Dit is een ding om jou huweliksbeloftes af te lê, maar ’n ander om dit uit te voer. Wanneer sake klopdisselboom verloop, is toewyding maklik. Maar wat beteken hierdie gelaaide woordjie werklik?

Promosie

Dis skemerkelkietyd op Mauritius en jou voete word gemasseer. Jy lê met jou hand in manlief s’n en dink: “Dís die lewe!” Sal jy weer trou? Enige dag – die huwelik is, ná alles, ’n fees. Nie waar nie? Om jouself toe te wy aan ’n ewige verhouding onder hierdie omstandighede verg nie juis ’n tweede gedagte nie.

Maar wat as dit tweeuur in die nag is en jy vir die sesde keer opstaan om jul gestremde kind te gaan troos ná ’n slegte nagmerrie. Jy word alleen wakker, want jou maat gee homself elke aand oor aan die bottel in ’n poging om jul realiteit te probeer vermy. Jy hou jou kind vas en wieg heen en weer terwyl die trane soos riviere oor jou wange vloei, en jy wonder of dit enigsins die moeite werd is om in hierdie hok van ’n huwelik te leef. Dis nie waarvoor jy getrou het nie . . .

Om die verhouding bó die oorlog te kies
In ’n studie deur sielkundiges aan die Universiteit van Kalifornië is 172 getroude paartjies gedurende hul eerste elf jaar saam geanaliseer. Benjamin Karney, mede-outeur van die studie, ’n professor in sielkunde en mede-direkteur van die Verhoudingsinstituut by die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles (UCLA), het bevind: Toewyding is meer as om te sê jy hou van jou huwelik en wil graag hê dit moet voortduur. Dit beteken om oplossings te soek wanneer dinge moeilik raak.

Promosie

Na elf jaar was dié paartjies wat beide bereid was om na oplossings binne die verhouding te soek, meer geneig om steeds getroud te wees. “Toewyding beteken om te doen wat dit verg om die verhouding suksesvol te maak. In ’n langtermyn-verhouding kan beide partye nie heeltyd hul sin kry nie,” sê Karney.

Volgens hom is die verhoudings wat oorleef, dié paartjies wat meer gesteld is op die beskerming van die verhouding as om die oorlog te wen. Wat ’n verhouding definieer, is die tye wanneer ’n mens onder ’n groot hoeveelheid spanning verkeer of oor ’n ernstige saak verskil, het hulle bevind.

“Wat ons data toon, is dat dit vir ’n paartjie ’n veel beter strategie is om hulle aan die verhouding toe te wy, eerder as om hulle aan hul eie agendas en onmiddellike behoeftes toe te wy. Ons sê egter nie dit is maklik nie.”

Die webtuiste foryourmarriage.org beskryf toewyding as ’n keuse om jou keuses prys te gee. Dit is nie beperkend nie, maar bevrydend aangesien ’n mens nie meer verskillende opsies teen mekaar hoef op te weeg nie, maar al jou energie daarin kan belê om hierdie toewyding te laat werk.

Volgens dié webtuiste is twee aksies te sprake: Om die toewyding te maak en om dit te behou. Liefde is nie genoeg nie, maar wel die besluit om te bly. Dít is toewyding – om te besluit om vas te byt, selfs al gaan dit sleg.

Waarom is julle toegewyd?
Op Psychologytoday skryf Rob Pascale en Lou Primavera dat toewyding in ’n huwelik in verskillende vorme voorkom. As jy en jou maat toegewyd is as gevolg van morele redes, beteken dit julle bly in die huwelik omdat julle voel dit is jul plig.

Praktiese of strukturele toewyding beteken dat sekere logistieke reëlings dit noodsaaklik maak om in die huwelik te bly. Dit maak byvoorbeeld finansieel sin vir julle om saam onder een dak te woon en, of julle gelukkig is of nie, julle voel asof julle geen ander keuse het as om by mekaar te bly nie.

Hoewel daar ’n plek is vir elkeen van hierdie tipe toewydings in jul huwelik, is dit die derde tipe wat werklik saak maak. Die derde tipe toewyding is persoonlike toewyding, wat emosioneel van aard is en beteken dat julle by mekaar bly omdat julle wíl en nie uit ’n sin vir verantwoordelikheid nie. Mense wat persoonlik toegewyd is aan mekaar, dink positief oor mekaar as ’n span wat lewensdoelwitte en belange deel.

Christopher D Connors identifiseer vyf sleutels tot toewyding op die webtuiste The Mission Daily.

