Kenners meen daar is waarde in ‘n dankbaarheidsjoernaal. Dat dit jou lewe kan verryk en jou ingesteldheid só kan verander dat jou hele gestel daarby kan baat vind. Het jy geweet dat, om ‘n lewe van dankbaarheid in jou huwelik te leef, jou ook ryklik kan seën?

Promosie

“Ek is so moeg vir sy impulsiwiteit,” het Elaine gekla. ‘n Mens kon sien sy is voos, emosioneel tot op die been uitgeteer. Haar man, Johan, was altyd in ons oë een van die mees opwindende, onvoorspelbare mense. Vroeg in haar huwelik sou hy die Dinsdag besluit dat hy die Wes-Kaap vir Elaine wil wys – en die Woensdag het hulle in die pad geval. Hy het een dag in sy etensuur verby ‘n winkel gestap waar hy ‘n baie mooi ring gesien het, summier die ring gekoop en Elaine daardie selfde aand gevra om te trou. Selfs hul troudag was ‘n impromptu-affêre, en hulle is drie weke na dáárdie aand, kaalvoet op die strand getroud. Vir buitestaanders was dit die mees romantiese huwelik óóit.

Maar Johan se impulsiwiteit het sy tol geeïs op Elanie, wat van nature nié impulsief is nie. Daardie oggend het dinge net te veel geraak. “Ons finansies bekommer my – hy koop impulsief en dan staan die items bloot in ons garage. Boonop het hy gisteraand besluit hy wil sy werk bedank en ‘n 3D drukker begin bou. Ek weet nooit watter bevlieging hy volgende gaan kry nie.”

Elaine se bekommernis was geregverdig. Maar een ding is seker – sy sou Johan nooit kon verander nie. Sy het dit geweet en een dag, het ‘n vriendin oop kaarte met haar gespeel: “Elaine, onthou jy die dag toe jy en Gerdus (haar vorige kêrel) sowat ‘n jaar lank by mekaar was? Jy het doodongelukkig by my kom sit en jou hart oopgemaak.
Gesê jy weet Gerdus is jou ouers se ideale skoonseun, maar dat jy nooit met hom sou kon trou nie. Hy was ‘n perfeksionis en sy hele lewe was tot in die fynste detail beplan. Johan het jou voete onder jou uitgeslaan…” ‘n Liggie het vir Elaine aangegaan.

Promosie

Die waarde van dankbaarheid

Dankbaarheid is een van die belangrikste bestanddele vir ‘n suksesvolle huwelik. Toe julle verhouding nuut was, het julle mekaar met dankbaarheid waardeer, maar mettertyd mekaar as vanselfsprekend begin aanvaar. Ons begin blind raak vir ons maats se mooi eienskappe en fokus net op die dinge wat ons pla.

‘n Nuwe studie in die Journal of Personality and Social Psycology, getiteld ‘Have You Thanked Your Spouse Today? Felt and Expressed Gratitude Among Married Couples,’ wat gedoen is onder paartjies wat gemiddeld twintig jaar getroud is, het bevind dat wanneer een lewensmaat innerlik dankbaar voel vir die goeie dinge van die ander party of van hul huwelik, daar ook huwelikstevredenheid daarmee gepaard gaan. Die individue wat hoër vlakke van dankbaarheid beleef het, was gelukkiger met hul huwelike. En die partye wat hul dankbaarheid uitgedruk het, se lewensmaats het groter dankbaarheid getoon – sonder dat hulle bewus was van die ander party se mening.

Dr Cameron Gordon, die hoofnavorser van dié studie, noem dankbaarheid ‘n positiewe eienskap en sê: “Om iets positief in die huwelik te skep is baie anders as om iets negatief weg te neem.” “Negatiwiteit in die huwelik het erosie tot gevolg, maar ons weet eintlik min van die effek van positiwiteit op die onderhoud van ‘n huwelik”, meen hy.

Dis waar, en dankbaarheid lei tot lag, pret, genade en ‘n beter verstaan van mekaar. In ‘n ander studie, gepubliseer in die joernaal Personal Relationships, het navorsers van die Universiteit van Georgia altesaam 468 getroude paartjies genader en hulle uitgevra oor finansies, kommunikasie-taktiek en hoe hulle dankbaarheid teenoor hul maats betoon. Weereens is gevind dat dankbaarheid merkwaardig dui op huweliksgehalte. En dat paartjies wat dankbaarheid en waardering teenoor mekaar toon, minder geneig is tot egskeiding. Om gewaardeerd te voel het ‘n groot impak op hoe jy oor jou huwelik voel en jou toewyding om dit te laat werk.

Die studie se mede-outeur, Ted Futris, sê dat alle paartjies verskil en argumenteer. “Wat die huwelike wat hou, onderskei van dié wat nie hou nie, is nie hoe gereeld hulle baklei nie, maar hóé hulle baklei en hoe hulle mekaar op ‘n daaglikse basis hanteer.” Die studie het ook gevind dat finansiële spanning huwelike negatief kan affekteer, maar dat, om jou waardering uit te spreek hierdie spanning kan verlig. “Wanneer paartjies gespanne is oor hoe om met hul geld uit te kom, is hulle meer geneig om op negatiewe maniere om te gaan – hulle is meer krities en verdedigend teenoor mekaar en kan selfs ophou praat of onttrek van mekaar, wat dan lei tot laer huweliksgehalte,” sê Ted. “Dankbaarheid kan egter hierdie siklus onderbreek en paartjies help om negatiewe kommunikasiepatrone in hul verhouding te oorkom, patrone wat die gevolg van die huidige stresfaktore kan wees.”

