Jy hou die remote control in julle gesin vas en die idee dat jy moontlik kan beheer verloor, is so skrikwekkend soos die moontlikheid dat jou skottelgoedwasser oor ’n naweek met jou skoonfamilie kan breek! Wees versigtig vir wat met jou huwelik kan gebeur . . .

Promosie

Jy is ’n liefdevolle vrou, maar dit is nou maar eenmaal so – jou besem staan in die hoek en jy staan reg om hom te bespring sodra daar konflik kom. Nie om te vlug nie, maar om te veg. Dit maak nie saak hóé lief jy jou maat het nie, as daar ’n fight is, móét jy hom wen. “Ek is nou maar net nie een van daardie nederige vroutjies wat onderdanig aan hul mans kan wees nie,” meen Chantal*. “Ek weet dit is als goed en wel om die ander wang te draai, maar dan voel dit vir my asof ek die geveg verloor en my man bo-oor my loop. Dit gee hom net meer mag in die verhouding en volgende keer gaan hy dit wéér doen…” Soos Chantal, glo menige vroue dat die woord ‘compromise’ beteken om in te gee of beheer te verloor. En vir baie is dit ’n vreesaanjaende gedagte! Maar een van die eerste dinge wat ’n vennoot in ’n gelukkige huwelik vir jou sal vertel, is dat ’n suksesvolle huwelik nie kan floreer sonder daardie baie belangrike woord nie (na beide kante toe!).

Kompromie of agreement?

In die Huffington Post artikel, ‘Marriage Advice: Come to An Agreement Rather than Compromise’ skryf Sophie Keller: “Die woord compromise het nooit lekker op my tong gevoel nie. Dit voel altyd ’n bietjie versmorend en impliseer dat ek my eie behoeftes vir iemand anders s’n moet opoffer. So in plaas daarvan om ’n kompromie te bereik, dink ek eerder dat ’n mens tot ’n vergelyking moet kom. Soos wat compromise iets wegneem waarvoor ek wens, stel die woord ‘agreement’ voor dat ek vryelik uit eie keuse saam met my maat tot ’n besluit kan kom wat vir beide van ons werk. Deur hierdie besluit te neem, neem ons mekaar in ag en ons doel is om te neem wat beide van ons wil hê en om dit vir ons te laat werk.”

Promosie

Hoe ver kan jy buig voor jy breek?

Compromise is egter iets wat fyn gemonitor en bestuur moet word in ’n verhouding. Hoe ver kan jy jou waardes buig en van jouself offer sonder om jouself te verloor? Paartjies moet die balans vind tussen die instandhouding van hul integriteit en die buig van hul waardes. Natuurlik sal jy in sekere gevalle moet buig. Maar hoe ver? Ja, jy sal soms moet buig ter wille van ’n liefdevolle verhouding, maar ’n liefdevolle verhouding vereis nie van jou om uitermatig te buig nie, of altyd die een te wees wat buig nie!

Twee mense verskil, al is julle hóé eenders. En die hoop is dat julle sal groei en leer uit jul verskille. Dit raak egter ’n probleem as een van die partye nie wil groei en leer nie. As een sê: ‘Aanvaar my soos ek is.’ Want in só ’n geval is dit altyd dieselfde party wat óf akkommodeer óf loop en dit is ongesond. ’n Paartjie kan kies: Of julle kan gedurig baklei, óf een maat kan ingee om konflik te vermy óf albei kan leer en groei met die doel om mekaar te beskerm teen pyn en meer te leer van liefde. As julle die laaste een kies, sal julle altyd ’n uitweg kry. Al gaan dit soms met argumente gepaard.

Vra dus gedurig vrae en luister na jou maat se opinie. As jy gewoond geraak het daaraan om jou maat te vertel wat om te doen, stop dadelik daarmee en begin vrae vra om uit te vind wat in jou maat se hart aangaan. As hy/sy antwoord: “Ag, ek weet nie, wat ookal jy wil doen,” moet dit nie los nie. Hou aan uitvis tot jy antwoord kry. As jy daarenteen die een is wat die deurmat in jul verhouding geword het, is dit tyd om te sê wat jy voel en jou opinie te lewer. Dit kan dalk waagmoed verg, maar dit sal mettertyd al makliker word.

