Konflik is ‘n belangrike en onvermydelike deel van elke langtermynverhouding. Dit is nie lekker om te baklei nie, maar ‘n goeie rusie kan julle nader aan mekaar bring en onderliggende probleme uitstryk. Só doen jy dit met ons maandgids.

Promosie

VRYDAG NOMMER 4:

JUL JIPPEE-VRYDAG wenk:

Moenie jou maat se gedagtes probeer lees nie. Jy weet nie hoe hy/sy voel nie. Luister en laat jou maat toe om vir jou te vertel wat hulle op die hart het. Moenie jou eie gevoelens op jou maat projekteer nie. Dit lei net tot rusies en verlore oorloë.

Promosie

JUL FIRELIGHTER vir ‘n goeie gesprek:

“Wat dink jy moet ons doen as ons nie kan saamstem oor ‘n groot besluit nie?”

Elke huwelik kom soms voor ‘n groot besluit te staan. En jul verwagtinge rondom die hantering hiervan kan ernstige konflik veroorsaak. Jou maat het dalk in ‘n baie patriargale huis grootgeword waar die finale besluit altyd by sy pa berus het, terwyl jy grootgeword het in ‘n huis waar jou ouers eindeloos oor ‘n belangrike saak baklei het, sonder om ooit by ‘n oplossing uit te kom (en dis waarom julle toe nooit ‘n swembad gehad het nie!). Bespreek jul verwagtinge oor so ‘n situasie vóóraf en dit sal julle help wanneer julle wel op dié punt kom.

JUL WITWARM WENK:

Soen soos tieners! Onthou julle hoe julle gevry het toe julle jonk was? Vóór seks op die tafel was? Julle kon ure en ure soen … Probeer dit en besluit vooraf om nie verder te gaan nie. Dit sal die seksuele spanning laat opbou vir volgende keer …

JUL BUCKETLIST PLAN:

Brou saam bier. Dis is ‘n baie ‘in’ ding om te doen. Jy kan verskeide klaar-gereed stelletjies aanlyn op Amazon koop. Bestel dit en brou jul eie bier. Ontwerp ook etikette vir jul bier deur iets unieks tot jul verhouding te gebruik. As julle laf is, kan julle jul troetelname vir mekaar inkorporeer. As julle ernstiger is, oorweeg dit om jul monogram te gebruik.

JUL INSPIRASIE-FLITS:

“Wanneer jy in konflik met iemand verkeer, is daar een faktor wat die verskil kan maak tussen die beskadiging van jou verhouding en die verdieping daarvan. Daardie faktor is houding.” – Anoniem

JUL  DAAGLIKSE GEWOONTE:

Gelukkige paartjies vermy nie konflik nie, maar hulle kies hul oorloë. Is die tandebuisieproppie werklik ‘n deal breaker? Dink jy hy het aspris die leë melkhouer in die yskas gelos? Kies jou oorloë wys, want ‘n konstante gekibbel bring niemand enigiets in die sak nie.

Indien jy deel 3 gemis het kliek hier!