaarborgde date met die dog box. Dit beteken nie jy hoef vir ’n manikuur of pedikuur te gaan nie, maar die toestand van jou naels kan (veral vir vrouens) regtig ’n deal breaker wees.

Wees bedag op velinfeksies soos atleetvoet. Indien jy dit het, kan jy die swam maklik oordra aan jou maat deur die eenvoudige aanraking van julle voete. Boonop kan dit na ander liggaamsdele ook versprei. Kry liefs onmiddellike behandeling daarvoor, anders gaan jy éérs in die sop wees.

KYK NA JOU VOORKOMS

Of jy nou nuwe grimeertegnieke of ’n wonderlike dieet ontdek het, en of jy vir die eerste keer in jou lewe handeroom gebruik of jou naels knip – dit kan ’n groot verskil aan jou sekslewe maak. Jou maat gaan dit moontlik onmiddellik agterkom. Komaan, probeer dit!

 

Deur Thalia Brüssow
Bronne: askmen.com, intimacyinmarriage.com