Ek en my maat deel ’n studeerkamer en ek is besig om kop te verloor! Waar ek ’n baie georganiseerde linkerbrein-persoon is, is sy regterbrein dominant en floreer hy op kreatiewe denke. Die probleem is – hierdie een vertrek waar ek my gedagtes wil orden, is in totale chaos gedompel. Ons het twee lessenaars, maar ek voel hoe my ore rooi word as ek die wanorde op sy lessenaar sien. Hy los alles net waar hy dit neersit en só beland die gemorspos op die drukker en die liasseerwerk in ’n stapel. Ek kan nie in só ’n gemors funksioneer nie en dit is besig om stremming op ons huwelik te plaas!
Jy het ’n dilemma! Navorsing toon dat orde gesonde keuses aanhelp, maar dat ’n omgewing van wanorde kreatiwiteit stimuleer. Jy noem dat jou maat floreer op kreatiewe denke en dit is moontlik waarom hy (onderbewustelik) sy lessenaar deurmekaar hou. Vir jou kan dit natuurlik groot frustrasie veroorsaak. Ons stel die volgende stappe voor:
- Is daar enigsins ’n manier waarop julle in afsonderlike kamers kan werk? Miskien is daar ’n hoekie in byvoorbeeld die spaarkamer (wat min gebruik word), waar kalmte en orde heers en waar jy met baie minder frustrasie kan werk.
- As dit nie ’n opsie is nie, oorweeg om die studeerkamer te herorganiseer sodat jy en jou maat met julle rûe na mekaar gedraai kan sit. Dikwels skep gedeelde drukkers en skandeerders ’n probleem, maar as julle belê in wireless toestelle, behoort dit die probleem op te los.
- As jy egter steeds voel jy word blootgestel aan die chaos, kan jy probeer om manlief se chaotiese aard tot ’n mate te “rehabiliteer” deur orde vir hom maklik haalbaar te maak. Kenners meen die sleutel tot orde in ’n huis is genoegsame pakspasie (soos kratte). Ondersoek wat op sy tafel aangaan en kyk watter kratte/houers/stelsels jy nodig het om die lewe vir hom makliker te maak.
- Neem een Saterdag en sê jy sal hom help om eenmalig orde uit hierdie chaos te skep, maar dat hy moet onderneem om dit só te hou. Pak alles reg en kyk of dit moontlik is vir hom om dinge netjies te hou. Indien nie, verwys na nommer een.