Jou ouers was waarskynlik in hul prille jeug toe hulle besluit het om die knoop deur te haak. Vir jou was dit belangrik om eers jou loopbaan te vestig en jou dertigs binne te gaan as ’n enkellopende moderne vrou … maar wanneer is ’n goeie ouderdom om te trou?
Bertus en Wilma het mekaar die eerste keer raakgeloop toe hulle saam aan atletiek deelgeneem het êrens in hul eerste jaar op hoërskool. Sy was maar skamerig en hy het nogal daarvan gehou. Hulle het baie saam gesit en wag vir dinge om te gebeur op die atletiekveld en het soms saam in groepe geoefen. Hulle was maats.
In hul voorlaaste jaar op skool het hul gevoelens vir mekaar verander. Wilma was skielik vir Bertus onbeskryflik mooi en hy wou vreeslik graag aan haar vat, haar soen. Hy het haar uitgevra en die skaam, mooi meisie het sýne geword. Hulle is saam universiteit toe en het die hele tyd beste vriende en romantiese vriende gebly. Teen die tyd wat hulle 21 jaar oud was, was hulle doodseker dat hulle baie gou wou trou, al het almal rondom hulle vreeslik daarteen geskop: “Julle is heeltemal gek – julle is nog te jonk! Kry eers ’n werk en spaar, sodat julle julself goed kan onderhou. ’n Mens kan nie trou as jy nog niks het nie.”
Vir hulle was hierdie dinge glad nie belangrik nie – hulle het vinnig gesorg dat hulle planne realiseer en is getroud. Hulle was, ná vyf jaar se saamwees, doodseker dat hulle die regte een is vir mekaar en dat hulle vir ewig gelukkig saam sal kan bly. Hulle wou ook sommer gou met ’n gesin begin, want hulle ken mekaar dan al só lank en voel absoluut reg daarvoor.
Monique en Wian het mekaar op Facebook ontmoet toe sy 26 en hy 29 was. Hy was al in ’n paar lang verhoudings betrokke en het begin dink hy sal nooit trou nie, omdat dinge elke keer skeef loop in sy verhoudings en hy elke keer teleurgesteld is. Sy was vir twee jaar in ’n verhouding waarin sy baie veilig gevoel het en waarin die ou haar selfs finansieel vreeslik bederf het – hy het vir haar woonstel en klererekeninge betaal en sy kon gemaklik oor die weg kom met haar klein salaris. Sy het regtig gedink sy gaan met haar ou liefde trou, maar was erg ontnugter toe hy die verhouding skielik verbreek, omdat daar iemand anders in sy lewe gekom het. Skielik moes sy haar lewe heeltemal herorganiseer.
Toe Wian haar begin uitvra, het sy vir haarself gesê dat sy dié keer sal wag tot sy die ou baie lank ken, voordat sy met hom sal trou. Sy sal ook sorg dat sy nie finansieel van hom afhanklik is nie, sodat sy nie weer so uitgetrek voel as hy net skielik sou verdwyn nie. Sy wou wag tot sy ongeveer 30 was en Wian was gemaklik met dié idee, want “verhoudings werk mos nie”. Hulle verhouding het gegroei, hulle het mekaar leer vertrou en is toe getroud toe Monique 30 geword het en Wian 33 – teen dié tyd was hulle altwee seker dat hulle tog vir mekaar bedoel was, dat hulle finansieel gevestig was, albei volwasse genoeg was om te trou en hulle het ook gevoel dat die biologiese klok se tyd uitloop en hulle moet begin dink aan kinders kry, voordat hulle te oud is daarvoor.
Verskillende scenario’s, verskillende mense in verskillende stadiums van hul lewens.
Wanneer moet jy trou?
Wat is die geheim van die regte ouderdom om te trou? Wat sê die kenners – is daar statistiese bewyse dat mense wat op ’n sekere ouderdom trou ’n groter kans het om te skei? Baie mense noem tradisioneel verskillende kriteria waaraan jy jou verhouding moet meet – dan sal jy weet. Tog wonder ’n mens of dit so maklik is.
KLIEK HIER: Wat beskou die samelewing as belangrike oorwegings wanneer dit kom by trou?
In die jare toet moes jy vir seker getroud wees voor jy 24 was, anders het almal bespiegel dat jy ’n oujongnooi was. Deesdae dink ons weer dat dit beter is om nie so jonk te trou nie – ons blameer die jonktrouery, voor die paartjie mekaar ordentlik ken, onder meer vir die baie egskeidings. Deesdae begin dogtertjies baie vroeër menstrueer en seksueel ontwikkel, maar mense begin eers laat in hul twintigs van trou praat. Hierdie tendens hou nou weer sy eie pakkie probleme in: vrugbaarheidsprobleme kom meer dikwels voor, beide persone kon al só selfstandig begin leef het, dat hulle moeiliker aanpas by ’n lewensmaat wat dinge op hul eie manier wil doen. En wat maak ons met die lus om seks te hê vir só lank as ons eers laat trou?
Duidelik het elke ouderdom sy voordele en nadele. Waar staan julle verhouding en watter voor- en nadele hou elke ouderdomsgroep nou eintlik in?
Kliek hier vir die spesifieke uitdagings, voordele en nadele vir die middel tot laat twintigs
Kliek hier vir die spesifieke uitdagings, voordele en nadele vir die dertigs
Daar is nie een goue reël wat vir almal geld nie.
Hou egter ’n paar dinge in gedagte:
- Vra: Ken ek hierdie man/vrou goed genoeg dat ek sy/haar goeie en sy slegte eienskappe al kon ervaar? (’n Mens kan redelik maklik baie slegte eienskappe vir ’n paar maande weggesteek kry. Dis makliker om bedagsaam, geduldig, vrygewig en baie oulik te wees wanneer jy verlief is!)
- Dink so rasioneel moontlik oor jul verhouding (dis moeilik wanneer ’n mens verlief is, ek weet, maar probeer nugter dink en gee jouself baie tyd daarvoor).
- Kyk die uitdagings wat julle ouderdomsgroep moet hanteer reguit in die oë. Oorweeg moontlike maniere om die uitdagings te hanteer – geld, beroep, afhanklik wees van mekaar, kinders kry, selfsug, buigsaamheid, bagasie, emosionele intimiteit, emosionele groei.
- Gesels gereeld oor hierdie dinge met mekaar.
Meer tyd om jouself te leer ken, volwasse te word en oor baie dinge te kan gesels is nooit ’n waarborg nie, maar dit gee ’n mens gewoonlik ’n beter kans op sukses.
Artikel deur Wilmé Steenekamp
***
MARRIAGE CAPSULE METHOD: 7 STAPPE TOT ‘N HUWELIK WAT HOU! INTIEM SE BESTE PRODUK OOIT! Kliek hier!