“Ek is die streng ouer in ons huisgesin en die een wat probeer om my kinders aan ’n gesonde leefstyl bloot te stel. Waar ek egter die reëlmaker is, is my man die ouer wat die reëls breek. Hy werk lang ure en wanneer hy saans tuis kom, bring hy vir die kinders lekkergoed wat hulle dan op ons duur meubels voor die televisie verorber. Siende dat die kroos onderskeidelik drie, vyf en ses jaar oud is, is dit taai, sjokolade-handmerke oral en ék is die een wat sit met ’n klomp kinders wat nie wil gaan slaap nie weens ’n suiker-“high”! Ons het al soveel kere hieroor baklei, wat maak ek?”
Jy is in ’n taai dilemma, een waarmee soveel hedendaagse ouers kan identifiseer. Ons lewens is só besig dat ons vir ’n tekort aan tyd met ons kinders deur geskenkies probeer vergoed. Jou man het ook in dié strik beland. Hier is ’n paar wenke:
- Gesels ernstig met hom oor jul eetgewoontes en noem dat jy jou kinders aan ’n gesonde roetine wil blootstel: Drie etes, twee versnaperinge en genoeg vloeistowwe. Sê vir jou man dat hy gerus die kinders met sjokolade kan bederf, maar liefs net oor naweke. Sê vir jou man jy het regtig sy hulp nodig in dié verband.
- Nog ’n reël: Daar is geen rede waarom die bederwe oor naweke voor die televisie genuttig moet word nie – inteendeel, vertel vir manlief dat jou kinders buite beheer raak omdat hulle veg vir sy aandag voor die televisie. Moedig hom aan om buite met die spannetjie te gaan stoei. Jy kan hulle gaan verras met waatlemoen of gevriesde jogurt, wat hulle sommer op die gras kan eet. Maak ook etes aan tafel ’n gesonde gewoonte.
- Oorweeg dit om jul “luukse meubels” na ’n ander vertrek te skuif. Die ideale meubels vir ’n vertrek wat gereeld gebruik word (soos die televisie-area), is banke met verwyderbare oortreksels wat gereeld gewas kan word. Besoek gerus ’n winkel soos Coricraft, met produkte soos dié en selfs ook leermeubels, wat maklik afgevee word as iets nat of taai daarop gemors word.