Ek het in ’n baie streng pastoriehuis grootgeword en as jongmens nogal teen my grootwordjare gerebelleer. My man het ook in ’n streng huis grootgeword, maar daar was meer redelikheid as in my ouerhuis. Die gevolg is dat ek my kinders die vryheid wil gee om hulself kreatief uit te leef. Ek wil hê hulle moet onbevange grootword, terwyl my man voel dat kinders grense nodig het.

Promosie

Jou man is reg. Roetine en grense gee aan kinders ’n gevoel van sekuriteit en help hulle om selfdissipline te ontwikkel. Kinders moet aan baie veranderinge in hul lyfies en hul onmiddellike omgewing gewoond raak, en ’n mate van voorspelbaarheid laat hulle binne beheer voel.

Kinders het struktuur nodig sodat hulle die wêreld en die mense daarin kan leer ken. Só leer hulle hoe om met mense oor die weg te kom. Dit leer hulle ook selfbeheersing en om hul eie verantwoordelike besluite te neem.

Dr Laura Markham skryf op AhaParenting.com dat kinders uit chaotiese huise waar dinge nooit weggebêre word nie, nooit leer dat dinge glad kan verloop as hul omgewing georganiseerd is nie. Kinders wat nie vaste tye en spasie het om hul huiswerk te voltooi nie, leer nooit om ’n onaangename taak te sit en voltooi nie. Struktuur laat ons toe om konstruktiewe gewoontes te internaliseer, meen Laura. Natuurlik gaan jou kinders nie baat vind by ’n drilsersant wat nooit ’n reël verbreek nie! Soms móét reëls verbreek word, soos slapenstyd op ’n Saterdagaand!

Promosie

Hoe skep jy en manlief struktuur?

  1. Stel ’n dag-tot-dag roetine vas. Laat die kinders op vaste tye eet en gaan slaap. Hulle moet ook leer om saans te bad en tande te borsel voor slaaptyd. In die middae moet Boetie sy skoolklere uittrek en opvou voordat hy kan kom eet en daarna volg huiswerk. Koop vir jou skoolkinders elkeen ’n wekker wat hulle self moet stel om soggens betyds wakker te word vir skool.
  2. Stel huisreëls vas. Daar is sekere dinge wat jou kinders in jou huishouding moet leer en wat hulle later gaan leer om aanvaarbaar te sosialiseer. “In ons huis slaan ons nie mekaar nie” of “In hierdie huis is daar nie voete op die banke nie”. Jy en manlief moet vooraf besluit oor hierdie reëls en daarna moet dit aan die kinders verduidelik word.
  3. Onthou egter dat nie elke oomblik van die dag geskeduleer hoef te word nie – kinders het inderdaad ook vryheid nodig sodat hulle kan leer om hulself onafhanklik besig te hou en nie staat te maak op ander mense om hulle te vermaak nie.