Ons is baie geneig om met die witbrood onder die arm te kla, want dit is mos wat getroudes doen. Sy sê: “As Kobus net ’n bietjie meer romanties was, sou ek ook meer gretig wees om hóm gelukkig te hou.” Hy sê: “Ek sou baie meer onderklere aandra as ek haar meer gereeld daarin kon sien!” Maar is voorwaardelike liefde deel van ’n Christen-huwelik?
Ja, onvoorwaardelike liefde is noodsaaklik vir ’n sterk huwelik, meen die skrywers van focusonthefamily.com. Maar dit is makliker gesê as gedaan!
Jacomien ken haar man, Willem, al vir twaalf jaar. Sy weet dat tydsaamheid een van sy grootste worstelinge is en vir haar, ’n perfeksionis wat daarvan hou om betyds te wees, is dit ’n reuse-frustrasie. Twaalf jaar later probeer sy hom steeds fix.
Sy stel sy horlosie vroeër sonder dat hy dit weet, sy jaag hom aan (wat hewige rusies veroorsaak) en sy vertel dikwels vir haar vriendinne hoe sy laatkommery haar irriteer. Sy het al dikwels vir hom gesê: “As jy net ’n bietjie meer moeite doen om betyds te wees, sal ek twee keer dink voor ek jou kredietkaart gebruik.”
Wat is onvoorwaardelike liefde?
Voorwaardelike liefde plaas graag die skuld op iemand, verwag dinge in ruil en hou aan vra vir meer, terwyl laasgenoemde beteken dat jy jou maat aanvaar sonder om iets terug te verwag. Só jou maat het foute (almal het) en jy beskou hulle almal deur ’n vergrootglas! Jy terg jou maat maklik daarmee (soms selfs voor ander mense) en jy “straf” jou maat as hy of sy nie hul foute korrigeer nie.
Waar bring dit jou? By ’n huwelik waarin elkeen van julle vasberade is om jul eie sin te kry (in plaas daarvan om aan mekaar genade en liefde te wys). Dit lei tot ’n huwelik waarin twee maats soos onvolwasse kinders optree en dit kan lei tot ’n hunkering na iets anders (soos ’n maat wat nié voorwaardelik lief het nie). Dit skep verwyte wat lelike vashouplek in jou huwelik kry.
Daarteenoor – om jou maat onvoorwaardelik lief te hê, gee hom sekuriteit. Hy kan weet dat jou liefde nie afhang van sy optrede nie, maar dat jy hom met alle genade, geduld, respek en bemoediging lief het. Elke maat het dit nodig.
Wanneer die konsep verwarrend raak
Nico en Leana is sewe jaar getroud. Leana kom uit ’n ouerhuis waar klem gelê is op die konsep van onvoorwaardelike liefde en die begrip “Die liefde oorwin alles”. Die dag toe hulle voor die kansel gestaan het, het sy besluit dat sy die man langs haar sal liefhê – ongeag. Maar Leana is allesbehalwe gelukkig.
Nico is emosioneel en verbaal mishandelend, en breek Leana af met elke geleentheid wat hy kry. Hy rebelleer teen die natuurlike gang van hul huwelik en doen sy bes om die appelkar om te gooi met elke geleentheid wat hy kry. In die openbaar (veral voor haar familie) stel hy haar in die verleentheid deur tantrums te gooi soos ’n driejarige.
Maar Leana byt op haar tong, al voel sy soms dat sy hom te lyf wil gaan. Sien, sy streef daarna om “onvoorwaardelik lief te hê” en glo dit is haar plig om sy gedrag te ignoreer en hom keer op keer te vergewe vir wat hy doen. Is dít ’n huwelik waarna jy behoort te streef?
Wat is onvoorwaardelike liefde nié?
Op goodmenproject.com verskil Thomas Fiffer met die algemene beskouing van onvoorwaardelike liefde deur te sê dit is nie ’n verpligting nie, maar ’n keuse. En dat jy mooi moet kyk wat die betekenis daarvan in jou huwelik is. As jou maat dus jou kinders mishandel, wreed is of jou emosioneel aftakel, is dit belangrik om nie te dink dit is jou plig om dit te verdra in die naam van onvoorwaardelike liefde nie.
In dieselfde asem beteken dit ook nie onvoorwaardelike vergifnis nie. Dit beteken nie dat jou maat jou herhaaldelik mag verkul of dinge mag sê wat jou seermaak en dat jy dit goedsmoeds moet sluk nie.
“Onvoorwaardelike liefde is nie ’n soort liefde nie, maar ’n manier van liefhê. As jy ’n ouer is, weet jy dat jy jou kind kan liefhê en terselfdertyd haat wat jou kind doen. Jou kind se aaklige gedrag maak nie dat jy hom ophou liefhê nie, maar dit laat jou jou kind anders hanteer in daardie oomblik en met korrektiewe aksie optree.
“Daarom beteken om te sê ‘Ek het my maat onvoorwaardelik lief’ nie dat jy die persoon met ’n soort mistiese reinheid lief het wat jou daaglikse interaksie oorspoel nie. Dit beteken dat, in elke interaksie, jy optree uit ’n plek van liefde,” verduidelik hy. ’n Plek waar jy nie oordeel, beheer of jou maat se weerloosheid teen hom of haar gebruik nie.
Natuurlik is daar grense sover dit onvoorwaardelike liefde aangaan, meen hy. ’n Grens is ’n gesonde begrip van jou eie waarde. En onvoorwaardelike liefde is nié ’n eenrigtingstraat nie. Dis ’n wedersyds ondersteunende dinamiek waarin albei maats mekaar ondersteun.
Só hoe wys jy onvoorwaardelike liefde?
• Hê jou maat lief, sonder enige strings attached. Dit beteken dat jy jou maat vergewe as hy verkeerd teenoor jou opgetree het (binne rede) en om vergifnis te vra as jy verkeerd was.
• Neem vóór julle huwelik reeds die besluit dat skei nie ’n opsie is nie, maar dat julle deur alles sal werk wat dinge moeilik maak.
• Balans in ’n huwelik is só belangrik. Verdeel die dinge gelykop, maar sodra alles uitgesorteer is, moenie telling hou nie! Toegewings is ’n baie belangrike gedeelte van ’n suksesvolle huwelik. Tree altyd met respek teenoor jou maat op.
• Vra jou maat elke oggend: “Wat kan ek vir jou doen?” Op dié manier kan jou maat waarlik agterkom dat jy ’n behoefte het om sý behoeftes te bevredig.
• Maak God waarlik deel van jul huwelik. Beskerm julself teen verleiding en bid gereeld sodat julle emosioneel, fisiek en spiritueel na aan mekaar bly.
• Geniet elke oomblik saam – die moeilike tye én die lekker tye. Dit is juis die uitdagende tye wat ’n paartjie nader aan mekaar laat groei en laat besef hoe kosbaar die goeie tye is.
• Moenie moed opgee as dinge moeilik raak nie. Julle is albei onvolmaakte mense met jul eie persoonlikhede, foute en menings. Moet van die begin af nie blind wees vir jou maat se foute nie, maar aanvaar die een wat jy lief het, boots and all!
Addisionele bronne: www.focusonthefamily.ca, The Great Marriage Q&A book deur Dr Gary en Barbara Roserg, www.thegoodmenproject.com, www.lifehack.org.