Ek sukkel met “trust“ issues in ons verhouding. My meisie se vriendin wat ek glad nie vertrou nie, het gevra of sy saam met haar na ’n troue toe sal gaan. Ek vertrou nie die vriendin nie, want sy het al vertrouensprobleme in ons verhouding veroorsaak en as enkellopende beïnvloed sy my meisie negatief (al bly dit my meisie se eie keuses). Dit dra egter nie my goedkeuring weg as sy na ’n troue gaan terwyl sy met my in ’n verhouding is nie. Ek weet ek kan haar nie voorskryf nie, maar ek is nie gemaklik hiermee nie. Kan julle my raad gee, of vertel hoe ek die saak beter kan hanteer?

Promosie

 Gustav en Elna Muller, huweliksberaders van www.beterverhoudings.co.za antwoord:

Baie slapelose nagte word veroorsaak wanneer mense jou rede gee om hulle nie te vertrou nie. Jou meisie en julle verhouding is vir jou baie belangrik en jy is bang die vriendin beinvloed haar dat sy iets doen wat julle verhouding kan beskadig. Tog is jy wys genoeg om te besef dat jy nie jou meisie kan voorskryf nie. Jy kan egter jou bekommernis uitspreek sonder om haar vriendin sleg te praat. Onthou, jou meise is in ’n verhouding met jou, maar haar vriendin is ook vir haar belangrik.

Ons raad is dat jy en jou meisie moet gesels oor julle onderskeie definisies van ’n verhouding. Volgens jou definisie gaan mens nie alleen na ’n troue as jy in ’n verhouding is nie. Maar hoe lyk haar definisie? Julle het ’n gesamentlike definisie nodig waarmee julle albei gelukkig is. Dit moet ’n definisie wees wat julle verhouding beskerm en wat julle albei geborge laat voel.

Promosie

Ons voel ook dat dit nodig is om vir jou te noem dat baie mense soms met vertroue sukkel omdat iemand belangrik in hulle verlede hulle vertroue seergemaak het. Dit is raadsaam om selfondersoek te doen en vas te stel of daar nie ’n stukkie seerkry uit jou verlede is wat veroorsaak dat jy ander maklik wantrou nie. Indien wel, is die goeie nuus dat, as jy dit hanteer, as ’n innerlik gelukkiger mens in jou verhouding sal kan funksioneer.