1. Bou op positiewe ervarings
Gedeelde positiewe ervarings is wonderlike boustene vir julle huwelik. Dink aan daardie giggel-oomblikke, soos toe julle studente was en albei jul beursies by die koshuis vergeet het na ’n uitspattige uiteet. Of die keer toe julle van die bed afgeval het midde-in ’n romantiese oomblik. Neem die negatiewe en skakel dit om in positiewe ervarings, wat uiteindelik kosbare herinnerings gaan word.

2. Lewe jul huwelik met oorgawe
Leef in die oomblik en moenie die waarde van elke oomblik saam met jou geliefdes onderskat nie. Dink aan wat jou maat gelukkig sal maak. Dink aan wat jou huwelik kan verbeter en versterk. En wanneer dit swaar gaan, dink aan dinge wat dié tye vir julle ligter kan maak.

Moenie vergeet om jou maat te vertel dat jy omgee nie, maar moet veral nie vergeet om dit te wys nie. Laat jou maat altyd voel soos die belangrikste persoon in jou lewe.

3. Raak ontslae van afleidings en versoekings
Daardie Facebook-uitnodiging van jou eks (oor wie jy nooit regtig gekom het nie) – vee dit uit. Daardie kollega by die werk wat ekstra aandag aan jou gee – vermy hom. Versoekings en klein afleidings of verleidings is die dinge wat jou verhouding uitmekaar kan skeur.

Dr John Lydon van McGill Universiteit het ’n studie gedoen waarin mans en vroue foto’s gewys is van lede van die teenoorgestelde geslag. Hulle moes die persoon wat hulle aantreklik vind, identifiseer. Dr Lydon het bevind dat, hoe meer toegewyd iemand aan sy/haar huwelik is, hoe minder aantreklik vind dié persoon ander mense wat hul verhouding bedreig.

4. Wees bereidwillig om dinge vanuit jou maat se oogpunt te beskou
Dit is natuurlik om dinge vanuit jou eie perspektief te beskou. Wat goeie verhoudings en gemiddelde verhoudings egter van mekaar onderskei, is bereidwilligheid om jou maat se behoeftes, begeertes en perspektief eerste te stel en jou eie ego op die agtergrond te plaas.

5. Kyk krities na wat werklik saak maak
Spontaniteit is noodsaaklik in ’n huwelik, maar deurdagte besprekings ook. Dit is belangrik om te praat oor wat vir julle as ’n paartjie saak maak. En om jou toe te wy om werklik aandag te gee aan hierdie dinge. Fokus op die dinge wat vir elkeen van julle die meeste saak maak.

Toewyding is iets wat gereeld moet gebeur. Jy kan nie net goed voel oor jou huwelik nie, maar moet dit herhaaldelik bevestig deur jou huweliksband te versterk.

Focus on the Family gee die volgende idees:
1. Bid en vra Hom om jou te wys watter lewensmaat Hy wil hê jy moet wees. Bid vir eenheid en krag in jou huwelik.
2. Laat jou gedrag jou toewyding reflekteer. Wees beskikbaar vir jou maat, beplan saam aan jul toekoms, spandeer alleentyd saam met hom/haar.
3. Spel jou toewyding uit. Vertel jou maat dat jy vir die res van jou lewe aan jou huwelik toegewyd sal wees.
4. Herinner jouself aan al die positiewe aspekte van jou huwelik. Wat maak jou lief vir jou maat? Hoe is julle huwelik geseën? Maak ’n lysie.
5. Stel doelwitte oor hoe jy jou huwelik wil sien verbeter en groei. Dink aan ’n plan van aksie oor hoe om dit te laat waar word.
6. Kry ander betrokke, mense wat jou waardes deel en wil sien hoe jou huwelik slaag. Kry mentorskap-paartjies.
7. Vertel die wêreld van jul toewyding deur julle troubeloftes te hernu.

Toewyding is ’n broodnodige bestanddeel van ’n suksesvolle huwelik. Dit beteken dat julle boots and all in dié ding is. Dat ongeag wat ook al gebeur, in goeie én in lekker tye, julle jul huwelik sal deursien, nie omdat dit op ’n praktiese vlak sin maak nie, maar omdat julle wíl.

http://newsroom.ucla.edu/releases/here-is-what-real-commitment-to-228064, www.foryourmarriage.org, www.medium.com, https://www.focusonthefamily.com/marriage/strengthening-your-marriage/commitment/strengthening-marital-commitment.