In hierdie uitgawe van Bybelfigure en hul huweliks-uitdagings kyk ons bietjie na die lewe van Abraham en Sarah. Hier is twee mense met gewone dag-tot-dag uitdagings soos ek en jy…

Promosie

Kyk, hul lewensverhaal is dalk in die Bybel opgeteken met hul goeie en slegte prestasies en keuses vir almal om te sien, maar een ding moet ons weet: Soos die Here se oop hart en genade vir hulle as huwelikspaartjie beskikbaar was, is Sy gedagte oor jou huwelik vandag nog onveranderlik. Hy wil jou hartsbegeertes vervul en jou seën sodat dit met jou en jou nalatenskap goed sal gaan en generasies van nou steeds sigbaar sal wees!

Kom ons leer vandag van hierdie huwelikspaartjie wat hul lewenslot tot vandag toe nog steeds ná soveel jaar met groot impak gelaat het. Abraham en Sarah se lewensverhaal kan ’n mens feitlik net so aanneem en gebruik as maatstaf om jouself en jou huwelik vir seën te posisioneer.

1) Die Here wil julle buiten gewoon seën. Nou’s die tyd om jou vroutjie uit te vat vir koffie, bietjie stil te raak en in erns haar te verseker dat die Here vandag nog Sy hand van beskerming op julle het. Manne onthou, jý as leier in die huwelik, het die verantwoordelikheid om vroulief te verseker wie julle ware bron van voorsiening werklik is – selfs al voel jy jou lewe spreek van die teenoorgestelde! Onthou, Abraham was self stomgeslaan oor die einste nuus wat alle bepalende faktore in ’n oomblik kom verander het. Laat toe dat die Here se beloftes jou ook bekragtig om nuwe hoogtes en uitdagings te bereik.

Promosie

2) Die Here wil julle buitengewoon vrugbaar maak. Kan dit wees? Onthou, vrugbaarheid is nie alleen swanger wees nie, maar alles wat jy het en besit, vermeerder! Dis nou net hier waar jy Abraham se geduld moet leer. Leer om dinge stap-vir-stap te neem. Elke tree is nader aan jou einddoel. Met ’n bietjie geduld aan jou kant en jou oë gefokus op jou doelwitte sal jy sien… kort-voor-lank gaan jy en jou geliefde bewus wees van ’n groter mag wat deur Sy liefde jou aan die ontvangkant plaas.

3) Die Here sal jou probeerslae buitengewoon bystaan. Sjoe, hoeveel keer het ons as manne nie in hierdie area al die kluts kwytgeraak nie? Abraham het sy foute weens eie probeerslae gemaak en ten spyte daarvan, steeds ongetwyfeld seën beleef. Al was menslike probeerslae betrokke het jy as huweliksmaat steeds Sy genade om ongetwyfeld sukses te behaal in jou lewe. Let wel dat wanneer jy jou beste voetjie uit die pad hou kan jou Heiland tog ’n beter weg baan. “Raak nou rustig” soos die ouer geslag altyd gesê het. Haal diep asem, stap die pad – jou eindbestemming is om die draai.

4) Teen die einde kom alles tot volle werklikheid. Al was Abraham en Sarah in ’n gevorderde ouderdom, het hulle nie gelet op hul verstorwe toestand nie. Die Here was tog waarmaker van Sy woord. Manne, leer vandag van hierdie ongelooflike paartjie. Hulle het vasgebyt aan drome wat per geleentheid gelyk het soos verbeeldings flitse. Jy en jou geliefde mag dalk dieselfde emosies beleef wat hierdie Bybelfigure deurgemaak het. Wees jy vandag die een en maak jou drome tot ’n vervulde huwelik vas. Niemand kan daardie besluit namens jou maak nie. Indien jy voel die mas wat voor jou staan is onbereikbaar, hoog en onmoontlik om te klim, onthou net een ding – as oom Abraham en tante Sarah, gewone mense net soos ek en jy dit kon doen met moeilike omstandighede ingereken, weet vandag… Jy kan! Maak daardie verskil in jou huwelik en bereik die droom wat wag om te gebeur. Toe nou, dis die regte ding om te doen!

 

Deur Stephen Claassens