Dit is nie altyd maklik om dankbaar te leef nie. Soms vóél ons bloot nie dankbaar nie en met ander tye beweeg die lewe te vinnig om te fokus op dankbaarheid. Maar in ‘n New York Times artikel getiteld, Choose to be Grateful. It Will Make You Happier, skryf Arthur C. Brooks dat, om dankbaarheid te kies, ons nog dankbaarder maak. Want wanneer ons dankbaarheid uitoefen, stel ons breine chemikalieë vry wat ons minder gespanne maak – en meer dankbaar! In sy navorsingsentrum het huwelikskenner, Dr. John Gottman, ontdek dat suksesvolle paartjies ‘n kultuur van goedhartigheid ontwikkel en doelbewus daarna streef om mekaar deur ‘n rooskleurige bril te aanskou.
Dankbaarheidsgewoontes kan klein begin, en in sy artikel skryf Arthur dat ‘n mens interne dankbaarheid moet beoefen, eksterne dankbaarheid en dan laastens dankbaarheid vir nuttelose dinge. Laasgenoemde is die maklikste. Dankbaarheid vir sy glimlag, dankbaarheid vir die koffie waarmee sy jou wakker gemaak het, dankbaarheid vir sy warm asem in jou nek op ‘n koue aand…

Hoe doen jy dit?

1. Leef bewustelik dankbaar. Raak meer bewus van die dinge wat jy van jou maat waardeer en verander jou denkwyse. In plaas daarvan om te dink dit is jou maat se werk om iets wonderliks te doen sodat jy dankbaar daaroor kan voel, sien dit as jou verantwoordelikheid om dinge van jou maat te sóék om oor dankbaar te wees.

2. Wees vrygewig en onselfsugtig. Doen iets vir jou maat sonder dat hulle hoef te vra en sonder om ‘n bohaai daaroor te maak. Laat nuwe bande vir haar kar opsit, maar moenie verwag dat sy jou hiervoor moet prys nie. Trek bossies uit sy gunsteling bedding sonder om ‘n dankie te verwag.

3. Wees dankbaar vir die intensie en die pogings. Soms werk dinge nie uit nie. Hy het sy bes probeer om vir jou ‘n Masterchef-ete voor te berei, maar dit het liederlik misluk. Sê steeds: “Moet glad nie daaroor bekommerd wees nie. Ek waardeer dit soveel dat jy dit vir my gedoen het.”

4. Wees kreatief wanneer jy dankie sê. Moet dit nie net by een woord hou nie. Leer om op verskillende maniere jou dankbaarheid te toon. Sê byvoorbeeld “Ek waardeer jou,” of “ek is so dankbaar dat jy…”of “Mag jy geseën word hiervoor…”

5. Wys jou maat jou waardering. Gebruik jou lyftaal en reaksie om vir jou maat te wys hoeveel jy hom/haar waardeer. In Dr Cameron Gordon se studie het dit duidelik na vore gekom dat paartjies wat mekaar waardeer, aktiewe luister toepas. Wanneer een party praat, het die ander een dit duidelik gemaak dat hy/sy luister en inneem wat hul maats se (só wys jy jou maat dat jy sy/haar opinie waardig ag).

6. Doen moeite met jou maat. Sit elke dag tyd opsy waarin jy aandag gee aan jou maat se doen en late. Luister met aandag en vra hom/haar uit oor hul dag.

7. Fokus elke dag op wat wel in jou huwelik werk. Ons is so geneig om te kla oor dit wat nié werk nie. Verskuif jou fokus. Maak dit ‘n daaglikse gewoonte. Dit sal later al hoe makliker wees om hierdie gewoonte te onderhou.

8. Spreek soms jou dankbaarheid uit in die openbaar. Soms voel selfs die mees selfversekerde maats onseker in die openbaar. Maak seker jou maat weet by die huis hoe dankbaar jy is. Maar maak ook seker hy/sy weet dit wanneer julle tussen ander mense is.

9. Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal. Skryf elke dag in dié joernaal en wy ‘n spesifieke gedeelte elke dag toe aan jou huwelik. Byvoorbeeld, die blokkie regs bo op die bladsy. Hierin skryf jy een ding van jou maat neer waaroor jy dankbaar is.

10. Doen die 60 Second Blessing. Dink vandag aan wat jy vir jou maat kan sê om hom/haar aan te moedig. Neem dan ‘n volle minuut (sonder enige afleiding), kyk in jou maat se oë en spreek lewe. Dit is ongelooflik wat ‘n eenvoudig kompliment kan doen om liefde te laat groei. Op die blog marriage363.org, skryf Heather Christy een van die keerpunte in haar en haar maat se huwelik was toe hulle die krag van woorde van bemoediging oor mekaar geleer het.

As iets so eenvoudig soos ‘n ingesteldheid en woorde van bemoediging en dankbaarheid ‘n reuse-verskil in jou huwelik kan maak, hoekom sal jy nie die geleentheid onmiddellik aangryp nie? Leef ‘n dankbare huwelik en voel hoe jou huwelik vandag nog verander.

Addisionele bronne: www.foryourmarriage.org; www.psychologytoday.com; www.bustle.com; www.relatable.com; www.gottman.com; www.soundvision.com