Verskil jou en manlief se verwagtinge sover dit seks aangaan? Dit kan groot moeilikheid in ’n paartjie se huwelik veroorsaak.

Promosie

Dit is die eerste date night in máánde wat realiseer en afgesien van ’n paar quickies hier en daar, het jy en manlief nog nie waarlik kans gekry vir behoorlike nookie nie. Jy is slaggereed, met ’n mooi nuwe korset en kousbande. Jy weet manlief sien al twee weke uit na vanaand, wanneer die kinders by Ouma gaan slaap en hy jou sy nuwe slaapkamer-truuk kan wys. Julle gaan die katel laat ratel! Maar dan breek die groot oomblik aan . . . en die aksie is binne minute verby. Wat ’n teleurstelling! Jy lê wakker en dink: Is ek nie meer begeerlik nie? Is die vonk weg? Is ons sekslewe verdoem? Is daar iemand anders?

Net soos wat seksuele verwagtinge in die begin van ’n verhouding of huwelik amok kan maak, só kan dit ook ’n langtermyn verhouding of huwelike van etlike jare beskadig. Alle paartjies gaan ’n huwelik binne met seksverwagtinge rakende gereeldheid, uithouvermoë, seksposisies, plekke vir seks en watter soort seks julle sal geniet. Hier is ’n paar seksverwagtinge waarvoor jy moet oppas:

VERWAGTING #1: Seks is soos in die flieks!

Promosie

Veronderstel dis jou troudag en jy is nog ’n maagd. Jy sien al jare uit na jou “eerste keer”, maar is aan die een kant onseker oor wat om te verwag. Gaan julle gil en skreeu soos in die sepies? Gaan daar baie bloed wees? Gaan jy ’n orgasme bereik? Dan gebeur die groot daad en dit is . . . ’n reuse teleurstelling! Glad nie soos in die flieks nie . . . Wel, ons kon jou gewaarsku het. Dít wat jy op die televisie sien, is allermins realisties. In die ware lewe stamp julle koppe (letterlik), soms glip Junior uit (ja, regtig) en daar is nie altyd ’n ontploffende, gelyktydige orgasme nie. Boonop kan jou eerste keer só seer wees dat jy dit nie eens geniet nie. Daarom dat INTIEM-kenners, soos dr Elmari Craig en dr Etienne Kok, altyd voorstel dat ’n jong paartjie nie te veel druk op hulself plaas voor daardie eerste keer nie. Dis om te vrá vir teleurstelling.

VERWAGTING #2: Orgasmes is ’n móét

Hoewel die werk van Masters & Johnson bepaal het dat seks piek by orgasme en eindig by resolusie, het meer hedendaagse navorsers bevind dat ’n orgasme slegs opsioneel is. Om te fokus op seksuele ontdekking, is baie meer lonend as wham bam thank you ma’am. Moenie fokus op kwantiteit nie, maar eerder op gehalte, en maak seker dat ’n orgasme nie in die pad staan van jou en ’n goeie sekslewe nie! Dis slegs ’n bonus.

VERWAGTING #3: Seksuele verskille beteken moeilikheid

Die waarheid? Dis normaal. Sodra jy en manlief jul voete (of mekaar se lywe) in die huwelik gevind het, is die seks gereeld, vuurwarm en amper-perfek! Maar as julle nou perfek in lyn is met mekaar, beteken dit nie dinge gaan oor tien jaar steeds só wees nie. Verskil jul begeertes? Dis normaal! As manlief van die gym af kom en sommer direk op jou wil spring, gaan jy nie noodwendig “reg en gereed” wees nie, veral nie as jy so pas jou jongste in die bed gekry en jou gereed gemaak het vir die nuutste episode van New Girl nie! Ná die program verby is, voel jy effens verveeld, maar manlief wat reeds diep in droomland is, wil eerder ’n bietjie agtergeblewe slaap inhaal as om nou sy spiere in die kooi te bult! Moenie skrik as jy en jou maat nie altyd dieselfde voel nie. Verwag dat julle nié sal wees nie en julle sal minder stres ervaar.

VERWAGTING #4: Jy moet gegroom wees soos prinses Kate

Sommige mense verwag perfeksie in die slaapkamer. Dis mos hoe dit in die flieks lyk. Die diva met ’n gesig vol grimering en vol, los lokke. Skoon geskeer – jip, nie ’n haartjie in sig nie! Dis alles loutere onsin, en as jy met hierdie veronderstelling jou sekslewe bestuur, gaan julle bedpretsessies few and far between wees. Soms is daar gebarste hakke en soms is daar ongeskeerde beenhare (en ’n bikini-lyn).

VERWAGTING #5: Manlief is die tier in die bed

Die waarheid? Hy hoef nie noodwendig te wees nie. Daar is ’n verwagting dat ’n man altyd ’n groter seksuele aptyt as ’n vrou behoort te hê. Dit is nie noodwendig só nie en is ’n stereotipe wat ’n verhouding baie skade kan aanrig. Dit laat mans wat nié altyd reg is vir seks nie, abnormaal voel en vroue wat dit wel wil hê, soos nimfomane. Wanneer die een party se begeerte nie ooreenkom met die stereotipe nie, raak dit moeiliker vir daardie persoon om dit met sy/haar maat te bespreek. Onthou, daar is net soveel variasie in ’n geslag as wat daar is tussen geslagte.

VERWAGTING #6: Penetrasie is nie alles nie!

Die waarheid? Jy hoef nie noodwendig ’n orgasme te bereik deur penetrasie nie. Dit is een van die mites wat mense se sekslewens waarskynlik nog die heel meeste beskadig het. Mans glo dit is penetrasie wat die ding doen en o, my goodness, dóén hulle dan die ding! Tot hulle uitasem is en vroulief pyn van al die aksie. Enige man wat lees, weet egter teen dié tyd dat slegs 30% van vroue ’n orgasme van penetrasie alleen kan bereik terwyl die ander 70% stimulasie van die klitoris of elders nodig het.

 

Soms is dit belangrik om jou verwagtinge van seks effens aan te pas, en jy sal vind dat manlief oorgenoeg vir jou is! Vra die volgende vrae om jou maat beter te verstaan in die bed:

  1. Dink jy kwaliteit of kwantiteit is belangriker?
  2. Hoeveel is genoeg?
  3. Wanneer voel jy op jou sexyste?
  4. Wat is vir jou ’n turn on?
  5. Wat is jou grootste fantasie?
  6. Wat wil jy hê moet verander/aangepas word in ons sekslewe?
  7. Wat dink jy van gesamentlike of individuele masturbasie?
  8. Wat beteken voorspel vir jou?
  9. Dink jy ons moet seksspeelgoed deel maak van ons huwelik?
  10. Hoe voel jy oor quickies?

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele Bronne: www.cosmopolitan.com, www.sexetc.org, www.health24.com, www.patheos.com