Dit gebeur nie net in flieks nie. Ook in die werklike lewe is daar mense wat aanvoer dat die rede vir hul egskeiding is dat hul gevoelens verander het…

“Ek is net nie meer lief vir jou nie.” Dié woorde het Sandra se hart tot stilstand geruk. Sy en John het een aand weer aan die stry geraak oor naweekplanne toe hy uit die bloute ‘n bom laat val: Hy wil skei.

Eers het Sandra gedink sy hoor verkeerd. Ja, dit wás ‘n moeilike tyd in hul huwelik. Hulle het gereeld en lelik baklei, maar dit weer uitsorteer. Sy het wel die laaste paar maande agtergekom dat John meer teruggetrokke raak en duidelik nie homself is nie.

Op haar vraag hoekom, was sy antwoord kil. “Ek het gewonder: Wat op aarde beteken dit? Die liefde is mos nie net ‘n knoppie wat jy aan en af draai nie? En die huwelik berus mos nie net op gevoelens nie… ek het gehoop ons liefde bestaan uit meer as ‘n ‘gevoel’.” Maar ten spyte van Sandra se smeking vir ‘n beter rede, het John daardie aand sy tasse gepak en uit die huis getrek.

Promosie

Die skok was groot. Sy het dit glad nie verwag nie en gemeen die rowwe tyd waardeur hulle gaan, is normale dinge wat elke paartjie mee worstel.

Daar móés ‘n ander rede wees, het Sandra gedink. Maar so hard soos sy ook al gesoek het, kon sy dit nie kry nie. Daar was nie ‘n buite-egtelike verhouding nie.

En toe die realiteit eindelik insink (dat dít waarlik die rede is waarom hy haar los), was dit baie pynlik om te verwerk. “Die moontlikheid van ‘n ander rede, het my hoop gegee. Maar hoe oortuig ‘n mens iemand wat nie meer vir jou lief is nie, dat dit die moeite werd is om vir die huwelik te veg? Jy kan nie anders nie as om die fout by jouself te soek. Was ek ‘n slegte vrou? Het ek  te veel seks geweier? Het ek te veel gewig opgetel? Is ek só moeilik om lief te hê…?”

Kan mense die liefdesknoppie afskakel?

Wanneer ‘n paartjie trou, is dit ‘n ewigheidskontrak: Jy beloof om by jou maat te bly, al raak die water ook hóé rof. Maar die skeisyfer wys dat mense maklik van plan verander wanneer die water wel rof raak. En dieselfde paartjie wat aanvanklik meen hulle kán nie sonder mekaar leef nie, kan lateraan nie meer saam met mekaar leef nie.

Roetine tree in en die maagvlinders kies die hasepad. Mense raak verveeld, hou op om te kommunikeer, die seks raak ongereeld, daar tree misverstande in en oneerlikheid raak die norm. Maar is dit regtig hoekom die liefde opdroog? (in Engels word daar gesê: I fell out of love …). En as dit nie is nie, hoekom voer mense dié rede aan?

Die verskil tussen verliefdheid en liefde

Op die webtuiste, TheGoodMenProject.com skryf Donna Begg die nommer een rede is doodeenvoudig omdat ons menslike wesens is. Ons is so ontwerp. Verliefdheid droog op en maak plek vir ‘n ander soort liefde, maar baie mense verwar verliefdheid en liefde met mekaar.

En dit beteken nie dat elke langtermynverhouding in die wereld geskoei is op verveling nie! “… as ‘n paartjie beide die betekenis van ware liefde verstaan, raak hulle weer verlief op/lief vir mekaar, selfs dieper as vantevore.”

Sy skryf dat om lief te word vir mekaar en dan weer “uit liefde te val” heeltemal natuurlik en siklies is, net soos die getye van die oseaan. “Die probleem in die verhouding is wanneer die persoon uit die boot uit spring.”

Want verliefdheid maak dat jy voortdurend tyd met jou maat wil bestee… ‘n gevoel wat mettertyd taan en verkeerd geïnterpreteer word deur soveel mense. Om daardie verliefde gevoel te verloor is normáál en die huwelike wat dit wel op die lange duur maak, is dié huwelike wat deurdruk wanneer die minder opwindende tye intree.

Dit is allesbehalwe normaal…

Dr. Dana Fillmore en Amy Barnhart, mede-stigters van StrongMarriageNow.com, meen om die skeiding tussen huweliksmaats as ‘normaal’ te beskryf, jy jou huwelik ‘n oneer aandoen.

Hulle meen dat, hoewel daar hoogtepunte en laagtepunte is, daar geen stophorlosie is wat bepaal dat jy op ‘n sekere punt sal ophou om vir mekaar lief te wees nie. “Dit gebeur, maar slegs wanneer jy jou huwelik afskeep (intensioneel of nie-intensioneel) en julle het beide die mag om daarteen te baklei.”

Dana en Amy sê dat ‘n paartjie nie natuurlik uit mekaar dryf nie, maar dat ‘n mens se geneigdheid om tyd saam deur te bring en jou huwelik aktief te onderhou, dalk vervaag – en dís wanneer die moeilikheid intree. Hulle meen dat as ‘n mens lank bloot saamwoon sonder romanse en afsprake, is dit geen wonder nie dat mense soos huismaats in plaas van huweliksmaats begin voel.

