Geluk lê in die gee – deur Retief Burger
In ons gang hang ’n baie spesiale foto. ’n Foto wat net op die regte tyd geneem is. ’n Foto wat een van die gelukkigste oomblikke in my lewe vasgevang het. Dit is geneem enkele sekondes ná ek en Isabel as wettig getroud verklaar is!
Ek het my hande in die lug gegooi en uitbundig geskreeu sodat my gelukskreet ver deur die bloekombos waar ons ewig trou beloof het, weergalm het. As ek na die “gelukkig-wees-meter” in my lewe kyk, dan kan ek met sekerheid sê dat my troudag uitstaan. Ek het immers 35 jaar lank daarvoor gewag!
Ek onthou ook die dag toe ons ’n jaar getroud was en vir mekaar gesê het dat ons nog nooit so baie in ons lewens gelag het soos in daardie eerste jaar nie. Ons glo dat die huwelik regtig groot pret kan wees as ons kies om op die positiewe te fokus. Let wel, die woord “kies”. Nou moet jy verstaan dat ek ook soms baie ernstig oor die lewe kan wees – só erg dat my vriende my destyds “Ernst” genoem het.
Ek het deur die jare geleer om meer genade vir myself en ander te hê, meer te lag, die sonskyn in te drink en môre se bekommernisse daar te los. Daarom hou ons twee baie daarvan om soms net laf te wees. Ons glo dat ’n gelukkige huwelik ’n lag-huwelik moet wees. En dit moet ook ’n gee-huwelik wees.
“Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: ‘Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang,’” sê Handelinge 20:35. Geluk in die huwelik is in die gee, nie die ontvang nie. Die gee van woorde wat opbou en dade wat dien.
As ek begin ontevrede raak in my huwelik en dinge krap, kan ek maar vir seker weet dat ek ophou gee het en agteroor sit en wag dat Isabel my moet dien. Die oomblik wanneer ek egter my selfsug los en haar weer begin dien, swaai my gemoed sommer om en blom die liefde.
Dit is maklik om mekaar se foute uit te wys en mekaar met ons woorde af te breek, maar genade en ware liefde strek verby die foute en lê sy eie lewe neer. Dit is wat Jesus ons kom leer het en omdat ek Hom volg, wil ek meer en meer soos Hy liefhê. Dit is waar ware geluk lê.
Die krag van positiewe woorde en dade – deur Isabel Burger
Een van die snaaksste oomblikke in my en Retief se huwelik was toe ons op ons wittebrood in die middel van ’n eiland met ons bromponies in die modder vasgesit het, heeltemal verdwaal terwyl dit al besig was om donker te word, my een plakkie gebreek, en ons ontdek het ek is oortrek van olifantluise (ons het pas olifante bloots gery). Ek dink dit was seker een van die top tien mees histeriese lag-oomblikke in ons huwelik!
Dit kon egter net sowel totaal anders gewees het. Daar is ’n baie fyn lyn tussen ’n totale ineenstorting en hierdie baie humoristiese blik op ons omstandighede. ’n Mens kan seker redeneer dat ons op ons wittebrood nog in die rooskleurige fase van ons huwelik was, maar dit gaan maar eintlik alles oor ’n mens se hartsingesteldheid.
Ek het al so baie vroue hoor sê: “My huwelik maak my nie gelukkig nie.” Die waarheid is egter dat jou huwelik jou nie gelukkig kan maak nie, maar dat jy jou huwelik gelukkig kan maak!
Ons almal weet die realiteit van die huwelik is nie altyd so eenvoudig of maklik nie, veral as kinders bygevoeg word en dit soms voel of al vier wiele besig is om gelyk af te kom.
Kom ons kies egter om ’n positiewe hartsingesteldheid op ons huwelike te hê, om die humor in sulke situasies raak te sien, die beste in mekaar uit te bring en – wanneer almal weer hergroepeer het – te fokus op dit wat ons huweliksmaats se bekers volmaak.
Wanneer ons kies om die humor en die positiewe van die sakke sout, wat alle huwelike een of ander tyd teëkom, saam raak te sien, word daardie moeilike tye dikwels ’n baie goeie herinnering waaroor ’n mens later vir nog lank saam kan lag.
Ek en Retief het onlangs ’n huwelikswerkswinkel bygewoon en dit was vir ons baie interessant om mekaar se persoonlikhede beter te leer verstaan. Ons het besef dit is eers wanneer ons die verskille in mekaar se persoonlikhede begin aanvaar en respekteer, in plaas daarvan om mekaar te probeer verander, dat ons kan begin om dinge wat ons voorheen sou frustreer of kwaad vir mekaar sou maak, lagwekkend te vind.
Ek glo ’n gelukkige huwelik gaan hieroor: Om te fokus op dit wat vir jou maat lekker is en nie jou huwelik met ander huwelike, of jou man met ander mans, te vergelyk nie. Om avonture saam te beplan, aan te pak en goeie herinneringe te maak. (Die Burgers is baie lief vir nuwe avonture!) Om te kies om nooit met mekaar op te gee nie, maak nie saak hoe groot die sak sout is nie. Om saam laf te wees en baie te lag, te kies om die positiewe van moeilike situasies raak te sien en om altyd lewe te spreek oor jou huwelik.