Wanneer twee mense ’n huis, kinders en ’n lewe deel, gebeur dit baie maklik dat ’n wanbalans ontstaan. Só ’n wanbalans kan ook gou wrokkige gevoelens teweegbring. Sorg dus dat jul verhouding gebalanseerd is.
Ons word nogal só grootgemaak: “Pappa werk hard en verdien die geld, wat ons mooi moet bestee. Mamma maak die kos en werk dalk, maar nie so hard nie. Wanneer pappa ’n besluit neem, moet ons almal só maak – want hy is die man. Wanneer pappa wil gaan jag of saam met sy vriende gaan gholf speel, dan kyk mamma na ons. Pappa is die Superman in die huis.” Is dit hoe jul kinders julle sien?
Die realiteit oor jare wys egter dat mense wat vir lank gelukkig in verhoudings is, gewoonlik dié is waarin daar twee gelyke huweliksmaats is – nie een wat doelbewus of kunsmatig bo die ander verhef is nie.
Die eienskappe van ’n gelyke verhouding is:
- Julle ken mekaar goed en aanvaar mekaar se swak punte.
Elkeen wend ’n doelbewuste poging aan om die ander een te akkommodeer (dit is nooit eensydig nie). Julle ken die waarde van onderhandeling en tref ’n kompromie oor gedeelde take, behoeftes, tyd en geld. Julle geniet ook mekaar se verskille en swak punte in sommige opsigte (soos fisiek).
- Albei doen ewe veel moeite met klein gebare van ondersteuning en liefde teenoor mekaar.
Julle doen byvoorbeeld ewe veel moeite om mekaar se liefdestale te leer ken en julle doen moeite om dit te “praat”. Julle doen albei soms moeite met bederfies vir die ander een, verras mekaar soms – sommer net, help met verantwoordelikhede sonder dat die ander een daarvoor hoef te vra. En julle wys albei dikwels waardering teenoor die ander een – vir wie hulle is, die dinge wat hulle doen en vir hoe hulle fisiek voorkom.
- Julle kan aanpas by mekaar se seksuele behoeftes.
Albei gaan nie altyd ewe lus wees vir seks nie (al laat die media dit so klink). Gelyke maats kan met mekaar praat oor hoe om mekaar se behoeftes in ag te neem en verstaan.
- Julle kan verskillende menings hê en julle kan van mekaar verskil sonder om mekaar te probeer oortuig.
Julle het respek vir mekaar se behoeftes, menings en waardes. Julle verskille oor onderwerpe doen nie skade aan die kern van jul verhouding nie, al stem julle nie saam oor alles nie!
- Julle doen albei ewe veel moeite om te leer hoe om konstruktief met mekaar te kommunikeer.
Albei verstaan dat konstruktiewe kommunikasie tot beter begrip en nabyheid lei, en elkeen van julle doen moeite om te leer om konstruktief te kommunikeer. Dit verg ook introspeksie en weet wanneer jy die keer nie so akkuraat gekommunikeer het nie. Elkeen van julle kan na jou maat luister, en kan julle gedrag en kommunikasiestyl verander as dit nodig is.
- Julle kan take verdeel volgens elkeen se sterktes en voorkeure, eerder as volgens voorafopgestelde idees of 50/50!
As jy goed is met somme en beplanning, is dit wonderlik dat jy die begroting hanteer. Hy is dalk weer lief vir stories lees, en sit die kinders in die bed en lees vir hulle stories. Hy hou daarvan om kos te maak – dan doen hy dit die meeste van die tyd terwyl jy die kinders help met hulle skoolwerk, want jy is weer vreeslik geduldig. Jy studeer weer en moet ’n taak inhandig, so hy was die wasgoed hierdie week.
- Julle kan duur aankope openlik met mekaar bespreek.
Min dinge wek soveel wrewel op as om agter te kom jou maat het agter jou rug baie van julle hardverdiende geld bestee sonder om jou in die saak te ken. Dit gaan nie daaroor dat jy jou maat se toestemming hoef te vra nie – dit gaan eerder oor ’n soort respek en raaksien van die ander persoon as ’n vennoot deur jou behoefte om die geld te bestee met hom/haar te deel.
- Julle kan beurte maak om groot behoeftes te bevredig – sonder om wrokke teenoor mekaar te hê.
Julle maak beurte met manne- en vroue-aande, waar julle vakansie gaan hou, by wie se familie julle Kersfees deurbring.
- Julle probeer begrip hê vir mekaar se verskille as dit kom by jul behoeftes in jul verhoudings met jul kinders, familie en vriende.
Sommige mense doen baie moeite daarmee om byvoorbeeld kontak te hou met volwasse kinders. Hoe beter jou maat hierdie behoefte verstaan en jou dit gun, hoe beter vir jul verhouding. Soms het een party van ’n paartjie ’n baie hegte verhouding met ’n familielid en het hy/sy ’n behoefte daaraan om soms alleentyd saam met daardie familielid deur te bring. Dit geld ook in saamgestelde gesinne, waar een ouer ’n behoefte kan hê om alleentyd saam met hul eie kinders te hê. Hoe makliker jy dit kan verstaan en dit vir jou maat kan gun, hoe beter vir julle.
- Julle kan mekaar ewe veel persoonlike sukses, groei en plesier gun.
Een van julle wil dalk ’n ekstra kwalifikasie kry of op ’n naweekwegbreek vir persoonlike groei gaan. Soms moet die een wat nie wil saamgaan nie, gegun word om te kan sê: “Nee dankie, ek hou nie van snorkel nie. Gaan jy gerus saam met jou familie weg vir die naweek!”
Dit is ’n paar basiese eienskappe van ’n verhouding waarin mense in ’n gelyke “vennootskap” langs mekaar kan funksioneer. Langs mekaar – nie een bo en die ander onder nie. Wat sê jou instink – hoeveel van hierdie eienskappe het julle verhouding?
Indien dinge ’n bietjie ongebalanseerd lyk, is dit tyd vir ’n ernstige couples-vergadering. Bespreek jul bekommernisse met mekaar en stel ’n plan op vir hoe om weer die harmonie in jul verhouding te herstel.
Deur Wilmé Steenekamp