Dit gebeur dikwels dat mense hierdie rede aanvoer. Dis ‘n rede wat jou lewensmaat soos ‘n dolk in die hart tref – veral wanneer hy/sy nie dieselfde voel nie. Maar dis moontlik dat die party wat hierdie woorde uiter, ander emosies ervaar en nie weet hoe om dit reg uit te druk nie. Volgens kenners kan jy verhoed dat hierdie scenario jul huwelik tref, deur die volgende raad te volg:

  1. Verstaan die ware betekenis van liefde. Vandat ons klein kinders is, word ons blootgestel aan romantiese liefde en die gedagte van: “…lank en gelukkig”. Wanneer ons ouer word, is dit Hollywood wat daardie vereenvoudigde voorstelling van ware liefde voortsit. Hoewel jy nie romanse hoef prys te gee nie (om die waarheid te sê, jy mág nie!), moet jy ook na die huwelik kyk met die oë van ‘n realis. Wanneer jy verlief is, is dit jou hormone wat praat, nie noodwendig jou hart nie. Dis ‘n tydelike fase.
  2. Hou op vra wat jy uit die verhouding uit kry. Die beste manier waarop jy ware liefde kan ervaar, is deur meer hiervan uit te deel, meen Donna. As jy jou fokus verskuif op dit wat jy nodig het uit die verhouding en eerder kyk op hoe jy jou maat gelukkig kan maak, sal jy stadigaan die betekenis van ware liefde begryp. Onrealistiese verwagtinge is een van die hoof-oorsake van liefde wat taan. Of eerder – liefde wat oorskadu word deur verwyt. Want wanneer jy van jou maat verwag om te bied wat onmoontlik is vir hom/haar om te doen, wie se skuld is dit?
  3. Moenie in slegte of ongesonde gewoontes verval nie. Voel dit asof jy nie meer jou maat liefhet nie? Jul probleem is dalk nie verveling nie, maar weersin. Paartjies wat mekaar as opponente eerder as spanmaats sien, verval in ‘n magstryd. Susan Orenstein, ‘n gelisensieerde sielkundige en verhoudings-kenner, sê op PsycCentral.com dat hierdie paartjies gereelde konflik in hul huwelike beleef en dikwels skreeu, dinge sê wat seermaak en selfs fisiek aggressief raak. Hulle voel emosioneel onveilig by mekaar. As dit bekend klink, is dit belangrik om ‘n verhoudingskenner te gaan sien wat julle kan help om reëls neer te lê, sodat julle kan ophou vuil-speel en kan leer hoe om konflik konstruktief op te los.
  4. Wees dankbaar vir wie jou maat is. Dankbaarheid en positiwiteit sal jou ver bring in jou huwelik. Perspektief speel ‘n baie groter rol in die sukses of mislukking van ‘n huwelik as wat baie mense dink. Waar dit aanvanklik (wanneer jy en jou maat nog dolverlief is) baie maklik is om die foute oor te sien en die goeie eienskappe te vergroot, is mens later geneig om die teenoorgestelde te wil doen. Na ‘n paar jaar sien jy jou maat se goeie eienskappe oor (of aanvaar hulle as vanselfsprekend) en al wat jy raaksien, is jou maat se foute. Sensor jou gedagtes. As jy agterkom dat jy weer besig is om jou maat te kritiseer, verskuif jou gedagtes deur aan sy/haar positiewe eienskappe te dink.
  5. Weet dat dit nie vanself gaan gebeur nie. Dié een is baie belangrik! Moenie staatmaak op jou gevoelens en wag vir die ‘verliefde gevoel’ om vanself terug te keer nie. David McFadden, ‘n verhoudingsterapeut van Illinois skryf op Huffingtonpost.com dat dit tyd neem om die verliefde gevoel terug te kry. “… Verlaag jou verwagtinge en vra jouself: ‘Wat gaan dit verg van my om selfs net weer van my maat te hóú?” Soms is daar ‘n proses van vergifnis wat eers moet plaasvind voor julle weer op die regte pad kan kom.
  6. Moenie die waarde van seks onderskat nie. Nee, seks is nie so oppervlakkig soos wat jy dink nie en as jul huwelik vervelig voel, is die kanse goed dat slaapkamersake nie die laaste tyd hoog op jul prioriteitslysie was nie. Maak seks intensioneel. Seks is ‘n weg na intimiteit. Aanraking bou liefde en vertroue. Dit is ook waarom dit soms so moeilik is om toenadering te soek wanneer jy emosioneel verwyderd voel van jou maat. Maar aanraking stel oksitosien vry wat ‘n paartjie meer gekonnekteerd en ontspanne laat voel.

Dis só belangrik om bedag te wees op die biologiese werkinge van die fases van ‘n huwelik vóór jy trou. Só kan jy voorbereid wees op die ‘gevoelens’ wat jy mettertyd sal beleef en hoe om hierdie gevoelens te bestuur. Vir sommige mense is dié gedagte onromanties. Dit hoef nie te wees nie! Ja, jy moet aan jou huwelik werk, maar jy kan dit doen op prettige en baie romantiese maniere… maak dit deel van jul dag-tot-dag lewe en dit sal die trant van jul huwelik word, sonder dat julle later daaroor sal hoef te dink. Onthou, liefde is inderdaad ‘n wilsbesluit.