Sy is nie lus vir seks nie – alwéér! Hoeveel keer kan sy nee sê? Wel, totdat jy dit wat haar lus blus uit die weg ruim. Wat is die moontlike oorsake van haar lae libido en hoe kan jy dit oplos?

Promosie

SY IS UITGEPUT

Het jy al opgelet hoe baie dinge vroulief vir jou en die kinders doen? Sy maak kos, tel julle stink sokkies op, dra julle vuil borde wasbak toe, bad en voer die kinders, maak vir jou koffie in die oggend – die lysie is eindeloos. En dan werk sy nog bedags vir ’n baas wat net so baie dinge van haar verwag as wat haar gesin doen. Teen die tyd wat julle vanaand in die bed klim, is sy voos.

Wat kan jy doen? Maklik, help! Vra vroulief of daar take is wat jy van haar hande af kan neem. Raak meer betrokke by die kinders se versorging, vat vir haar ’n glasie wyn in die bad en bied aan om gereeld aandete te maak. Gee haar so ’n bietjie tyd om te ontspan sodat sy die energie het vir seks.

Promosie

SY VOEL ONAANTREKLIK

’n Vrou se selfbeeld is maar net so fragile soos ’n man se ego – dit vat nie veel om dit te kwes nie. Baie vrouens verkeer onder die wanindruk dat hulle nie “mooi genoeg” is nie – of dit nou as gevolg van rekmerke is na ’n swangerskap of omdat die heuwels so ’n bietjie begin uitsak met die ouderdom. Sodra iets daardie ding in jou vrou se kop aan die rol sit, begin sy skaam raak vir haar lyf en glo sy dat jy haar ook nie meer sexy vind nie.

Wat kan jy doen? Komplimenteer vroulief met haar voorkoms. Sê vir haar dat jy haar wil opeet of haar klere van haar lyf wil afskeur. Gee haar ook die geleentheid om dinge te doen wat haar laat mooi voel. Knyp ’n geldjie af en stuur haar na ’n salon of spa toe vir ’n make-over, of koop vir haar ’n waaghalsige nagrokkie.

JULLE HET IN ’N ROETINE VERVAL

Klink hierdie scenario bekend? Julle staan op, gaan werk toe, kom huis toe, eet, kyk televisie, klim in die bed, hê seks in die sendelingposisie en gaan slaap. Môreoggend begin dit weer van voor af. Jip, baie paartjies worstel met roetine-probleme. Ons begin iets op ’n sekere manier doen omdat dit vir ons werk, maar na ’n ruk werk dit vir een party nie meer nie en dan is ons te vasgevang om dit agter te kom.

Wat kan jy doen? Neem vroulief elke week op ’n date night. Dit hoef julle nie ’n plaas se geld te kos nie – deur bloot net die televisie af te skakel en ’n intieme ete by kerslig te hê, spice julle al klaar dinge op. Probeer ook nuwe seksuele posisies en speletjies om dinge meer interessant te maak in die slaapkamer. INTIEM is propvol oulike idees wat julle albei in die mood sal kry. Wat van ’n blinddoek vanaand?

SY VOEL MEER SOOS JOU KAMERMAAT AS JOU VROU

Oh-oh, hierdie is ’n gróót libido-crusher vir vroulief. Dit is nou wanneer jou lewe meestal om jouself draai en jy haar as vanselfsprekend begin aanvaar. Byvoorbeeld wanneer jy julle planne vir die aand kanselleer omdat jy saam met die manne ’n bier wil gaan drink. Of wanneer sy jou ’n storie vertel van haar snaakse kollega, Bettie, en jy haar vra: “Wie is Bettie?” As jy nie aandag gee aan jou vrou of belangstelling toon in haar as mens nie, gaan sy baie vinnig belangstelling in julle sekslewe verloor.

Wat kan jy doen? Wel, jy gaan jou grootseun-sokkies moet optrek en oorgaan tot aksie. Maak ’n punt daarvan om vroulief te vra hoe haar dag was. Maar moenie net vir haar vertel dat sy vir jou belangrik is nie, wýs dit ook deur jou optrede. Stuur so nou en dan vir haar blomme werk toe of ’n oulike SMS deur die dag om te sê jy dink aan haar.

Bestel aanlyn by NetFlorist (www.netflorist.co.za), selfs Woolies lewer ook in sekere areas af (www.woolworths.co.za).

JY DOEN SELF NIE MEER MOEITE NIE

Dit gebeur met die beste van ons. Ná so ’n paar jaar van getroude lewe, raak ons gemaklik. Waar jy dalk voorheen moeite gedoen het met jou kleredrag, higiëne en lyf, laat jy jouself gaan – jy hoef mos nou nie meer ander vrouens te beïndruk nie. Soms gaan dit so ’n klein bietjie te ver en raak jy slordig – in só ’n mate dat dit jou maat afsit.

Wat kan jy doen? As jy toenadering soek by vroulief met ’n slegte asem, vuil hande en ’n natgeswete lyf, kan jy maar vergeet. Maak seker dat jy altyd skoon is en lekker ruik. (Ja, die kroonjuwele ook.) Tik gerus so ’n bietjie naskeermiddel onder jou kennebak en gaan gee vroulief ’n soen in die nek – sy sal aangenaam verras wees!

 

Deur Thalia Brüssow

Addisionele bronne: huffingtonpost.com