Hoe kan jy compromise sonder om jouself te verloor?

  1. Kommunikeer jou behoeftes, en gebruik ‘ek’ stellings om te sê wat jy graag uit die verhouding wil hê. Soos: “Ek voel nou gereed vir kinders, aangesien ons finansieel redelik stabiel is. Wat dink jy?” Praat vir jouself en moenie aannames maak van wat jou maat wil hê nie. Moet hom ook nie aanval met jou eise nie.
  1. Luister na jou man. As jy dit gesê het, gee hom ’n kans om te reageer en gee aandag aan wat gesê word. As hy klaar gepraat het, herhaal wat jy gehoor het om seker te maak jy het hom reg verstaan. Sê: “So, jy sê jy voel nie nou gereed vir kinders nie omdat die moontlikheid bestaan dat ons teen die einde van die jaar oorsee sal moet trek vir jou werk?” Moenie skree nie. Dis ’n bespreking.
  1. Oorweeg jul opsies. Julle kan nou kinders kry en die oorsese geleentheid van die hand wys. Julle kan wag met kinders tot teen die einde van die jaar as julle vir seker weet wat aangaan. Of julle kan nou kinders hê en besluit om daardie uitdaging te oorbrug as julle daar kom. Oorweeg al jul opsies as ‘n paartjie terwyl jy onthou julle is twee persone wat betrokke is by hierdie besluit.
  1. Wees regverdig. Jy kan nie altyd jou sin kry nie en jou maat kan nie altyd ingee nie. Oorweeg die regverdigheid van albei se begeertes. Is die besluit regverdig teenoor elkeen van julle?
  1. Maak nou ’n besluit en bly daarby. As julle heeltemal eerlik is, sal julle saam ’n besluit kan neem wat vir julle werk. Onthou dat elkeen eerlik sy/haar insette moet lewer en dat niemand ná die tyd mag verwyt nie.

As julle oor alledaagse dinge verskil:

  • Hy is lus vir ’n aksiefliek terwyl jy net wil gaan relax in ’n romcom. Besluit dat julle vanaand ’n aksiefliek sal gaan sien maar volgende Saterdag (maak die datum vas!) ’n chick flick van jou keuse.
  • Besluit om iets te doen wat jou maat graag wil doen, maar voeg jou idees daarby, sodat die hele aktiwiteit ’n kombinasie is van jul perspektief en behoeftes. Hy is dalk lus om Sondag quad bike te gaan ry. Sê vir hom dit klink lekker, dat julle berg-op moet gaan ry en dat jy ’n piekniekmandjie sal pak vir daar bo.

Wanneer compromise onmoontlik is . . .

Soms is dit moeilik om ’n kompromie te bereik. As jou man baie rigied is en te stubborn of onsensitief is om te compromise… en as dit onmoontlik is om te compromise, is agree to disagree die enigste opsie, maar dit kan later groot wrywing tussen julle veroorsaak. As julle hierop besluit, moet julle enige gevoelens van verwyt laat vaar. Die volgende situasies maak ’n kompromie moeilik of onmoontlik:

  • Die besluit om kinders te kry. Dit is iets wat diep in jou hart gesetel is en gaan nie maklik verander word deur jou maat nie.
  • Verskillende ouerskapstyle. Ook dit is inherent deel van wie jy is. Jy het moontlik jou ouerskapstyl by jou eie ouers geërf.
  • Die gebruik van pornografie.
  • Waardes wat nie versoenbaar is nie, soos televisie in die slaapkamer of nie.
  • Fisieke en emosionele aanranding en jaloesie.
  • As iemand nie sy woord hou nie.

As een van bogenoemde verskille voorkom en dit lyk onoplosbaar, is dit wys om ’n terapeut te gaan sien.

Met compromise verloor jy soms en soms wen jy ’n bietjie. Dit is ’n kwessie van balans en ’n geleentheid vir groei! As jul keuses gemaak word met liefde, respek en omgee as dryfkrag, kan julle nie verloor nie. Dit kan jare neem om dié kuns te vervolmaak, meen kenners, maar dis die moeite werd!

 

Deur Annelize Steyn
*Skuilnaam is gebruik