“Hoekom het mans altyd op die onmoontlike tyd van drieuur en vieruur in die oggend ’n Jakob Regop – al het ons die vorige aand seks gehad?”
Dr Ettienne Kok, ’n mediese dokter, seksuoloog, psigoterapeut en huweliksberader, sê:
Dit is heeltemal normaal vir enige seun of man om ereksies gedurende die nag te kry, en ook om met ’n vroegoggend-ereksie (“morning glory”) wakker te word. Dit is deel van ’n man se slaappatroon en gebeur tydens REM (Rapid Eye Movement) slaap van die wieg (eintlik reeds in die baarmoeder) tot die graf!
’n Mens het ’n paar opeenvolgende slaapsiklusse elke nag, wat wissel in lengte of duur. Die nie-REM gedeelte van slaap word in stadiums ingedeel en ’n mens slaap in elke stadium al dieper, tot jy uiteindelik in REM-slaap is. Die REM-slaap-gedeelte word met elke slaapsiklus langer en kan wissel van tien minute in die eerste siklus tot so lank as 60 minute in die laaste slaapsiklus. Tydens REM-slaap is die slaap ’n bietjie ligter, versnel die hartspoed en asemhalingstempo, en kan ’n mens ook intense drome ervaar.
Mans kry ook as deel van REM-slaap spontane ereksies. Hierdie ereksies sal daarom ook in duur en gehalte wissel na gelang van die REM-slaap. As ’n man byvoorbeeld in die oggend wakker word met ’n ereksie, is dit nie omdat hy ’n vol blaas het nie, maar omdat hy direk uit REM-slaap wakker geword het. REM-slaap-ereksies is baie afhanklik van die testosteroonvlakke in die bloed.
Testosteroonafskeiding in die bloed gebeur ook in siklusse en ’n man se testosteroonvlakke is altyd vroegoggend op hulle hoogste, wat nog verder bydra tot hierdie REM-slaap-ereksies. Aan die ander kant kan mans met ’n lae testosteroonvlak (testosteroontekort-sindroom, TDS of hipogonodisme) minder en swakker REM-slaap-ereksies kry. Depressie kan ook hierdie REM-slaap-ereksies onderdruk.
As ’n man se bloedvate na sy penis vernou is as gevolg van die skade wat sigaretrook en siektetoestande soos hoë bloeddruk (hipertensie), hoë cholesterol en diabetes veroorsaak, sal hy nie net sukkel met ereksies wanneer hy dit wil hê nie, maar ook swakker en minder en uiteindelik geen nagtelike ereksies meer kry nie. Dit is mos dieselfde senuwees, bloedvate en hormone wat ’n ereksie op aanvraag bewerkstellig as dié van REM-slaap.
Daarom is daar ’n toets vir veral jonger mans wat kla van erkesieprobleme, deur vir hulle te vra of hulle nog nagtelike ereksies kry. Sou hulle hierop positief antwoord, maar sukkel om met hulself of ’n maat bewustelik ’n ereksie te kry, dan weet ons die oorsaak vir hulle ereksieprobleem is heel moontlik emosioneel, sielkundig of vanweë verhoudingsprobleme.
Mans wat ongereeld ejakuleer of ’n hoë testosteroonvlak het (veral tieners en jongmense) kan tydens REM-slaap spontane en ongevraagde seksuele drome ervaar, wat met ’n saadstorting (ejakulasie) gepaard kan gaan. Hierdie “nat drome” (nagtelike emissies), wat baie onvoorspelbaar en wisselvallig is, is dan ook heeltemal normaal.
Jou man se ereksies drieuur of vieruur in die oggend is dus heeltemal normaal en nie afhanklik van wanneer laas hy seks gehad het nie. Elke ereksie hoef natuurlik ook nie gebruik te word nie! Kenners beweer dat hierdie REM-slaapereksies dalk daar is om die penis in oefening te hou en die weefsel van suurstofryke bloed te voorsien.