Ons almal is bekend met die woorde “vasvat”, “vasstaan” en “vasbyt”, maar die woord “vas” op sy eie is ’n uitdaging vir die meeste van ons!
Ek wil jou graag so prakties as moontlik wys dat vas vir jou en jou huwelik werklik groot vrug kan afwerp. Die Bybel is vol van verhale waar mense soos ek en jy hierdie uitdaging om te vas ter harte geneem het en mooi getuienisse kon lewer weens hierdie aksie.
“Vas” is ’n term wat gebruik word om iets belangriks, noodsaaklik of naby jou op te offer, om jou vlees te dwing om homself te onderwerp aan iets of iemand baie groter as jyself, of om jouself te verneder. As Christene vas, gee ons iets op voor die Here om aan Hom te wys dat Hy belangriker is as die sny koek, gebraaide vleis of enige aksie in ons lewens wat ons opgee wanneer ons vas.
Wanneer ek vas, onderwerp ek my vlees aan die Here en verklaar ek daardeur dat ek meer afhanklik is van Hom in my lewe as van enige fisiese behoefte of begeerte! Dis ’n mond vol, ek weet, maar hierdie saak van vas in jou en my huwelik is só belangrik en dit werp nog daarby baie goeie vrugte af!
In die Bybel was vas in tye van oorlog of met die begin van oorloë gebruik, wanneer iemand genesing nodig gehad het, vergifnis gesoek het, wanneer hy voor gevaar gestaan het of God se wil oor sy lewe gesoek het.
Die feit dat jy nou hierdie artikel lees, het dalk meer van ’n doel as wat jy self besef! Die vraag is: Hoe kan ek vas, en hoe doen ek dit prakties? Ek gaan vir jou ’n paar idees gee, en vertrou dat jy en jou geliefde saam die bul by die horings gaan pak en sien hoe die Here op Sy unieke wyse vir julle gaan deurkom!
- Vas is vir niemand se ore bedoel nie. Die Bybel is nogal ernstig oor dit. Om jou skoonma en vriende te skakel en uit te blaker dat julle nou vas en honger ly vir die Koning, is verseker nie die manier nie! Om uitlatings te maak dat tót die tafel se pote lekker lyk, is natuurlik nie nodig nie. Dis tussen jou en jou geliefde wat die Here vertrou – anders verloor jy jou loon!
- Dit is belangrik om ’n vas te beplan. Om te besluit om te vas op ’n naweek wanneer familielede saam braai, is nie wys nie. Jy gaan heel moontlik die braaier aanval, al die kos self verslind en daarna skuldig voel. Maak julle dagboeke oop en kyk dat funksies nie in die pad kom nie.
- Dit is nodig om te besef dat vas ’n tyd van afsondering is. Onthou, wanneer jy vas sonder gebed, noem ek dit ’n heilige dieet. Jip, jy gaan gewigsverlies beleef, maar dis al! Onthou, jou doel is deurbrake en nie gewigsverlies nie.
- Besef dat vas nie net met kos te make het nie. Dalk moet jy jou biertjie opgee, jou glas Coke opoffer, dalk vas van jou koppie koffie of 7de Laan laat verbygaan. Dalk moet jy jou TV vir die week opoffer of boek lees eenkant toe skuif, en in jou Bybel verlore raak! Hulle sê: “Wanneer jy brandewyn vat, dan vat hy jou!” Net só: Wanneer jy die Woord vat, dan vat die Woord jou! Aanvaar hierdie uitdaging sommer nou, maak die opoffering en sien hoe deurbrake julle deelagtig kan word.
- Vas indien die situasie dit verlang. Om net te vas, is goed, maar wanneer jy vas vir ’n doel, sal jy deurbrake beleef wat getuienis en vreugde losmaak waaroor almal en jy inkluis gaan bly wees.
Onthou, vas bring voordele. ’n Goeie vriend het hierdie woorde aangehaal: “Hoe kan ’n mens saam loop as jy nie saam kan sien nie?” Huwelike is onder ’n aanslag en baie beleef die inwerking van bose magte op verskeie vlakke.
Toe ek en Elmien ons voete neersit en die besluit neem om te vas en te bid oor situasies, en entiteite wat die oorhand oor ons lewens gehad het met vas en gebed konfronteer, het op verskeie vlakke van ons lewens die mooiste begin gebeur.
Ons was meer ’n eenheid as vantevore, ons was meer geestelik ingestel as op die druk van die dag-tot-dag gebeure, ons het meer blydskap en koestering beleef, en ja, die situasie waarin ons was, het nie noodwendig verdwyn nie . . . dit het wel vrede gebring wat ons verstand glad nie kon verstaan nie. Ons het later besef dat die Here ons deurgedra het, vir ons voorsien het en ons pad kom gelykmaak het.
Ek wil jou vandag uitdaag om hierdie stappe prakties uit te voer. Besluit om van iets te vas en ook saam te bid, en saam te sien hoe jou situasie op ’n bomenslike manier kan verander. Vas verander lewens, vas verander situasies en om te vas, maak dat jy en jou huwelik enige uitdaging kan oorwin!
Deur Stephen Claassens